Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-professor ontvang toekenning vir die bevordering van Afrikaans
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 16/10/2020

Prof Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs vir sy lewenslange en uitsonderlike diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap vereer.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), in samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), het aan Le Cordeur die 2020 Neville Alexander-prestigetoekenning toegeken vir die bevordering van Afrikaans.

Hy gaan sy totale prysgeld van R20 000 – wat deur Naspers geborg is – aan die Distrik Ses-museum in Kaapstad skenk.

“Dit is 'n groot eer vir my om die Neville Alexander-prestigetoekenning te ontvang, want dit verbind my vir ewig aan die man wat vir my 'n inspirasie asook 'n mentor was. Die waarde hiervan kan nie in woorde uitgedruk en nog minder in geldelike terme gemeet word nie. Ek hoop  dat my prysgeld 'n klein bietjie verligting vir die Distrik Ses-museum sal bring, aangesien dit so 'n belangrike baken en van historiese betekenis in ons land is," sê Le Cordeur.

Le Cordeur, 'n voormalige onderwyser, hoërskoolhoof en kringbestuurder, is 'n Nasionale Navorsingstigting-gegradeerde navorser. Hy het deur die jare die Afrikaanse gemeenskap in verskeie ampte gedien, insluitende as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee waar hy medeskrywer van die Wes-Kaapse Taalbeleid was onder leiding van Neville Alexander met gelyke status aan isiXhosa, Afrikaans en Engels.

Hy is tans voorsitter van die departement Kurrikulumstudie by die US se Fakulteit Opvoedkunde. Hy dien ook in die direksie van die SBA en is 'n lid van die Internationale Centrum voor het Afrikaans by die Gent-universiteit en die Internasionale Vereniging vir Navorsing in Taalonderwys.

Volgens Le Cordeur is dit belangrik dat elke kind en student bemagtig word om in die taal van sy of haar keuse onderrig te word. Hy glo hierdie toekenning kon nie op 'n beter tyd in sy eie loopbaan gekom het nie, aangesien dit hom weer eens aangespoor het om hom te beywer om prof Neville Alexander se lewenslange droom van die bevordering van veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika te bewaarheid. 

“Dit was nog altyd vir my belangrik om Afrikaans as 'n versoenings- en vriendelike taal te posisioneer. Afrikaans is die taal van die struggle, maar dit is ook die taal van versoening. Dit is 'n taal wat mense kan saambind, mits ons gewillig is om mekaar se sienings in te sien en respek vir mekaar se unieke verledes te toon. Afrikaans het oorloë, apartheid, kolonialisme en pandemies deurstaan. Daarom twyfel ek geensins daaraan dat die taal net sterker en sterker sal word nie."

Vir meer inligting oor die Neville Alexander-prestigetoekennings en die ATM, klik hier.  ​