Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Genootskap help Heine om hartsiekte in lae-inkomste omgewings aan te pak
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 29/09/2020

ʼn Senior nadoktorale genoot by die Instituut vir Sport- en Oefening-geneeskunde (ISOG), dr Martin Heine, is gekies vir die Wêreld Hartfederasie se prestigeryke Salim Yusuf Ontluikende Leiersprogram, ʼn eerbetoning wat volgens hom ʼn indirekte bevestiging is van sy toegewyde werk in pasiënt-gesentreerde rehabilitasie in lae-inkomste omgewings.

Heine het in Julie vanjaar die nuus ontvang dat hy gekies is vir die program wat daarop fokus om ʼn platform te skep vir globale samewerkende navorsingsprojekte met die doel om hartsiekte wêreldwyd te laat afneem.

ʼn Ingenome Heine het gesê dat sy inname tot die program “ʼn eer is, en ʼn geleentheid is om te leer" van sy eweknieë in ander lande.

Vir die afgelope vier jaar het die meeste van Heine se werk daarop gefokus om volhoubare ingrypings te ontwikkel vir mense met kroniese siektes. Een van sy toonaangewendste studies, waarvoor data reeds ingesamel is en ontleding tans aan die gang is, is in Bishop Lavis (Kaapstad) onderneem en poog om die uitvoerbaarheid te toets van ʼn meer pasiënt-gesentreerde rehabilitasieprogram vir mense met nie-oordraagbare siektes.

Deur sy werk poog Heine om weg te beweeg van ʼn siekte gesentreerde benadering na ʼn meer holistiese benadering wat op pasiënte gefokus is, en sodoende die veld van rehabilitasie-wetenskappe te beveilig teen die hoë vlakke van multimorbiditeit wat veral in omgewings met lae-hulpbronne voorkom.

Hy het gesê dat sy aanvaarding tot die program ʼn aanduiding is dat sy werk in die regte rigting beweeg en dat dit mense daarby aanklank vind.

Hy voeg by dat “hierdie toekenning nie oor my gaan nie, dit gaan daaroor om die navorsing wat ek doen te versterk om ʼn groter impak te maak. Dit sal interessant wees om meer uit te vind oor die idees en oplossings wat in ander lande met beperkte hulpbronne en ander uitdagings voorgestel word, en om gemeenskaplike terrein te vind om ons navorsing te versterk."

Die Wêreld Hartfederasie (WHF) se Salim Yusuf Ontluikende Leiersprogram is in 2014 geskep deur die befaamde leier in globale hartsiekte navorsing en die federasie se voormalige president, professor Salim Yusuf. Hierdie inisiatief is een van die eerste internasionale opleidingsprogramme in kardiovaskulêre gesondheid beleid-navorsing, gesondheidstelsels en implementeringswetenskappe.

Die program se hoofdoelwit is om kapasiteit te bou deur professionele ontwikkeling, mentorskap en netwerking van WHF Ontluikende Leiers in 100 lande. Deur gesamentlike navorsing en aksies poog hulle om voortydige sterfte weens hartsiektes wêreldwyd te verminder in lyn met die Wêreldgesondheidsorganisasie se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte vir nie-oordraagbare siektes.

Heine het gesê dat die Covid-19-pandemie die beplande program van 25 geselekteerde genote geraak het wat in September in Portugal byeen sou gekom het om deel te neem aan opleidingsprogramme en seminare met kenners oor die hoofuitdagings vir die bestuur van diabetes en hartsiekte.

“Die idee was dat daar een of meer navorsingsvoorstelle uit die skakeling sou kom wat die ontluikende leiers sou verbind.

“Al die opleiding, netwerking en samewerking sou uitgeloop het in navorsingsvoorstelle, waarvan een of twee moontlik deur die WHF sou befonds word. ʼn Aantal genote het ook kliniese verantwoordelikhede en kan weens Covid-19 nie tans aandag hieraan skenk nie. Daardie gedeelte van die program is vir eers uitgestel tot 2021.

“Dit gaan nietemin ʼn baie opwindende geleentheid wees. As ek kyk na die diverse groep mense wat deelneem van beide die kliniese en akademiese perspektief, en die lande wat die genote verteenwoordig – insluitende Indië, Australië, Nepal, Libanon, Irak, Skandinawië, Suid-Amerika en Europa – is ek baie opgewonde oor wat ek moontlik sal kan leer oor die bestuur van hartsiekte en diabetes van kollegas oor die wêreld – veral diegene van lande met beperkte hulpbronne soos Brasilië, Nepal en Bangladesj."