Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Argiewe kan help om ons tersiêre inrigtings te transformeer
Outeur: Lizabé Lambrechts
Gepubliseer: 26/10/2020

Argiewe, veral musiekargiewe, kan help met kurrikulum-hervorming en transformasie by tersiêre inrigtings, skryf dr Lizabé Lambrechts van die Africa Open Instituut vir Musiek, Narvorsing en Innovasie in ʼn meningsartikels vir Mail & Guardian (23 Oktober 2020).

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Lizabé Lambrechts*

Die tema van Erfenismaand vanjaar was “Vier Suid-Afrika se lewende menslike skatte" en drie vroue, insluitende die musikant Madosini Latozi Mphaleni is vir hul bydraes tot die bewaring van plaaslike kennis en idiome vereer.

Madosini word wyd gevier, tog sluit baie min tersiêre inrigtings in Suid-Afrika haar musiek by hul kurrikulum in. Daar is reeds amper 40 jaar gelede 'n beroep op musiekdepartemente gedoen om krities na hul kurrikulum te kyk, ten einde die breër musieklandskap waarin hul funksioneer, te reflekteer. Maar die meeste departement bly hoofsaaklik gebind aan ideologiese praktyke, waarderaamwerke en konserwatiewe sillabusse wat ontwikkel is om die vorige dispensasie te dien.

Musikoloë Willemien Froneman en Stephanus Muller het onlangs die volgende in Fault Lines: A primer on race, science and society geskryf: “Geïnstitusionaliseerde musiek by Suid-Afrikaanse universiteite aanvaar histories wit kulturele belangstellings as normatief," wat die “omhelsing van 'n kanon en sy samestellende etnosentriese en nieverteenwoordigende praktyke wat 'nie óf prakties of eties verdedigbaar is nie' tot gevolg het." Terwyl sommige departemente meer diverserse musiek by hul kurrikula ingesluit het, redeneer Froneman en Muller dat die integrasie van diversiteit in die sentrale 'tradisie' van Westerse kunsmusiek “nie institusionele verbintenis tot die Westerse kunsmusiek verplaas of aantas nie; dit verhoog dit eerder en dien om sy houvas by tersiêre inrigtings te verstewig."

Suid-Afrikaanse musiekstudies staan nie alleen in hierdie debat nie. In 'n onlangse artikel getiteld Music Theory and the White Racial Frame, redeneer Philip Ewell van Hunter-kollege in New York dat musiekteorie soos dit op die oomblik onderrig word, Westerse notasie, teorie en harmonie as normatief aanneem, terwyl dit die ryk musiekteorieë van Indië, Asië, Suid-Amerika en Afrika ignoreer. Terwyl die byvoeging van swart en vroulike komponiste tot ons handboeke belangrik is, hou hy vol dat dit nie genoeg is nie, aangesien dit steeds die epistemologiese raamwerk waardeur waarde beoordeel word, onaangeraak laat.

Dit is op hierdie gebied van breedvoerige deelname en politieke aksies wat op verandering gerig is, dat argiewe 'n belangrike rol in die epistemiese losmaking en dekolonisering van hoëronderwysinrigtings kan speel. Terwyl ons erken dat argiewe teen 'n stadiger pas werk as wat tans in debatte oor dekolonisering by ons universiteite vereis word, is hierdie temporale koersverskil belangrik ten opsigte van institusionele en kurrikulêre hervorming op die lange duur – hervorming wat nie in “solutionisme" en vinnige oplossings val nie, maar wat verbind is tot die vrae en denke wat in epistemiese losmaking betrokke is.

Die argief is op twee fundamentele maniere by hierdie proses betrokke. Aan die een kant dien dit as bewys van die verlede en kan dit gedekonstrueer word om die stelsels en reëls te onthul wat toegepas is om epistemologiese gesag te handhaaf. Aan die ander kant kan dit gebruik word om alternatiewe strukture en registers te verken deur met nuwe versamelings om te gaan of deur vorige versamelings op nuwe maniere te verken om veelvoudige paradigmas en epistemologieë te bemagtig. Wat beteken dit om met en deur 'n ondersoek van argieflike praktyke te dink? Hoe maak 'n mens dissiplinêre denke los deur hierdie argieflike prosesgebaseerde ondersoeke?

Dit is die tipe vrae wat ons by die Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie vra deur argief-gesentreerde musieknavorsingsprojekte op materiaal wat in die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) by die Universiteit Stellenbosch bewaar word.

DOMUS, wat in 2005 deur Stephanus Muller gevestig is om Suid-Afrikaans musiek te versamel, te bewaar, te beskerm en te bevorder, asook om navorsing oor hierdie onderwerp te bevorder, is gekonsepsualiseer as 'n argief-gesentreerde musieknavorsingsprojek om verandering binne konserwatiewe institusionele ruimtes te weeg te bring deur vorme van epistemiese losmaak te bevorder en geleidelik te institusionaliseer.

Die proses is deur 'n aktiewe uitbreiding van die bestaande argiefversameling van meestal Westerse kunsmusiek ondersteun om jazz, inheemse Afrikamusiek (beide mondelingse gekomponeerde en genoteerde musiek), opera, popmusiek, boeremusiek, klezmer, folkmusiek, rolprente en materiaal van Nuwe Musiek-komponiste in te sluit. Die toenemende diverse versamelings en projekte wat dit die argief in staat gestel het om bekend te stel, het 'n ruimte vir 'n wye spektrum gemeenskappe en musieksoorte in Suid-Afrika geskep wat nie binne die oorheersende paradigmas van die dissipline gehuisves word nie. Dit het gehelp om die traak-my-nieagtigheid waarmee die historiese en kontemporêre universiteit individue en gemeenskappe bejeën het, teen te werk.

Van die instaatstelling van akademiese besprekings en seminare en die organisering van 'n reeks gesprekke oor isiXhosa- en Westerse kunsmusiek tot die opneem van albums en die ondersteuning van avant-garde jazz en populêre musiekkonserte en geleenthede vir nuwe musiekkomponiste, het die projek wat deur DOMUS begin is, strategies opgetree om die akademiese musikale denkbeeld uit te brei, terwyl dit 'n eklektiese versamelingstrategie gevolg het.

Op hierdie manier daag die argief nie net die dissipline en die tipes navorsing en projekte wat deur die dissipline gereguleer word as lewensvatbaar en moontlik deur institusionele strukture soos komitees, kurrikula, riglyne, ens uit nie, maar die uitvoering van hierdie projekte en navorsing begin ander argiefmeganismes benodig vir beheer, besluitneming, beskrywingspraktyke en gebruikerstrategieë.

Terwyl 'n mens kan redeneer dat die argiefgedrewe projekte by DOMUS nog nie met die volle potensiaal van alternatiewe maniere van weet omgegaan het nie, kan die druk vir sistemiese verandering en die hervorming van bo-na-onder institusionele bestuurstelsels die rigting aandui van hoe argiewe en hul kurators 'n rol kan speel om ons hoëronderwysinrigtings te transformeer. Dit is deur aktiewe argivarisse wat verbind is tot die taak van dekolonisering deur hul praktyke voortdurend te beoordeel en materiaal in tandem met in-diepte en kritiese navorsing te versamel dat ons institusionele deure vir diversiteit en verandering asook vir ander maniere van die skep van kennis geopen sal word.  

Deur stadiger epistemiese verandering wat voortgedryf word deur argiefprosesgebaseerde ondervragings te omarm, teenoor verandering wat deur sosio-politiese akteurs gevra word, sal ons begin om institusionele en kurrikulêre hervorming in die lang termyn te kweek. Argiewe is uiters belangrik vir die huidige oomblik van dekolonisering en epistemiese losmaking om die maatskaplike en politieke bevele van ons tyd aan te spreek, terwyl ons terselfdertyd in die rigting van die toekoms werk deur die materiële oorblyfsels te bewaar wat die volgende geslag in staat sal stel om die vrae van die toekoms te vra.

*Dr Lizabé Lambrechts is 'n Senior Navorsingsgenoot by die Africa Open Instituut vir Musiek, Narvorsing en Innovasie by die Universiteit Stellenbosch. Die artikel is gegrond op haar onlangse artikel in die vaktydskrif Social Dynamics wat getiteld was The becoming of an archive: perspectives on a music archive and the limits of institutionality​.