Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Intreerede verteenwoordig nog 'n mylpaal in 'n suksesvolle loopbaan
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 09/10/2020

Die uittredende staatmaker van die Departement Logistiek, prof JH (Hannelie) Nel, het onlangs nog 'n mylpaal in haar besondere loopbaan gevier toe sy haar intreerede gelewer het.

Haar aanlynlesing met die titel Bring dieetdata nader aan die waarheid met statistiese aanpassing: Die Provinsiale Dieetinnameopname van 2018 as voorbeeld, is op 1 Oktober 2020 gehou. Dis die eerste studie in Suid-Afrika wat by wyse van statistiese metodes ondersoek hoe aanpassings vir variasies binne-in mense die interpretasie beïnvloed van voedingsinname en voedingswaarde van geselekteerde voedingstowwe. Die Nasionale Kankerinstituut-metode is geïmplementeer om aanpassings te maak vir variasies binne-in mense ten einde 'n beter benaderde inname te kry.

Dié studie is een van die hoogtepunte van 'n loopbaan wat gewy is aan navorsing oor onder meer menslike voeding, asook antropometriese, sosio-demografiese en vervoerverwante onderwerpe. Nel tree aan die einde van 2020 af.

Sy is nog nie klaar met navorsingsaktiwiteite nie en sê sy sal bes moontlik steeds projekte aanpak in die toekoms.

“Navorsingswerk is nooit klaar nie; dis nooit voltooi nie," sê sy. “Dis eintlik onvermydelik dat ek betrokke sal bly by dieetkundige, sosio-demografiese en sosio-ekonomiese navorsingsprojekte, aangesien ek gekonfyt is in die tegnieke, vaardighede en metodologieë om data te interpreteer en relevante gevolgtrekkings te ekstrapoleer."

Dié onvermoeide toewyding aan haar werk het nie ongesiens verbygegaan nie. In 2009 is sy met die Tom Rozwadowski-medalje bekroon vir die beste Operasionele Navorsingsbydrae wat gedurende 2008 in 'n geakkrediteerde tydskrif gepubliseer is. Verlede jaar het sy ook 'n C2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang as erkenning vir haar navorsingsuitsette van hoë gehalte.

Alhoewel sy dankbaar is vir die erkenning, beskou sy die gewaarwording dat sy “akademies en geestelik in haar vakgebied gegroei het" as belangriker.

Nel beskryf die tydperk wat sy as voorsitter van die Departement Logistiek gedien het – van 2011 tot 2017 – as een van die hoogtepunte in haar loopbaan en 'n groot eer.

Onder haar voorsitterskap het die Departement meer klem begin plaas op navorsingsgedrewe honneurs- en meestersprogramme. Die Departement het ook verskeie programvernuwingsfases in Logistieke Bestuur, Vervoerekonomie, Operasionele Navorsing en Kwantitatiewe Bestuur deurgemaak, terwyl 'n Nagraadse Diploma in Vervoer en Logistiek in 2017 van stapel gestuur is.

Volgens prof Nel was en is die Departement Logistiek onderhewig aan voortdurende verandering. “Dit hoort so. Die Departement het gegroei, beide in grootte en invloedsfeer, en het nuwe rigtings ingeslaan. Dit bly steeds 'n uitdaging om in voeling te bly met die veranderende akademiese en sakeomgewings."

Nel het haar loopbaan as junior dosent op die Vaaldriehoekkampus van Noordwes-Universiteit afgeskop voordat sy by die Universiteit van Limpopo aangesluit het. Sedert 2004 doseer sy Operasionele Navorsing, Kwantitatiewe Bestuur en Vooruitskatting vir voor- en nagraadse studente by US.

“In die algemeen gesproke is dit in die aard van 'n dosent om 'n selfonderwyser te wees, en daar bestaan nie soiets dat jy net oordra wat jy geleer het nie," sê sy. “By elke posisie is daar 'n gepaardgaande versameling kennis betrokke, en elke pos wat daarop volg, bring nuwe uitdagings, nuwe vereistes en nuutverworwe lewensvaardighede. Die grense tussen verskillende akademiese vakgebiede vervaag en ons kan meer toepassingsmoontlikhede raaksien."

Sy is dankbaar vir die ondersteuning wat sy oor die jare van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontvang het.

“Dis 'n groot plesier om in die Fakulteit te funksioneer en sulke verstommende, onvoorwaardelike ondersteuning te geniet. Die Afdeling Navorsingsontwikkeling asook die biblioteekpersoneel het ook 'n belangrike ondersteuningsrol gespeel. Ek is byvoorbeeld verskeie geleenthede gebied om referate in die buiteland aan te bied.

“Ons kan nie as individue funksioneer nie. Om suksesvol te wees, moet ons as 'n span saamwerk. Dit was 'n eer om deel te wees van 'n span met 'n gemeenskaplike doel en etos. Ten slotte kan 'n mens sê dat my denke en wêreldbeskouing deur die Universiteit Stellenbosch beïnvloed en gevorm is. Dit het my 'n beter akademikus en 'n beter mens gemaak," het sy gesê.