Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vyf nuwe afwentelmaatskappye in grendeltyd vir US Enterprises
Outeur: Innovus
Gepubliseer: 05/11/2020

​Gedurende 2020, en ten spyte van grendeltyd het Innovus, die Universiteit Stellenbosch (US) se tegnologie-oordragspan, vyf nuwe afwentelgmaatskappye in die groep verwelkom. Die span het verder R26 miljoen se beleggingsfondse vir US projekte uit hulle virtuele kantore ingesamel.

Die stigting van hierdie maatskappye toon die sosiale impak van 'n navorsingsintensiewe universiteit soos die US. Wanneer wetenskaplike deurbrake kommersieel beskikbaar word, word die voordelige impak daarvan op die samelewing dramaties vergroot.

Die vyf nuwe maatskappye is BioCODE, Phagoflux, Susento, Biotikum, en Immobazyme. Anita Nel, Hoofdirekteur: Innovasie en Besigheidsontwikkeling en Bedryfshoof van  University of Stellenbosch Enterprises (Edms) Bpk (US Enterprises), voorheen bekend as Innovus Tegnologie-oordrag (Edms) Bpk vertel dat die naamverandering  onlangs plaasgevind het om die verwarring van aktiwiteite van Innovus, ʼn afdeling binne die US, te onderskei van die beheermaatskappy waardeur die US aandele in sy groepondernemings besit.

·       BioCODE™

Prof Resia Pretorius, hoof van die US se afdeling Fisiologiese Wetenskappe, en haar span navorsers, ingenieurs en wetenskaplikes het die BioCODE 2-in-1-nanosensor ontwikkel om siekterisiko vroegtydig by pasiënte te identifiseer. BioCode, wat inflammatoriese biomerkervlakke opspoor van slegs ʼn druppel bloed, is klein genoeg om in ʼn geneesheer se spreekkamer te gebruik of deur verpleegsters in mobiele klinieke. BioCODE is ook 'n finalis in die internasionale Falling Walls Breakthrough van die jaar 2020-toekennings in die kategorie vir wetenskaplike jong opkomende maatskappye.

·       Phagoflux™:

Die tegnologie wat Phagoflux bied, beskryf die vermoë om gesondheid en welstand te monitor deur die selfreinigende aktiwiteit (outofagie) van liggaamselle te meet. As selle nie outofagie kan ondergaan nie, bou dit giftige materiaal op en die selle sterf – iets wat in demensie, Alzheimersiekte en onsuksesvolle veroudering plaasvind. Hoë outofagie vertraag veroudering en het lewensverlenging tot gevolg. Die ontdekking van outofagie het die Nobelprys in 2016 verdien. Wetenskaplikes het tot nou toe nog nie daarin kon geslaag om die outofagie-aktiwiteit te monitor nie. Phagoflux het 'n unieke oplossing ontwikkel om hierdie selfreinigingsproses akkuraat te meet, en wil hierdie unieke maatstaf vir sellulêre gesondheid beskikbaar stel. Deur outofagie en die aktiwiteit daarvan met 'n Phagoflux-toestel te monitor, is dit vir die eerste keer moontlik om die uitwerking van lewenstyl, soos oefening en dieet (van kritieke belang om vetsug en diabetes endemies te monitor), akkuraat te kwantifiseer, asook selfs medisyne, soos dié vir neurodegenerasie en kanker.

·       Susento™:

Dr Elsje Pieterse, ʼn senior lektor in die Departement Veekundige Wetenskappe aan die US, dr Michael Woods, medestigter en bedryfshoof en dr Neill Goosen, senior lektor in die Departement Prosesingenieurswese aan die US, het in 2019 Susento bekendgestel in hulle strewe om ʼn volhoubare proteïnbron uit insekte te ontwikkel vir menslike en dierlike verbruik. Die produk is ʼn hoë-gehalte proteïnpoeier wat eetbare produkte aangewend kan word.

·       Biotikum™:

Biotikum Edms (Bpk) is ʼn trots Suid-Afrikaanse maatskappy wat in 2020 deur dr Deon Neveling, Liesel van Emmenes, prof Erick Strauss en US Enterprises (Edms) Bpk op die been gebring is. Biotikum ontwikkel en produseer mikrobiese bymiddels vir die landboubedryf. Mikrobiese bymiddels sluit in gasheer-spesifieke probiotika, mikrobiese kuilvoer- en grond-entstowwe. Mikrobiese bymiddels is omgewingsvriendelike tegnologie wat volhoubare boerderypraktyke voorstaan en winsgrense verbeter. Biotikum bied ook grootskaalse mikrobiese produksiedienste aan verskeie industrieë in Afrika.

·       Immobazyme™:

Immobazyme (Edms) Bpk is gestig deur Dominic Nicholas, Ethan Hunter en Nick Enslin wat ook die uitvinders is, saam met prof Leon Dicks die Departement van Mikrobiologie.. Immobazyme het ʼn nuwe apparaat ontwikkel wat ʼn mikroporeuse sellulosematriks gebruik om ensieme te immobiliseer (en sodoende aktiwiteit te behou) in vitro. Dit kan gebruik word in die organiese sintese van metaboliete soos antibiotika, antidepressante, voedsel bymiddels, en dies meer. Die PepTrap™ kan gebruik word as ʼn apparaat vir behandeling in die drank- en wynbedryf, sowel as ʼn hulpmiddel in watersuiweringstelsels. Die sellulose matriks is biologies afbreekbaar.

Nel sê, behalwe vir hierdie vyf maatskappye, het nog vier Innovus-projekte ʼn totale bedrag van R2 449 476 vanuit die Tegnologie Innoverings Agentskap (TIA) se saadbefondsing ontvang. Die Universiteit Tegnologie Fonds (UTF) se saadbefondsing het ook sowat R3 miljoen belê in twee maatskappye en ʼn derde een word tans ondersoek. Vier SU-projekte het  suksesvol UTF voorsaad-befondsing van Innovus ontvang. Die totale waarde van hierdie belegging is R1 482 550. ʼn Meer gevestigde afwentelmaatskappy het goedkeuring verkry vir ʼn belegging van R14 miljoen. ʼn Belegger het ook ʼn bedrag van R5 miljoen in ʼn jong maatskappy belê wat onlangs opgerig is.

Gemeet aan internasionale standaarde is dit 'n uitstekende prestasie vir Innovus en US Enterprises. Tans is daar 28 aktiewe ondernemings onder US Enterprises in verskillende stadiums van hul lewenssiklusse. Ondanks COVID-19 het verskeie van hierdie maatskappye in 2020 dividende verklaar en betaal.

Vier uitnemendheid

By die jaarlikse Uitvoerende Hoof-toekenningsfunksie wat vandag (Woensdag 4 November 2020) in Stellenbosch gehou is, is die vyf nuwe maatskappye verwelkom as deel van die beheermaatskappy University of Stellenbosch Enterprises, en die prestasies van sommige van die bestaande maatskappye is gevier.

Onder hulle is:

·       Stellenbosch Nanofibre Company (SNC) ™

Tydens grendeltyd het die Stellenbosch Nanofibre Company (SNC) ('n maatskappy wat massaproduksie nanovesel-materiaal vervaardig) herbruikbare maskers begin vervaardig. "Deur nanovesels op poliësterstowwe te spin, het ons gevind dat ons herbruikbare maskers van hoë gehalte kan vervaardig om die eenmalige aspek van chirurgiese maskers teë te werk, wat probleme vir afvalbestuur skep en gesondheids- en omgewingsgevare kan inhou," het SNC se uitvoerende hoof, dr Eugene Smit gesê.

Sedertdien toon SNC aan dat hul filtermedia maklik die doeltreffendheid van deeltjiesfiltrering tussen 98% en 99,8% kan behaal in gestandaardiseerde toetse vir chirurgiese maskers. Die filters het 'n uiters goeie asemhalingseienskappe en kan onderwerp word aan minstens tien ontsmettingsiklusse soos om in kookwater gedompel te word en in die lug te droog, sonder dat dit enige meetbare impak op die filter effektiwiteit sal hê. SNC het 1,2 miljoen maskers oor 'n tydperk van vier maande vervaardig.

·       GeoSmart™

GeoSmart, die onderneming wat oplossings vir geografiese probleme bied deur “buite-die-boks" geospatiale denke met die nuutste tegnologie te kombineer, het betrokke geraak by die TerraClim-inisiatief, 'n navorsingsprojek oor die invloed van klimaatsverandering op die wynbedryf, wat deur Winetech befonds word. GeoSmart is die geesteskind van die geograaf en rekenaarwetenskaplike prof Adriaan van Niekerk, Direkteur: US Sentrum vir Geografiese Analise.

·       Sein Media™

Die afwentelmaatskappy Sein Media het daarin geslaag om tydens grendeltyd inhoud te vervaardig vir KykNet, die Grahamstadse Kunstefees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Kaapstadse Barokfees.

·       SharkSafe™

SharkSafe versperrings, 'n omgewingsvriendelike tegnologie wat magnetiese en visuele stimuli kombineer om haaispesies wat mense as gevaarlik beskou, af te skrik, het die gesogte South32's Lewis Foundation Green Economy-toekenning gewen vir uitmuntende bydraes tot wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie in Suid-Afrika. Die uitvinders van SharkSafe is prof Conrad Matthee, Mike Rutzen, dr Sara Andreotti en dr Craig O'Connell.

·       SUNMagnetics™

SUNMagnetics, 'n sagteware-ontwikkelingsonderneming wat oplossings vir uitleg en verifikasie vir die supergeleier- en kwantum-elektronika-industrie bied, het aangekondig dat hul grootste kliënte, waaronder Microsoft en IBM, wat hierdie maatskappy se produkte vir kwantumrekenaarontwerp gebruik, almal hul lisensies in 2020 hernu het.

·       Unistel Medical Laboratories (UML)™

UML, 'n toegewyde toetssentrum vir mens- en diergenetika, het meer as 35 000 COVID-19-toetse tydens grendeltyd voltooi. 'n Onverwagse ontploffing in verwysings van DNS-toetse van diere het gelei tot die behoefte om meer personeel op ʼn kontrakbasis aan te stel.

·       LaunchLab

Die Universiteit Stellenbosch LaunchLab, wat die afgelope vier jaar as Afrika se top-universiteit-gesteunde inkubator verkies is, het 'n suksesvolle handelsmerk-herontwerp en posisionering voltooi, wat 'n webwerf-herontwerp en die bekendstelling van verskeie groei-inisiatiewe ingesluit het om volhoubare, hoë impak-ondernemings van die Universiteit Stellenbosch en regoor Afrika te skep.