Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meesteropleier in ervaringsleer en kritiese pedagogie by SUEEC
Outeur: Student Affairs / Studentesake
Gepubliseer: 13/10/2020

'n Internasionale meesteropleier in kritiese pedagogie sal een van die uitgelese ervaringsleerkundiges wees by die Universiteit Stellenbosch Konferensie oor Ervaringgerigte Opvoeding (SUEEC) in November 2020.

Mustafa Erdogan, voorsitter en stigter van die DeM Sentrum vir Ervaringgerigte Opleiding in Istanbul, Turkye, sal 'n meesterklas in die konferensiestroom Wêreldburgerleierskap aanbied. Erdogan is die medeontwikkelaar van die program “DeM Training for Trainers" – 'n praktiese samevoeging van Kolb se ervaringsleerteorie en Freire se pedagogie van die onderdruktes – wat hy al aan meer as 350 opvoeders in 13 lande aangebied het.

As 'n ervaringsleerspesialis en -meesteropleier, beskik Erdogan oor meer as 15 jaar ondervinding op die gebied van die burgerlike samelewing en het hy onder meer as 'n opleier vir die Europese Unie se onderwys- en jeugprogramme opgetree. Hy het die Amerikaanse Instituut vir Ervaringsleer se sertifikaatprogram in ervaringsleer onder David Kolb, Alice Kolb, Kay Peterson en Chris Kayes voltooi, en is 'n aktiewe lid van hierdie praktykgemeenskap. Hy staan aan die stuur van opleiding-vir-opleiers-meesterklasse en programontwerp vir etlike projekte in Turkye, Europa en die Midde-Oosterse en Noord-Afrika- (MONA-)streek. Erdogan is 'n deskundige op die terrein van leerbestuur, die bestuur van nieregeringsorganisasies sowel as ervaringsleerontwerp. Hy werk reeds sedert 2006 as 'n opleier vir die Turkse Nasionale Agentskap en is boonop een van die stigters van die Internasionale Ervaringsleernetwerk (IELN). Sy werk konsentreer hoofsaaklik op ervaringsleer en kritiese pedagogie, en hy glo dat maatskaplike transformasie wat op menseregte berus slegs moontlik is deur opvoeding wat op maatskaplike transformasie berus. 

“Die vermoë om die akademie en burgerlike samelewing deur middel van burgerleierskap te verbind is 'n onmisbare element vir 'n robuuste demokrasie. Mustafa Erdogan se meesterklas is 'n moet vir almal wat juis dít wil bereik deur 'n raamwerk van maatskaplike geregtigheid by hulle ervaringsleerontwerp in te sluit," sê Ruth Andrews, voorsitter van die SUEEC-beheerkomitee en bestuurder van die US se Ko-kurrikulumkantoor in die Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringgerigte Opvoeding en Burgerskap (SSLEOB).

Die SUEEC, waar Erdogan sy meesterklas sal aanbied, is 'n aanlyn konferensie wat die SSLEOB van die Afdeling Studentesake op 10 en 11 November 2020 sal aanbied. Die konferensiestroom Wêreldburgerleierskap sal deelnemers 'n begrip help vorm van die rol van ervaringgerigte opvoeding in die vorming van wêreldburgerleiers, en die inherente kompleksiteite wat daarmee saamhang. Ander hoofsprekers op die program sluit in proff George Kuh, Alice Kolb, Thuli Madonsela, Jonathan Jansen, Arnold Schoonwinkel, Hester Klopper en dr Choice Makhetha.

  • Vroeë registrasie vir die SUEEC het op 20 September 2020 gesluit, maar gewone registrasie is nog tot 1 November oop. Skakel gerus op 10 en 11 November in vir hierdie opwindende aanlyn geleentheid.

    Gaan vandag na www.sueec.com en registreer om aan die wêreldwye gesprekke by die SUEEC 2020 deel te neem.