Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boekvrystelling: Reaksie op die nodigheid vir verandering: Hoëronderwysstemme uit die Suide tydens die Covid-19-krisis
Outeur: Nicoline Herman
Gepubliseer: 03/03/2021

Boekvrystelling deur die Afdeling Leer- en Onderrigverryking

Reaksie op die nodigheid vir verandering: Hoëronderwysstemme uit die Suide tydens die Covid-19-krisis

Tydens die laaste sessie van die Universiteit Stellenbosch se virtuele konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) 2020 het dr Antoinette van der Merwe (Senior Direkteur: Leer- en Onderrigverryking) die afgevaardigdes bekendgestel aan 'n boek wat pas aanlyn vrygestel is met die titel Responding to the necessity for change: Higher Education voices from the South during the COVID-19 crisis. Drs Sonja Strydom, Nicoline Herman en Hanelie Adendorff en me Mine de Klerk van die Sentrum vir Leertegnologie (SLT) en die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) is die redakteurs.

Die onderskeie hoofstukke is bygedra deur professionele akademiese steunpersoneel en dosente wat hulle ervarings van opvoedkundige uitdagings en geleenthede tydens die eerste semester van die Covid-19-tydperk beskryf. Die boek wil eerlike, oorwoë insigte verskaf in die akademiese en praktiese aktiwiteite van 'n deel van die personeelkorps wat in hierdie tydperk van nood- aanlyn leer (NAL) by die deurlopende ondersteuning van gesonde onderrig-, leer- en assesseringspraktyke (OLA-praktyke) betrokke was. Die skrywers is opgewonde oor die lesse wat geleer is, maar is ook daarop ingestel om voort te bou op die geleenthede vir verandering en verdere kritiese oordenking wat uitgewys is.

Die skrywers is gevra om hulle gekontekstualiseerde ervarings tydens die eerste semester in oënskou te neem aan die hand van die volgende vrae (gegrond op die raamwerk van Rolfe, Freshwater en Jasper, 2001): Wat? Wat daarvan? en Wat nou? Daar is ook voorgestel dat die skrywers hulle bydraes met die raamwerk vir die Ontwerp van Leer, Onderrig en Assessering (Eng. DeLTA) belyn. Die SOL het dié raamwerk opgestel volgens hulle mandaat om dosente in hulle onderrigfunksie te ondersteun. “DeLTA" is nie net die Engelse akroniem vir die benaming van hierdie proses en raamwerk nie; “DeLTA" is ook die benaming vir die wiskundige simbool vir verandering (Δ).

Twee oorkoepelende temas blyk deurlopend uit al die hoofstukke. Eerstens kom 'n nuut geformuleerde idee van verandering na vore – van bloot 'n ontwrigting tot 'n uitnodiging om volgens ontluikende en onthutsende toestande in die konteks van OLA aan te pas en daarop te reageer. Elke hoofstuk toon hoe die Covid-19-krisis op die een of ander wyse 'n nodige verandering meegebring het; hetsy dit as 'n nuwe perspektief, 'n ontwikkelde professionele praktyk of die ingebruikneming van 'n nuwe OLA-benadering gemanifesteer het.

Tweedens onderstut die idee van 'sorg' die narratief van feitlik elke hoofstuk. Die skrywers vertel van samewerkende en herhalende prosesse op soek na nuwe en praktiese oplossings in die NAL-tydperk, terwyl hulle terselfdertyd probeer verseker het dat hulle op gesonde pedagogiese beginsels en deernis vir eweknieë, studente en hulself ingestel bly.

Institusionele rolspelers wat voor die pandemie dalk nie nóú saamgewerk het nie beskyf hoe hulle al meer op mekaar se professionele kundigheid en kennisgebiede moes begin staatmaak. Hulle moes na talle mense luister en groter aandag aan ander personeellede en studente se belewenisse skenk ten einde die ingebruikneming van praktiese oplossings op te weeg teen die gemeenskaplike doelwit om die gehalte van die US se akademiese aanbod te handhaaf.

Die hoofstukke onthul gevolglik 'n verhoogde bewussyn van die behoefte aan die US aan 'n professionele benadering tot akademiese steun wat stewig in empatie gegrond is, en aan 'n OLA-filosofie wat die onderrigmetodiek van sorg as voedingsbron het.

Die boek is ingevolge 'n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives 4.0 International License uitgegee en dus vrylik beskikbaar. Klik op die foto van die voorblad hieronder om toegang tot die inhoud te verkry: 
Responding.jpg

Verwysing

Rolfe, G, Freshwater, D & Jasper, M. (2001) Critical reflection in nursing and the helping professions: A user's guide. Basingstoke: Palgrave Macmillan.