Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente van Ingenieurswese, Natuurwetenskappe en AgriWetenskappe seëvier by US se FameLab-uitdunronde
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/10/2020

Thabani Mtsi, ʼn magisterstudent in Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), is as die wenner van die US-uitdunronde van die 2021 FameLab wetenskapkommunikasie- en redenaarskompetisie aangewys. Die virtuele geleentheid het Woensdag (14 Oktober) plaasgevind. Kaylan Reddy, ʼn magisterstudent in Plant- en Dierkunde, en Zimbili Sibiya, ʼn doktorale student in Bos- en Houtkunde, het onderskeidelik tweede en derde geëindig. FameLab word as een van die grootste wetenskapskommunikasie-kompetisies ter wêreld beskou en bied 'n platform vir jong wetenskaplikes om met verskillende gehore oor hul werk te praat.

Tydens die aanlyn-kompetisie het Mtsi en 23 ander nagraadse studente elkeen net drie minute gekry om hul navorsingswerk met die gehoor te deel.  Hy het gepraat oor die wyses waarop die reiservaring van taxi-pendelaars verbeter kan word​, terwyl Reddy meer vertel het oor hoe inheemse kennis van medisinale plante met breinbiologie gekombineer kan word om angs en depressie te behandel. Sibiya het gefokus op die verband tussen die natuur en tegnologiese volhoubaarheid. As wenner van die plaaslike ronde sal Mtsi die US in April 2021 in die eindronde verteenwoordig. Hier sal hy teen die wenners van die uitdunrondes wat by ander Suid-Afrikaanse universiteite gehou is, te staan kom.

Die US FameLab-uitdun is deur Jive Media Africa en die Afdeling Navorsingsontwikkeling se Nagraadse Kantoor gereël. Die beoordelaars was Martin Viljoen (Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking), Wilma Stassen (Bemarking en Kommunikasie: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), dr Palesa Mothapo (Navorsingsontwikkeling) en prof Nox Makunga (Plant- en Dierkunde).

Mtsi het in reaksie op sy oorwinning gesê “my lewensdoel is om mense binne my invloedsfeer te inspireer en te bemagtig, en alles wat ek doen, dien hierdie doel. Dit is uiters belangrik dat ons ons akademiese strewes gebruik om die gemeenskappe wat ons bemagtig het te verbeter omdat ons is wat ons is danksy hulle. Ek is geklee, gevoed en grootgemaak deur die taxibedryf, en 'isintu' vereis dat ek dieselfde welwillendheid toon."

Hy het die belangrikheid van wetenskapskommunikasie beklemtoon en gesê “navorsing wat tot wetenskaplike tydskrifte en referate beperk word, kom nie tot sy reg in die samelewing nie. Die gaping tussen wetenskap en die samelewing moet oorbrug word sodat ons saam oplossings kan vind — veral in Afrika."

Mtsi spog, onder meer, ook met ʼn Mandela Rhodes-beurs en twee rektorstoekennings vir uitnemendheid. Sy voorgraadse verhandeling is deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenierswese  as die beste in die land vir 2018/2019 aangewys.

Die wenner van die Suid-Afrikaanse eindronde sal teen deelnemers uit 30 lande te staan kom by die internasionale FameLab-kompetisie.

  • Foto: Thabani Mtsi, Kaylan Reddy en Zimbili Sibiya.