Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 21 September 2020)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 25/09/2020

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 21 September sy derde vergadering van 2020 gehad. Hoewel die vergadering plaasgevind het op die eerste dag van vlak 1 van die COVID-19-inperking, wat nou vergaderings van aangesig tot aangesig toelaat, het ons besluit om aanlyn voort te gaan, soos met die vorige twee vergaderings vroeër vanjaar.

Benewens die gebruiklike kwartaallikse bestuursverslag (klik hier) aan die Raad deur die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het 'n verdere twee Rektoraatslede – die Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, en die Viserektor: Strategie en Internasionalisering (VR: SI), prof Hester Klopper – hul onderskeie verantwoordelikheidsentrums se jaarverslae voorgelê.

Die merkbare en voortslepende impak van die COVID-19-pandemie op universiteitsbedrywighede is in ál drie bestuursverslae uitgelig. Soos die Rektor egter uitgewys het, gaan die US steeds voort om die institusionele prioriteite en doelwitte in sy Strategiese Raamwerk 2019–2024 na te jaag.

Raadslede het die Rektoraat geloof vir hoe hulle die komplekse proses ingevolge die verskillende inperkingsvlakke bestuur het om te sorg dat studente die akademiese jaar suksesvol kan voltooi. Verskeie Raadslede het aangedui dat hulle positiewe terugvoering van eksterne belanghebbendes ontvang het oor hoe goed die US vaar om te midde van al die onsekerheid te volhard. Nietemin het die Raad ook kennis geneem van die Rektor se verslag oor die hoë eise wat aan personeellede en studente gestel word.

Noudat die US voor nóg 'n uitdaging staan – dié keer om by vlak 1 aan te pas – wil ek graag die hele Universiteitsgemeenskap bedank vir jul uitmuntende werk, toewyding en innovasie in die aangesig van teenspoed. Ons wens julle alle sterkte toe met die laaste kwartaal van hierdie buitengewone jaar.

Die Raad het produktiewe gesprekke oor verskeie aangeleenthede gehad, waaronder sosiale media, bestuursdiversiteit en transformasie. Daar is kennis geneem dat die samestelling van die Raad aansienlik verander het wat diversiteit betref, van 24% bruin, swart, Indiër- en Asiër-verteenwoordiging in 2013 tot 48% in 2020, en van 13,8% vroueverteenwoordiging tot 32% oor dieselfde tydperk.

Lees gerus verder vir meer besonderhede oor ons vergadering.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Rektoraatsaanstelling en -heraanstellings

Nadat die Raad die kandidate op die kortlys oorweeg het, is daar gestem vir die voorkeurkandidaat om prof Arnold Schoonwinkel op te volg as Viserektor: Leer en Onderrig wanneer hy aan die einde van die jaar aftree. 'n Aankondiging sal gemaak word sodra die aanstellingsproses voltooi is.

Die Raad het oorweldigend ten gunste van sy Menslike Hulpbronnekomitee se aanbeveling gestem om die kort prosedure te volg vir die heraanstelling van sowel prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, as prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, vir 'n tweede ampstermyn. Die voorsitter van die Raad sal die tersaaklike dokumente aan die Senaat en die Institusionele Forum (IF) voorlê om oor hierdie twee Rektoraatslede se heraanstelling te stem, en die uitslag sal by die volgende Raadsvergadering bespreek word. Kandidate wat daar 'n meerderheidstem ontvang, sal heraangestel word.

Verskuiwing na die kuberruim in die tyd van COVID-19

Die Raad het sy waardering uitgespreek vir die US se flink aanpassing by noodafstandsonderrig, -leer en -assessering in reaksie op COVID-19. In die verslagtydperk is eksamens vir die eerste keer in die Universiteit se geskiedenis ten volle aanlyn afgelê. Fakulteite en departemente, dosente en steunafdelings het binne 'n uiters kort tyd 'n uitsonderlike poging aangewend om te sorg dat die semestereksamens kon voortgaan. Die eksamens het betreklik vlot verloop, op enkele uitsonderings na. Personeellede het onder erge druk gewerk, maar dosente, tutors en studente het omvattende steun ontvang.

Meertaligheid gedurende noodafstandsonderrig

Die Taalkomitee van die Raad het verslag gedoen oor die aanlyn inisiatiewe van die Taalsentrum met 'n bepaalde klem op die bevordering van meertaligheid gedurende noodafstandsonderrig. Ondanks vele uitdagings is daar groot suksesse behaal, wat goed deur sowel personeellede as studente ontvang is. Dít sluit in die vertaling van podsendings, aanlyn konsultasies deur die Skryflaboratorium, en innoverende nuwe aanlyn kursusse en digitale bemarking te midde van COVID-19. Die Taalsentrum het finansiering van die Oppenheimer-gedenktrust ontvang om gedurende noodafstandsonderrig taalverwante studentesteun te bied. Die Taalkomitee het ook besin oor die US se goeie prestasie in die e-leerruimte wat betref die ontwikkeling van 'n algeheel nuwe pedagogie vir aanlyn en hibridiese leer.

Gefaseerde terugkeer van studente en personeellede

Die Raad het kennis geneem dat die Universiteit aan pragmatiese planne werk om personeellede en studente te laat terugkeer, wat deur die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) gekoördineer word. Ingevolge vlak 3 het meer as 5 000 studente vir noodsaaklike praktiese werk en om ander akademiese redes na die US se kampusse teruggekeer. Die Raad het kennis geneem dat die Universiteit gretig is om so gou moontlik na kontakonderrig terug te keer, maar dat dit sinneloos en onverstandig sou wees om die proses aan te jaag.

Skenkings

Die Raad het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor skenkers wat die afgelope maande met die US saamgewerk het aan verskeie projekte (sien ook die afdeling oor meertaligheid hierbo).

Die bekendstelling van die Dell Young Leaders-program aan die US is verlede week formeel aangekondig, en sal studente uit lae-inkomsteomstandighede toegang bied tot groter steun om suksesvol te gradueer. Die Michael & Susan Dell-stigting (“MSDF") het R191 miljoen aan hierdie program toegesê, waarmee 1 000 US-studente oor die volgende vyf jaar bygestaan sal word. Die langtermynverbintenis wat die US ontvang het, is vir ten minste tien jaar. Die Raad het in April onderneem om die aanvullendebeurskomponent van die pakket, wat R75 miljoen beloop, te ewenaar.

Die MSDF het ook 'n aansienlike toekenning aan die US gemaak vir pasgemaakte akademiese en psigososiale studentesteun, en 'n omvattende program vir bykomende tutorleiding word tans in werking gestel. Daarbenewens het die Harry Crossley-stigting 'n spesiale COVID-19-toelaag bevestig waarmee die Universiteit tutor- en mentorbystand na meer studente sal kan uitbrei.

(Google) DeepMind het aangekondig dat hul eerste nagraadse beurse in Afrika aan US-studente toegeken sal word. Navorsing oor kunsmatige intelligensie en die praktiese toepassings daarvan op ons vasteland is 'n groot behoefte.

Die reaksie op die Universiteit se openbare kunsprojek #MaskedMasterpieces is besonder positief. Alle geld wat ingesamel word, is ten bate van studentebeurse.

Die MSDF het ook 'n groot COVID-19-toekenning gemaak vir die digitalisering van die waakeenheid by Tygerberghospitaal.

Inskrywings vir 2020

Soos uitgewys deur die Rektor in sy verslag (klik hier vir ʼn skyfieaanbieding) staan totale inskrywings by die US nou op 31 540, aldus die amptelike statistieke wat die Afdeling Inligtingsoorsigbestuur in Junie uitgereik het. Vergeleke met verlede jaar het voorgraadse inskrywings met 0,7% toegeneem, en nagraadse inskrywings met 0,4%.

Aansoeke vir 2021

Sedert aansoeke om voorgraadse studie in Maart geopen het, hou die Universiteit tendense deeglik dop om te bepaal of die koronaviruspandemie 'n negatiewe impak op die syfers het. Aansoekstatistieke dui egter op die teendeel: Algehele aansoeke het met 11% toegeneem, volledige aansoeke met 9%, en voorlopige aanbiedinge aan kandidate met 7%.

US-handelsmerk

Prof Hester Klopper het verslag gedoen oor die US-handelsmerkvernuwingsprojek, en die aangepaste proses om meer skakeling met belanghebbendes moontlik te maak. Institusionele oorsigbestuurstrukture sal geraadpleeg word en personeellede, studente en alumni sal aanlyn via 'n elektroniese platform op verskillende moontlike logo-ontwerpe kan kommentaar lewer. Die Raad sal die uiteindelike besluit neem sodra 'n finale voorstel by die eerste Raadsvergadering van 2021 (op 13 April) voorgelê is.

Die US op die ranglyste

Ná 'n versoek deur die Raad vroeër vanjaar het 'n verslag oor die US se prestasie op die wêrelduniversiteitsranglyste voor hierdie vergadering gedien. Prof Hester Klopper het aangedui dat die US aan die Times Higher Education-wêrelduniversiteitsranglys, ARWU (Sjanghai) en Clarivate Analytics deelneem – deur die vereiste inligting in te dien – maar nié aan die QS-ranglys nie. Die verslag dui op 'n duidelike teenstrydigheid tussen die nasionale HEMIS-data en ranglysdata wat Suid-Afrikaanse universiteite indien. Dít is moontlik toe te skryf aan verskillende vertolkings van die omskrywings wat die verskillende ranglyste gebruik. Die Raad het met waardering kennis geneem van die US se opgang op die Times Higher Education-ranglys van die kategorie 351–400 in 2018, tot 301–350 in 2019, en tot 251–300 in 2020, welke posisie die instelling vir 2021 behou het.

Eregrade

Die Raadsvergadering het met 'n oomblik van stilte begin ter nagedagtenis aan me Rachel Kachaje, wat in Desember 'n eregraad sou ontvang het, maar ongelukkig onlangs oorlede is. Me Kachaje het haar onvermoeid vir gelyke geleenthede en regte vir persone met gestremdhede in Malawi, die res van Afrika en die wêreld beywer. Haar eregraad sal postuum toegeken word. Die Raad het ook hulde gebring aan dr David Piedt, 'n voormalige lid van die US Raad en ontvanger van 'n eregraad in Maart 2012, wat sedert die vorige Raadsvergadering oorlede is.

Die Raad het die Senaat se aanbeveling aanvaar om in 2021 ses eregrade toe te ken, en het oorweldigende steun vir ál ses kandidate uitgespreek. Die ontvangers is prof Agnes Binagwaho, ʼn Rwandese pediater, me Marlene le Roux, die hoof-uitvoerende beampte (HUB) van Kunstekaap, me Louisa Mojela, die groep-HUB van Women Investment Portfolio Holdings, die wiskundige prof Daya Reddy en skrywer prof Marlene van Niekerk, en prof John David Volmink, die voorsitter van Umalusi.

Halfjaarlikse finansiële verslag

Die Raad het sy Uitvoerende Komitee se aanbeveling aanvaar om die halfjaarlikse finansiële verslag (soos op 30 Junie 2020) goed te keur, wat ʼn vereiste van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) is. Die Uitvoerende Komitee het ook aanbeveel dat die Raad die halfjaarlikse finansiële verslag vir die huisvestingsbegroting goedkeur, hoewel dít nie 'n DHOO-vereiste is nie.

Die tyd sal leer wat die volle finansiële impak van die COVID-19-pandemie op die US is, maar dit sal waarskynlik beduidend wees wat direkte én indirekte koste sowel as verlies aan inkomste betref.

Verantwoordelikheidsentrum (VS): Bedryf en Finansies

Prof Stan du Plessis, die Bedryfshoof, het 'n uitvoerige verslag oor die afgelope jaar se bedrywighede in Bedryf en Finansies aan die Raad voorgelê. Hierdie VS bestaan uit die afdelings Finansies, Fasiliteitsbestuur, Innovus en SUNKOM, Maties Sport en Informasietegnologie (IT).

Bedryfsvoortsetting het in 2020 'n oorheersende doelwit geword. Die VS-hoof dien as voorsitter van die US se IKBV, 'n bedryfsplatform wat die voortsetting van US-bedrywighede gedurende die nasionale ramptoestand in reaksie op COVID-19 fasiliteer.

Klik hier vir sy volledige verslag, en hier vir 'n skyfieaanbieding. Hoogtepunte volg hieronder:

Akademiese IKT-steun

Die US se Afdeling IT het 'n kernrol vervul om die Universiteit se akademiese gemeenskap van  kampusgebaseerde na hoofsaaklik aanlyn bedrywighede te help oorskakel. Omdat tot tien keer meer studente nou in enige bepaalde stadium op SUNLearn werk, moes 'n kragtiger bediener dringend geïnstalleer word om die groter werklas te hanteer.

Benutting van US-bates

Innovus, die Universiteit se tegnologieoordragmaatskappy, het vanjaar vyf nuwe afwentelmaatskappye gestig, en werk aan 'n verdere een, wat 2020 'n rekordjaar in dié opsig sal maak. Nietemin is die finansiële en ander implikasies van die pandemie vir die US se maatskappyegroep kommerwekkend.

Maties Sport

Maties Rugby het die Varsitybeker in 2020 behou en dus hul triomftog van 2018 en 2019 voortgesit. Maties Netbal het die eindstryd van die Universiteitsport Suid-Afrika- (USSA-)toernooi gehaal. Bowenal het die US se hoëprestasie-atlete in 2019 'n slaagsyfer van 85% behaal, grootliks te danke aan die PACER-program.

Wêreldklasfasiliteite

Fasiliteitsbestuur sien om na meer as 400 US-geboue. Die Universiteit is steeds een van die grootste eiendomsontwikkelaars in die Wes-Kaap en het projekte ter waarde van R2 miljard aan die gang.

Interaktiewe kampuskaart

Die Universiteit het in April 'n interaktiewe kampuskaart bekend gestel (klik hier) wat nie net studente nie, maar ook die plaaslike gemeenskap en voornemende studente sal baat. Die kaart het 'n soekfunksie waarmee gebruikers maklik fasiliteitstipes soos parkeerterreine, biblioteke en fakulteitsgeboue op vier van die US se kampusse kan opspoor.

Omgewingsvolhoubaarheid

Die US se elektrisiteitsverbruik word aktief deur infrastruktuur- en ander intervensies verminder. Dít het tussen 2016 en 2019 'n dramatiese afname van 5 828 ton in koolstofvrystellings teweeggebring. Die Universiteit het ook vanjaar sy eerste groot fotovoltaïese (FV) installasie op die dak van die Neelsie-studentesentrum aangebring.

Die US se wateroptimaliseringsprojek is in Mei as 'n naaswenner in die Internasionale Volhoubarekampusnetwerk (“ISCN") se toekennings vir 2020 aangewys. Fase 1 van die gryswaterstelsel op Stellenboschkampus het sowel munisipale drinkwaterverbruik as besproeiingswaterverbruik met 50% verminder. Daarbenewens is meer as 250 elektroniese watermeters geïnstalleer, wat dit moontlik maak om uurlikse waterverbruik by 95% van die Universiteit se geboue te moniteer.

Kampussekuriteit

Aangemelde misdaadvoorvalle op US-kampusse neem sedert 2016 stelselmatig af. Faktore wat hiertoe bydra, sluit in die jaarlikse herbeoordeling van hoërisikogebiede, die uitbreiding of herontplooiing van dienste om hierdie risiko's te hanteer, sowel as noue samewerking met plaaslike owerhede, wetstoepassing en studenteleiers. Die jongste sekuriteitstegnologie help verlaag die misdaadkoers verder.

VS: Strategie en Internasionalisering

Ook prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, het uitvoerig aan die Raad verslag gedoen oor haar VS se aktiwiteite die afgelope jaar. Dit sluit die afdelings Strategiese Inisiatiewe, Inligtingsoorsigbestuur, Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking, en US Internasionaal in. Klik h​ier vir haar volledige verslag, en hier vir 'n skyfieaanbieding.

Hierdie VS se werk strek oor ál ses die Universiteit se kern strategiese temas in die US se Strategiese Raamwerk 2019–2024. VS-hoogtepunte op elk van hierdie gebiede die afgelope jaar is soos volg:

'n Florerende Universiteit Stellenbosch

Die visuele implementering en inwerkingstelling van die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 het die afgelope jaar voortgeduur. Die VS het ook werksessies oor die Universiteit se waardes aangebied en 'n gedragskode vir die US begin ontwikkel.

Strategiese bestuursaanwysers (SBA's) is bepaal om die implementering van die Universiteit se strategie om uiteindelik sy visie te bereik, te rig. ʼn US-telkaart is geskep as 'n innoverende instrument om tred te hou met vordering. Die telkaart gebruik visualiseringsagteware om doeltreffendheidspaneelborde oor bepaalde aspekte te skep.

'n Transformerende studente-ervaring

Om internasionalisering te bevorder, bied die US geleenthede vir sowel in- as uitwaartse studentemobiliteit. Inwaartse Study Abroad-studente (170) en kortprogramdeelnemers (295 studente) het in 2019/20 'n inkomste van R7,2 miljoen vir die Universiteit ingebring. Dít het op sy beurt die R5,7 miljoen se reisbeurse help dek wat aan 304 US-studente toegeken is vir semesteruitruilbesoeke en somerskool- of kortprogramdeelname oorsee.

Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke

Die US se Afrikasamewerkingstoelaag het ontluik in 'n uiters waardevolle meganisme om navorsing sowel as onderrig- en leeraktiwiteite tussen die US en ander Afrika-universiteite te ondersteun. Altesaam 68 toelaes ter waarde van R2,2 miljoen is vir 2019/20 toegeken.

Die US gaan voort met skakeling deur multilaterale samewerkings en netwerke. Dít sluit in die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se Internasionale Universiteitsleierskapsforum (Rektor), die WEF se Kennisvennootnetwerk (VR: SI), die Internasionale Universiteit van Venesië (die US is die eerste Afrika-universiteit wat by hierdie groep toonaangewende internasionale universiteite ingesluit is), die Internasionale Volhoubarekampusnetwerk, die Akademiese Konsortium vir die 21ste Eeu, die Internasionale Universiteitsalliansie oor die Klimaat, en die Suid-Afrika-Swede-universiteitsforum. 

Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer

Die jaarlikse somer- en winterskool van die US se Afrika Doktorale Akademie is lank reeds 'n manier om ons vasteland se nagraadse studente in hul PhD-studie te ondersteun. Die aanbod sluit nou ook aanlyn kursusse in, waaronder 'n lenteskool.

Verskeie suksesvolle gesamentlike skole is die afgelope jaar in vennootskap met universiteite elders op die Afrikavasteland aangebied, onder meer in Ethiopië, Rwanda en Nigerië. Die program vir gesamentlike skole sluit onder meer die inisiatief vir ontluikende akademici in, wat in samewerking met die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangebied word.

Navorsing vir impak

Die VS: SI help ondersteun die Universiteit se navorsingsdoelwitte deur navorsingsvennootskappe te koester en aan navorsingsnetwerke soos die Afrikanavorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) en die Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (SANWATCE) deel te neem. Die US is ook gasheer vir die sekretariaat van die ramprisikoverligtingsnetwerk Periperi U (“Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risks").

Voorkeurwerkgewer

Die US voorsien personeelmobiliteitsprogramme deur bilaterale uitruilooreenkomste, die BRICS-mobiliteitstoelaag, opleiding-en-onderrignetwerke van Erasmus+, die mobiliteitstoelaag vir internasionale samewerking, en die Universiteit se personeelontwikkelingsprogram.

Raadslede

Die Raad het 'n nuwe lid, dr Lihle Qulu, verwelkom. Sy is 'n neurowetenskaplike en senior dosent in Menslike Fisiologie in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Dr Qulu is vir die termyn 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2022 deur permanente akademiese personeellede (nie-Senaatslede) verkies, en vul die vakature van prof Johan Fourie, wat nou op die Senaat dien).

Die Raad het geluk gesê aan prof Amanda Gouws, wat genooi is om as 'n raadgewer vir die Wêreldbank se nasionale genderverslag op te tree; prof André Keet, wat 'n pos as viserektor by Nelson Mandela Universiteit aanvaar het; dr Tsakani Ngomane, wat haar as senior dosent by die Universiteit van Pretoria sal aansluit; en me Christelle Feyt, wat as die US se senior direkteur van Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking aangestel is.

Daarbenewens het die Raad afskeid geneem van mnr Lewis Mboko en me Ingrid Heydenrych, albei lede van die uittredende Studenteraad (SR), met waardering vir hul dienste aan die Raad die afgelope jaar. Die nuwe SR-lede wat in die Raad sal dien, sal die vergadering in November bywoon.

Die Raad het die aanstelling van me Nadine Moodie in die Raad se Beleggingskomitee bevestig. Me Moodie, wat deur die Beleggingskomitee benoem is, sal prof Johan Fourie vervang, wie se termyn in Junie verstryk het.

Prof Reggie Nel, dekaan van die Fakulteit Teologie en 'n Raadslid, is as plaasvervanger vir prof Fourie in die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee (SBEK) aangestel.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die US Raad vind op 30 November 2020 plaas.