Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan eredoktorsgrade toeken aan ses uitstaande individue wat 'n waardevolle bydrae op die gebied van geneeskunde, die letterkunde, die uitvoerende kunste, ondernemingskap, wetenskap, opvoeding en gemeenskapsontwikkeling gelewer het.
Hul onvermoeide verbintenis en buitengewone ywer om 'n positiewe verskil in mense se lewens te maak, vind sterk aanklank by die US se visie om onder meer wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken te word en as 'n plek waar kennis in diens van die samelewing bevorder word.
Die ontvangers is die Rwandese pediater, prof Agnes Binagwaho; die hoof- uitvoerende beampte van Kunstekaap en aktivis vir die bemagtiging van minderbevoorregte groepe, dr Marlene le Roux; die groep-HUB van Women Investment Portfolio Holdings en kampvegter vir die bemagtiging van vroue, me Louisa Mojela; die vooraanstaande internasionale wiskundige en wetenskaplike leier, prof Daya Reddy; die skrywer en ontvanger van verskeie internasionale en nasionale literêre toekennings, prof Marlene van Niekerk; en die voorsitter van Umalusi en transformerende opvoedkundige, prof John David Volmink.
Die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, word aan Binagwaho toegeken; die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd), honoris causa, aan Le Roux en die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, aan Mojela. Reddy ontvang die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Natuurwetenskappe), honoris causa, en Van Niekerk die graad Doktor in die Lettere en Sosiale Wetenskapp (DPhil), honoris causa, terwyl die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd), honoris causa, aan Volmink toegeken word.
Die US se eredoktorsgrade is 'n manier om erkenning te gee aan die merkwaardige werk van individue wat as rolmodelle en 'n inspirasie vir gegradueerdes van die Universiteit Stellenbosch dien.
Die eregrade sal in 2021 toegeken word.
Meer oor die ontvangers
Prof Agnes Binagwaho is 'n Rwandese pediater wat uitmuntende bydraes gelewer het tot die verbetering van die gesondheid en welsyn van mense wat in Rwanda en in die res van Afrika woon. Sy is 'n voormalige minister van Gesondheid en was op die voorgrond in die stryd teen HIV/Vigs en HPV – die menspapilloomvirus wat feitlik alle gevalle van servikale kanker veroorsaak. Sy was onder meer by die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Verenigde Nasies betrokke. Haar passie vir gesondheidsgelykheid het tot die stigting gelei van die Universiteit van Globale Gesondheidsgelykheid (UGHE), die eerste in sy soort in Afrika.
As boorling van Wellington in die Wes-Kaap, was dr Marlene le Roux nog altyd vasberade oor die bemagtiging en ondersteuning van agtergeblewe groepe en werk hard om vervullende loopbane in die kunste vir hulle te vind. Haar uitreikprojekte strek van slypskole vir teaterwaardering tot die bekendstelling van volledige produksies – slypskole en opvoedkundige teater inkluis – aan landelike gebiede en gemeenskappe met beperkte kuns- en kultuurgeleenthede. Sy het in 2001 as direkteur van gehoorontwikkeling en opvoeding by Kunstekaap aangesluit en het die dryfveer agter baie van Kunstekaap se feeste geword, wat op die been gebring is om aktuele kwessies voorop te stel en in die behoeftes van opvoeders, professionele kunstenaars, mediese praktisyns en leerders te voorsien.
Louisa Mojela is 'n bekende persoonlikheid in die korporatiewe wêreld in Suid-Afrika. Sy was een van die vier stigterslede en jarelange Groep-HUB van Women Investment Portfolio Holdings (WIPHOLD). Onder haar leiding het WIPHOLD gegroei om Suid-Afrika se voorste beleggingsmaatskappy te word wat deur swart vroue besit en bestuur word, met miljarde wat in ʼn wye reeks bedrywe belê is. Meer as 200 000 swart vroue is begunstigdes wat ʼn direkte aandeel van 33,6% in die beherende maatskappy via WIPHOLD Investment Trust en WIPHOLD NGO Trust het.
As vooraanstaande wiskundige en wetenskaplike leier wat wêreldwyd erken word, het prof Daya Reddy uitmuntende bydraes tot die ontwikkeling, bevordering en invloed van wetenskap in Suid-Afrika en die res van die wêreld gelewer. As 'n NNS-geëvalueerde wetenskaplike bereik hy die toppunt van sy akademiese loopbaan en speel hy steeds 'n deurslaggewende rol in die ontwikkeling van studente op die gebied van berekenings- en toegepaste meganika. Deur sy lidmaatskap aan en leierskap van verskeie gesogte plaaslike en internasionale wetenskapakademies lewer hy 'n volgehoue bydrae tot die versterking van die wêreldwye wetenskaplike projek.
Prof Marlene van Niekerk het 'n reuse-invloed op die Afrikaanse letterkunde en literêre landskap gehad – nie net deur haar eie skryfwerk nie, maar ook deur bekende skrywers en wenners van literêre toekennings te onderrig. As 'n uiters produktiewe skrywer, het Van Niekerk 20 plaaslike en internasionale toekennings en pryse verower. Haar manjifieke roman Agaat is in sewe tale vertaal en was op die kortlys vir vier internasionale literêre toekennings. In 2011 het die sy die Nasionale Orde van Ikhamanga (silwer) ontvang vir haar “uitmuntende intellektuele bydrae tot die literêre kuns en kultuur deur digkuns, literatuur en filosofiese werk".
Prof John David Volmink het deur sy uitsonderlike leierskapsvaardighede 'n uitstaande bydrae tot die onderwys, en spesifiek tot kurrikulumhervorming, die bevordering van wiskunde-onderwys en die gehalteversekering van onderrig in post-apartheid Suid-Afrika gelewer. Elke post-apartheid minister van onderwys het hom versoek om 'n leidende rol in die transformasie van onderwys te speel. Benewens sy bewese leierskap, lewer Volmink belangrike bydraes tot kurrikulumhervorming en die gehalteversekering van skoolonderwys in postapartheid-Suid-Afrika. Elke minister van onderwys in die postapartheidsera nader hom om 'n leidende rol in die transformasie van die onderwys in Suid-Afrika te speel. Afgesien daarvan dat hy as voorsitter van Umalusi, die Raad vir Gehalteversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding en verskeie Ministeriële Taakspanne dien, was Volmink instrumenteel in die stigting van nieregeringsorganisasies wat met ontwikkeling en transformasie in verskillende wêrelddele help.