"Vra vir hulp. Dit is OK om dit te doen, selfs al dink jy dat jy nou sogenaamd volwasse is en dus op jou eie dinge te behoort te moet hanteer." Dis, in 'n neutedop, wat medeprofessor Jason Bantjes van die Instituut vir Gesondheidsnavorsing oor die Lewensloop in die Universiteit Stellenbosch se Departement van Globale Gesondheid graag wil hê meer jongmense, en veral studente, moet hoor, waardeer en ter harte neem oor geestesgesondheid.
“Daar is hierdie idee dat jy volwassenheid bereik as jy onafhanklik word, en dat onafhanklikheid beteken dat jy nie om hulp vra nie, al sukkel jy miskien akademies of met depressie of angs. Al wat eintlik gebeur is dat dit dikwels keer dat studente toegang tot sorg kry, totdat daar 'n krisis is, totdat dit te laat is. Ons moet op 'n manier interafhanklikheid aanmoedig, dat dit OK is om hulp te vra, selfs as mens 'n volwassene ouderdom bereik het."
Dan voeg die voorligtingsielkundige, wat in Durban grootgeword het by: “Ons moet uitwerk hoe ons meer studente kan bereik. Ons moet die behoefte aan sorg erken, en die hele idee van hulp en versorging destigmatiseer."
Tesame met werk oor sport binne die konteks van gestremdheid is 'n groot deel van sy werk gemoeid met die welstand van jong volwassenes en selfdoodvoorkoming.
Die oorgang van hoërskool na universiteit of 'n ander na-matriekinstelling is 'n belangrike oorgangsfase en aanpassingsperiode vir jongmense, aangesien hulle wegbeweeg uit die geborgenheid van hul huisgesinne na die groot onbekende. Prof. Bantjes sê daarom dat dit belangrik is dat ouers 'n balans probeer vind tussen hoe om hul kinders se eie onafhanklik in die wêreld te bevorder, terwyl hulle steeds in kontak met hulle bly en bedag is op hul welstand.
Hy verduidelik: “Rondom adolessensie en jong volwassenheid kom die meeste geestesgesondheidsprobleme dikwels na vore kom, indien dit sou opduik. Die uitvalsyfer onder eerstejaars is ook hoog, en baie bereik nooit hul tweede jaar nie."
'n WGO-wêreldwye inisiatief vir internasionale geestesgesondheid (WMH-ICS) waarvan hy sedert 2016 deel is, het onlangs in 'n nasionale opname vir geestesgesondheid vir studente data versamel onder 80 000 studente op 22 Suid-Afrikaanse universiteitskampusse. Die opname is onlangs voltooi. Dit beloof om nuttige insigte te gee in die geestesgesondheidsorgbehoeftes van die land se studente. Dit is belangrik, veral gegewe vorige navorsing dat ongeveer 30% van studente probleme daarmee ervaar.
“Al is dit nie die meerderheid studente nie, is dit steeds 'n aansienlike groot persentasie. Selfs meer kommerwekkend is dat ons navorsing toon dat slegs ongeveer 'n derde van studente met geestesgesondheidsprobleme die nodige hulp kry. Dit is terselfdertyd interessant en kommerwekkend."
Hy hoop dat die navorsing wat hy doen met vrug gebruik sal word deur universiteite en ander na-matriekinstellings in Suid-Afrika wat strategies wil beplan en besin oor die ondersteuning van die geestesgesondheid van hul studentekorps.
'Wat behandelings betref, moet ons studente 'n spyskaart met verskillende opsies kan bied. Ons sal nooit alle studente met geestesgesondheidsprobleme bereik as ons hou by die tradisionele model van een-tot-een sessies terapie wat oor weke of maande strek nie. Dit gaan nooit werk nie. En daarbenewens spreek sulke benaderings tot behandeling nie tot sommige jongmense nie," sê prof. Bantjes, wie se navorsing ondersteun word deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se (MNR) se mid-loopbaanprogram vir wetenskaplikes. “Groepsintervensies en e-intervensies is 'n paar maniere waarop ons almal kan bereik wat hulp nodig het."
Opsies soos intervensies tussen mense van dieselfde ouderdomme (sogenaamde “peer-to-peer" intervensie) wat voorheen goed op kampusse gewerk in terme van MIV-verwante kwessies, kan ook oorweeg word.
“Dis belangrik om mense by die regte intervensie te kry, en by tipes wat aanvaarbaar is vir Suid-Afrikaanse studente, wat kultureel toepaslik is en ingelig word deur die werklike situasies van ons jongmense. Ons kan nie net oplossings van ander plekke af invoer sonder om studente te raadpleeg en hul insette daaroor te kry nie. Dit is 'n wonderlike proses van samewerking, "sê prof. Bantjes, wat reken Suid-Afrikaanse studente is ook meer oop vir alternatiewe versorgingsopsies soos die gebruik van tradisionele genesers, ingrypings gebaseer op bewustheid en digitale oplossings.
Die gesprek met prof. Bantjes vind heel toevallig rondom die Wêrelddag vir Geestesgesondheid plaas. Vroeër die oggend is sy artikel met die uitdagende titel "There's an app for that: mental health treatment has come a long way since the days of lobotomies" op The Daily Maverick-webwerf gepubliseer.
Selfs voor COVID-19 het tegnologie toenemend mense se toegang tot geestesgesondheidsorg verhoog. Verwante navorsingsprojekte waaraan prof. Bantjes werk, sluit in 'n loodsstudie oor die doeltreffendheid van 'n internetgebaseerde intervensieprogram wat oor tien weke strek, en 'n selfgerigte behandelingsprogram vir studente met depressie. 'n Studie oor studente se reaksie op die gebruik van toepassings (“apps") om geestesgesondheid te ondersteun is in die vooruitsig.
Prof. Bantjes waarsku egter dat die gebruik van tegnologie nooit moet ontmenslik nie.
"Tegnologie kan nuttig wees om tesame met in persoon terapiesessies te gebruik om moontlike terugvalle te voorkom en om pasiënte se na-herstel te ondersteun," sê hy. “Ons moet uitvind hoe ons 'n menslike verhouding en kontak kan behou, maar tog die voordele van tegnologie kan benut. Dit is 'n uitdaging."
Hy is al geruime tyd lid van die Instituut vir Gesondheidsnavorsing oor die Lewensloop in die Departement Globale Gesondheid aan die US. Binnekort sal hy ook kantore skuif vanaf die lowergroen strate van Stellenbosch en die Departement Sielkunde na 'n kantoor op die Tygerberg-kampus, sodat hy 'n meer navorsingsgerigte posisie kan inneem. Dit sal hom die geleentheid gee om na maniere hoe geestesgesondheid deur verskillende lewensfases heen bevorder kan word.
“Die geleentheid vir navorsing en onderrig was deel van die aanloklikheid om by 'n universiteit aan te sluit. Dis 'n lekkerte om te kan klasgee terwyl ek ook ondersoek instel na dinge," verklap prof. Bantjes, wat 'n gereelde skrywer is van wetenskaplike en populêre artikels oor geestesgesondheidskwessies.
Op die vraag oor hoe hy besluit het om 'n sielkundige te word, noem hy dit het “per ongeluk" gebeur. Die saak is egter geensins so eenvoudig nie.
In die negentigerjare het hy wiskunde en ekonomie aan twee seunskole in KwaZulu-Natal onderrig, voordat hy later in dieselfde dekade sy visier daarop gestel het om 'n dokter te word.
Tydens sy mediese studies het sy sig egter begin verswak. Hy het geleer dat hy ongeneeslike makulêre degenerasie het. As gevolg van skade aan sy retina, het dit verlies in sy gesigsveld begin veroorsaak.
"Toe ek besef dat ek nie as dokter sou kon werk nie, omdat ek nie genoeg detail sou kon sien om te kan praktiseer nie, het ek oorgeslaan na sielkunde. Dis tog, soos onderwys en medisyne, ook 'n sogenaamde helpende beroep," verduidelik hy skrams die intriges van wat op daardie stadium 'n groot ingryping in sy lewe was.
Hy mag nie bestuur nie, sukkel om gesigte uit te ken en gebruik aangepaste tegnologieë om tekste op papier te lees. Hy laat hom egter nie deur sy gesigsprobleme inperk nie. In die week voor ons onderhoud het hy in die Tsitsikamma-woud gaan stap.
Stap, tesame met gereelde joga-oefening, help hom om te ontspan te midde van sy daaglikse werk oor die geestesgesondheidsprobleme van jongmense, die welstand van Paralimpiese atlete en die uitdagings en stereotipering rondom sport en ontspanning vir gestremdes.
"Ek is geïnteresseerd in hoe beweging en georganiseerde sport gebruik kan word om gesondheid te bevorder, maar ook mense insluit of uitsluit, hoe dit stereotipes verstewig en weerspieël wat in die breër samelewing gebeur."
Hy ag homself gelukkig om in 'n akademiese omgewing vervulling te kan vind, eers as onderwyser en deesdae toenemend as navorser.
“Een ding wat ek in die volgende paar jaar wil regkry is om meer bewustheid te kweek van akademiese bekwaamheid en hoe gestremdes uit akademiese posisies gehou word. Mens kom nog steeds min mense met gestremdhede op universiteite teë. Dit is iets waaraan die meeste universiteite, waaronder die Universiteit Stellenbosch, meer aandag moet gee as deel van die belangrike transformasieproses. "
Vir die volgende paar weke stel ons u voor aan navorsers van die US wat in die jongste uitgawe van Research at Stellenbosch University. verskyn.