Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Deresh Ramjugernath aangewys as US se nuwe Viserektor: Leer en Onderrig
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 01/10/2020

Prof Deresh Ramjugernath (48), adjunk-visekanselier vir Navorsing aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), is as die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Viserektor: Leer en Onderrig aangewys. Die US-raad het by sy vergadering op 21 September 2020 Ramjugernath in die pos aangestel.

Hy sal die posisie van 1 Januarie 2021 beklee.

As 'n hoogs-bekwame uitvoerende beampte in die hoër onderwys met wesenlike bestuurservaring is Ramjugernath 'n wetenskaplike by uitstek op die gebied van chemiese ingenieurswese, spesifiek in chemiese termodinamika en skeidingstegnologie. Hy het tot 2018 die DWT/NNS se Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel (SARChI) vir Fluoor-prosesingenieurswese en Skeidingstegnologie beklee.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, sê: “Ons is baie ingenome met hierdie aanstelling. Prof Ramjugernath is 'n uitstekende kandidaat en goedgekwalifiseerd om die leisels by prof Arnold Schoonwinkel, wat aan die einde van die jaar aftree, oor te neem. Hoër onderwys staar reuse-uitdagings in die gesig weens die koronavirus-pandemie. Maar terselfdertyd het daar opwindende geleenthede hulle voorgedoen en ons sien uit daarna om die nuwe landskap van leer en onderrig te verken met prof Ramjugernath aan die stuur."

Ramjugernath het aan die UKZN gestudeer en het die grade BSc Ing (Chemies) in 1993, MSc Ing (Chemies) – wat in 1995 na 'n PhD opgegradeer is – en 'n PhD in Chemiese Ingenieurswese in 2000, behaal.

Meer as 130 meesters- en PhD-studente het suksesvol onder sy toesig afgestudeer en hy was toesighouer oor meer as 20 postdoktorale genote. Daar het al meer as 350 van sy eweknie-beoordeelde artikels verskyn en hy het meer as 300 aanbiedings by internasionale konferensies gedoen. Hy dien in die raad van internasionale vaktydskrifte en professionele liggame soos die Internasionale Vereniging vir Termodinamika en die Journal of Chemical and Engineering Data.

Van sy vorige posisies sluit in pro-visekanselier: Innovasie, Kommersialisering en Entrepreneurskap, assistent-dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese en hoof van die Skool vir Chemiese Ingenieurswese – alles by die UKZN.

Hy het al verskeie nasionale en internasionale toekennings ontvang en is 'n lid van verskeie bedryfs- en akademiese liggaam, waaronder die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAf) en die Afrika-akademie vir Wetenskappe (AAS).

Ramjugernath is passievol oor menslike kapasiteitsontwikkeling en glo sterk in 'n samewerkende benadering tot navorsingskapasiteitsontwikkeling. Hy het goed-gevormde menings oor die benutting van afstandsonderrig om die hoëronderwysmark as 'n geheel te transformeer.

“Ek is baie opgewonde om my by een van die voorste hoëronderwysinrigtings in Afrika aan te sluit. Dit word goed bestuur, doeltreffend beheer, beskik oor goeie hulpbronne en die belangrikste van alles – dit het die visie as 'n hoëronderwysinrigting om die lewens van mense te verbeter en 'n beduidende sosio-ekonomiese invloed," sê Ramjugernath.

“Die uitvoerende portefeulje van leer en onderrig is 'n integrale en kritiese onderdeel van die Universiteit. Dit is noodsaaklik dat die portefeulje strategies gelei word om effektief en doeltreffend aan sy huidige mandaat te voldoen, maar ook om die portefeulje terselfdertyd te ontwrig, te versterk en dit doelmatig aan te wend namate hoër onderwys beide plaaslik en internasionaal in 'n vinnigveranderende en uitdagende landskap ontwikkel.

“As 'n land staar ons baie uitdagings in die gesig ten opsigte van die maatskaplike en ekonomiese opheffing van ons landsburgers en om voorspoed vir almal te verseker," sê Ramjugernath. “Universiteite moet 'n meer betekenisvolle rol speel om 'n direkte uitwerking op die samelewing te hê ten einde hierdie uitdagings die hoof te bied – deur tot maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling by te dra, en deur die voorste skeppers van kennis in die wêreld te wees. Ten einde dit te bereik moet hulle werklik deelnemend en entrepreneuries wees en hulle moet onwrikbaar op transformasie met uitnemendheid fokus."

Skakeling met die samelewing

“Die waardes wat ons by ons studente vestig, moet hulle help om doeltreffend binne die groter samelewing te funksioneer en in te skakel en dit moet die manier waarop hulle tot sosiale kohesie en nasiebou bydra, aanhelp," voeg Ramjugernath by. “Dit is 'n integrale aspek van die leer en onderrig-portefeulje wat nie net die formele akademiese kurrikulum aanspreek nie, maar ook die gepaardgaande informele kurrikulum en die hele studente-ervaring op kampus. Weens die huidige COVID-19-krisis is dit nog meer so dat ons studente se ervarings op ons kampusse – hetsy virtueel of fisiek – ons ware relevansie as hoëronderwysinrigting sal bepaal.

“Terselfdertyd moet die hoëronderwyssektor in hierdie era van reusevooruitgang in tegnologie – met tegnologieë wat in sommige sektore binne 'n tydperk van 18 tot 24 maande uitgedien raak – dieselfde doen ten opsigte van die ontwikkeling en benutting van die jongste tegnologie," sê hy. “Ons kurrikula en programme moet voortdurende opgedateer en hersien word sodat die inhoud en die uitkomste sal verseker dat ons gegradueerdes pasgemaak is vir hul doel. Dit sluit die ontwikkeling van multidissiplinêre en interdissiplinêre programme in, wat vir die werksmark van die toekoms voorsiening maak." Hy voeg ook by dat 'n klem op die ontwikkeling van emosionele intelligensie, ondernemingsvaardighede en ontwerpersdenke 'n integrale deel van studente-ontwikkeling asook die ontwikkeling van doserende personeel moet wees. “Empiriese leer is 'n belangrike onderdeel wat by die kurrikulum geïntegreer moet word om te verseker dat gegradueerdes pasgemaak vir hul doel is en onmiddellik aan die gang kan kom."

  • Prof Ramjugernath sal prof Arnold Schoonwinkel, wat die voorgeskrewe aftree-ouderdom bereik het, opvolg. Hy het vir agt jaar as Viserektor: Leer en Onderrig gedien en voor dit was hy vir tien jaar lank die Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese. ​