Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bou datawetenskap-vermoë in Afrika
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 02/11/2020

“Suid-Afrika en die vasteland van Afrika kan die res van die wêreld baie leer. Ons is 'n baie jong en intelligente bevolking. Dit is 'n unieke plek waar Datawetenskap gebruik kan word om geleenthede vir Afrika en buite Afrika te skep wat sal help om lewens te verbeter."

Dit was die boodskap van prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur: Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, wat onlangs die geleentheidspreker was by 'n aanlyn praatjie wat deur Universiteit Stellenbosch Internasionaal aangebied is.

Rajaratnam het in sy aanbieding lig gewerp op dít wat die Universiteit Stellenbosch (US) doen om datawetenskapvermoë in Afrika uit te bou en om geleenthede op hierdie gebied vir instellings wêreldwyd te skep.

Hy glo datawetenskap kan regoor die vasteland van Afrika gebruik word op die gebiede van gesondheid, water, landbou, onderwys, klimaat en energied.

“Ons produseer soveel data nou; alles daarvan kan ontleed word om die lewensgehalte van alle burgers wêreldwyd te verbeter. Ons moet ook ons eie data in Afrika versamel en stoor sodat ons dit kan gebruik om ons eie probleme en behoeftes op die vasteland op te los," het Rajaratnam gesê.

Die US het die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke in Julie 2019 bekendgestel met die oogmerk om 'n instelling van wêreldgehalte vir datawetenskap en rekenaardenke in en vir Afrika te wees.

Die skool is hard aan die werk om onkonvensionele benaderings tot onderrig en navorsing in datawetenskap en rekenaardenke wat regoor fakulteite strek, op 'n interdissiplinêre manier by die Universiteit te fasiliteer.

Die skool het vroeër vanjaar die Afrika Datawetenskapakademie (ADSA) gevestig om die skool se doelwit tot uitvoer te bring om menslike kapasiteitsbou in datawetenskap en rekenaardenke by die Universiteit, in Suid-Afrika, regoor Afrika en wêreldwyd te fasiliteer. Die akademie ontwikkel en bied oop kursusse aan deur die skool, asook pasgemaakte kursusse wat vir ons bedryf en akademiese vennote ontwikkel is.

Tot op hede het die skool saam met verskeie hoëronderwys- en internasionale instellings, insluitende Harvard-universiteit en die Massachusetts Instituut vir Tegnologie in die VSA, asook die Verenigde Nasies, gewerk.

Volgens Rajaratnam hoop die skool ook om in die nabye toekoms saam met baie ander instellings op die vasteland en in die res van die wêreld te werk.

Hy het in sy aanbieding gefokus op hoe kunsmatige intelligensie gebruik is om 'n griepagtige virus in Wuhan op te spoor en om gedurende die COVID-19-pandemie sterftes onder kwesbare bevolkings te verminder.

“Sonder datawetenskap sou die pandemie baie erger gewees het. Datawetenskap is in diagnoses, in ontdekking, farmaseutiese ontdekking en in verskeie ander aspekte in die oplossing vir die COVID-19-pandemie gebruik."

Rajaratnam het ook die rol wat die US in die stryd teen die siekte gespeel het, beklemtoon en het genoem hoe US-studente in die aanlyn 2020 Hackathon met innoverende idees vorendag gekom het. Deelnemende studente is uitgedaag om oplossings te ontwikkel wat klein sakeondernemings doeltreffend kon help in die “nuwe normale omgewing" ná COVID-19. Rajaratnam glo dit is 'n goeie voorbeeld van hoe belangrik datawetenskaponderrig is om jongmense in Afrika op te lei om oplossings vir die vasteland te vind.

“Daar is 'n groot aanvraag na datawetenskaplikes in Afrika en regoor die wêreld. Met Afrika se jong en vasberade bevolking is daar baie geleenthede om vorentoe vennootskappe te sluit om probleme in Afrika op te los."

Vir meer inligting oor die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, klik hier.​