Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteite moet rol speel in oproep tot transformasie, gelykheid in SA
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 26/10/2020

Die hoëronderwyssektor kan 'n beduidende rol in die oproepe tot transformasie en gelykheid regoor Suid-Afrika speel.

Dit is die boodskap van prof André Keet, nuut-aangestelde Viserektor van Sosiale Reaksie en Transformasie by die Nelson Mandela-universiteit, wat die geleentheidspreker was by die Universiteit Stellenbosch (US) se 2020 Transformasie-indaba.

Prof Keet, wat tans met navorsing besig om die Transformasiebarometer vir Suid-Afrikaanse Hoër onderwys te verken, het gesê die hoëronderwyssektor het die vermoë om 'n beduidende rol in die oproep tot transformasie en gelykheid regdeur Suid-Afrika te speel.

Keet glo ook universiteite moet wegbeweeg van “gedissiplineerde transformasie" en die “beperkende maatreëls" wat daarmee saamgaan; hulle moet eerder onbeperkte ruimtes skep waar transformasieprosesse en nuwe idees vryelik gevorm kan word.

Daar het die afgelope jaar 'n aantal belangrike veranderinge en prosesse by die US plaasgevind as deel van die instelling se poging om homself te transformeer tot 'n tuiste waar almal gewaardeer, veilig en geliefd is.  

US-personeel en -studente het hierdie veranderinge en prosesse by die 2020 Transformasie-indaba oorweeg en kon ook oor die uitwerking daarvan besin, asook oor hoe naby (of ver) die Universiteit daarvan is om 'n droomtuiste van transformasie te skep, en wat die onmiddellike volgende stappe gaan wees om dit te bereik. Die Transformasie-indabas, wat in 2017 bekendgestel is, het ten doel om die talle uitdagings, kwessies en geleenthede vir veranderinge by hoëronderwysinrigtings aan te spreek.

Vanjaar se indaba is aanlyn aangebied onder leiding van dr Claire Kelly, waarnemende Hoof: Transformasie by die US se Transformasiekantoor.

Volgens Kelly is die indaba 'n “baie belangrike jaarlikse geleentheid", aangesien dit al die Universiteit se belanghebbers die geleentheid bied om bymekaar te kom om oor al die brandende transformasiekwessies op die kampus te besin.

“As 'n transformasiebeampte, is dit vir my baie belangrik dat ons met ons Universiteitsgemeenskap in gesprek tree om te besin oor wat die afgelope jaar rakende transformasiekwessies op kampus na vore gekom het. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die Transformasie-indaba slegs een oomblik is, terwyl ons transformasiewerk steeds regdeur die jaar in ons onderskeie departemente by die Universiteit voortduur," het Kelly gesê.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het in sy verwelkomingstoespraak by die geleentheid gesê die US moet 'n tuiste word waar daar waardigheid vir almal, genesing vir almal, geregtigheid vir almal, vryheid vir almal en gelykheid vir almal is.

“Ek hoop ons kan die visie van 'n tuiste – soos beskryf in ons Transformasieplan volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet en die Handves vir Regte – vertroetel. In ons Transformasieplan praat ons van transformasie as beide kwantitatiewe en kwalitatiewe transformasie. Ons praat ook oor die transformasie van die US en transformasie deur die US. Mag die indaba ons vorentoe neem in die rigting van hierdie visie van die US as 'n tuiste, 'n woning vir al sy inwoners," het Koopman gesê.

Verskeie belanghebbers van die Universiteit het ook by die indaba teruggerapporteer en besin oor die volgende transformasie-onderwerpe:

  • Hoe verseker ons meer deelnemende en deursigtige prosesse by ons Universiteit? Die geval van die vernuwing van die handelsmerk. Aangebied deur Christelle Feyt & Babalwa Gusha.
  • Wilcocks is (amper) nie meer nie. Wat het ons geleer en waarheen nou met visuele regstelling? Aangebied deur Aslam Fataar, Renee Kannemeyer & Khairoonisa Foflonker.
  • Wat het die COVID-19-reaksie ons geleer? Hoe meet ons ons institusionele reaksie op COVID-19? Aangebied deur Nico Koopman & Fadeelah Williams.
  • Die Teen-GGG-werkgroepe het hul finale verslag voorgelê. Waar staan ons nou ten opsigte van GGG op kampus? Aangebied deur Jaco Brink & Yamkela Tyapha.
  • Ons het 'n nuwe Transformasie-KPA vir alle personeel. Wat nou? Aangebied deur Claire Kelly & Bantubonke Louw.
  • Siyakhula is terug. Het ons genoeg kapasiteit om ons visie vir transformasie te lewer? Aangebied deur Katlego Letlonkane.
  • Die formele proses ná 'die artikel' is verby. Het ons dit as 'n Universiteitsgemeenskap opgelos; waarheen nou? Aangebied deur Ronelle Carolissen & Nadine Bowers-Du Toit.

Hierdie onderwerpe is verder bespreek in klein wegbreeksessies, waar die gesprekke opgeneem is. Dit sal in 'n Indaba-verslag saamgevoeg word vir verspreiding vroeg aanstaande jaar.

Klik hier vir meer inligting oor die Transformasiekantoor en die US se transformasiewerk. ​