Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vindingrykheid help TygerMaties om Covid-19 beperkinge te bestuur
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 23/09/2020

​ʼn Innoverende nuwe kliniese opleidingsplan het vyfdejaar mediese studente aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) in staat gestel om beperkinge wat op die opleidingsplatform geplaas is weens die Covid-19 pandemie te omseil.

Was dit nie vir die IDEAL-plan (Integrated Distributed Engagement to Advanced Learning) nie, sou vyfdejaar mediese studente gesukkel het om al vanjaar se kliniese rotasies in te haal voordat hulle einde volgende jaar graadvang. Kliniese rotasies is die praktiese deel van mediese en gesondheidswetenskappe studente se opleiding, en kan slegs uitgevoer word in ʼn kliniese omgewing, soos ʼn hospitaal, kliniek of versorgingstehuis.

Die IDEAL-rotasie stel studente in staat om na ʼn uniek-ontwikkelde leerplatform terug te keer wat verseker dat almal te midde van beperkte plasingsmoontlikhede geakkommodeer word.

Onder nie-pandemiese omstandighede sou die vyfdejaars se kliniese rotasie begin Augustus vanjaar afgeskop het in die Tygerberg-hospitaal en ander opleidingsfasiliteite. Aangesien hierdie persele, en veral Tygerberg-hospitaal onder groot druk is weens Covid-19, was daar ʼn strategiese besluit gemaak deur die FGGW se bestuurspan en die Departement van Gesondheid om finalejaar studente te prioritiseer, en die meer junior studente se terugkeer na die kliniese platform te vertraag.

A span kollegas, gelei deur dr Therese Fish, FGGW Vise-dekaan: Kliniese Diens en Sosiale Impak, dr Kobus Viljoen van die Landelike Kliniese Skool in Worcester, en prof Michael Pather van die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, het die bestuur van openbare sektor-hospitale in die Wes- en Noord-Kaap gekontak om te bepaal hoeveel plekke daar op die kliniese platform beskikbaar is.

​Viljoen is deur prof Julia Blitz, FGGW vise-dekaan: Leer en Onderrig aangestel om die IDEAL-rotasiespan te lei. ʼn Ontwerpspan, wat twee vyfdejaar mediese studente, Luné Smith (klasleier) en Ntsako Mtileni (uitgaande Tygerberg-studenteraad voorsitter) ingesluit het, het die strategie vir die IDEAL-rotasie ontwikkel.

Met 160 kliniese plekke uiteindelik vir 256 studente beskikbaar, het dit beteken dat daar kreatief gedink moes word. Die uiteinde was die IDEAL-rotasie, wat behels dat almal uitgestuur word, maar dat hulle afwisselend een dag op die hospitaalperseel en die volgende weg van die kliniese omgewing deurbring, maar steeds leer.

Die studente is in groepe van tussen twee en veertig uitgeplaas. “Van die groot groepe is in die metro, asook verder weg in Worcester en Paarl," sê Viljoen. Kleiner groepies is uitgeplaas na plekke soos De Aar, Calvinia en Springbok in die Noord-Kaap of Hermanus en Bredasdorp in die Overberg, asook ander persele in die Wes-Kaap. In totaal word 18 persele gebruik.

In minder as ʼn maand moes die logistiek van verblyf, vervoer en inligting- en kommunikasietegnologie vir 256 studente gereël word. “Die SUNLOC span, onder leiding van Georginia Stam en Nicole Crow het wondere verrig om dit te laat gebeur," sê Fish.

Tydens die nuwe rotasie, wat op 24 Augustus begin het en op 13 November eindig, gebruik die studente twee toepassings (“apps").

Die een is die reeds bestaande Vula Mobile, wat aangepas is sodat die studente in ʼn baie spesifieke formaat kan leer, en die ander een My Clinical Logbook, wat binnenshuis deur die FGGW-kenners geskep is.

Die selfgerigte leeraanslag verskil aansienlik van vroeër deurdat die interaksie met die pasiënt die student se leerervaring dryf en daar nie ʼn uitgewerkte, gestruktureerde kurrikulum is nie. “Jy gaan na die pasiënt toe en vind baie vinnig uit hoe iets werk of waaroor jy onseker is," verduidelik Viljoen.

Studente word in groepies van vyf tot agt aan leerfasiliteerders toegewys. Dié fasiliteerders kommunikeer deur middel van die apps met die studente en gee raad oor die leerproses en kliniese beredenering.

In die praktyk sal ʼn student oor ʼn tweeweek-tydperk die een week op ʼn Maandag, Woensdag en Vrydag op die hospitaalperseel wees en die volgende week op die Dinsdag en Donderdag. Op elk van hierdie dae word een pasiënt op Vula Mobile gelog. Is die student onseker oor ʼn spesifieke behandeling, is dít waarop hy die volgende dag (weg van die hospitaal) fokus.

Op SUNLearn is ook ʼn forum vir al die verskillende kliniese dissiplines. Het die studente vrae, kan hulle dit daar plaas en sal die toegewese lektore dit beantwoord of deur middel van ʼn artikel, potgooi of YouTube-video toelig.

IDEAL dek al elf groot dissiplines waarmee die studente in hul sesde jaar te doen sou gekry het.

“Dis bietjie soos ʼn toetslopie vir groter geïntegreerdheid ten opsigte van al die dissiplines en ʼn lekker manier om ervaring op te doen en te leer," sê Viljoen.

Omdat dit ʼn nuwe soort leerervaring is, is daar buiten die fasiliteerders ook ander ondersteuning, met die klinikus op die hospitaalperseel die eerste ondersteuningsvlak. Verskeie personeellede, wat die welwees ondersteuners genoem word, skakel oor gereeld met studente – 10 studente is aan elke welwees ondersteuner toegeken.

IDEAL staan volgens Viljoen op twee bene: Diens en leer. “Ons probeer ʼn leergeleentheid skep, maar kyk ook hoe ons die gesondheidstelsel kan help. Die gedagte is dat die studente deel raak van die plaaslike kliniese span en hulle bereid verklaar om dinge te doen wat nie noodwendig as akademies oorkom nie, maar waardeur hulle baie sal leer."

“Niks hiervan sou moontlik gewees het sonder die personeel by die gesondheidsfasiliteite waar die studente geplaas is nie, die pasiënte wat hierdie fasiliteite besoek, talle personeellede by die universiteit, en die leierskap van Departement van Gesondheid in die Wes-Kaap, asook die Noord-Kaap Gesondheidsdepartement," sê Fish.


Onderskrif: FGGW-studente doen ervaring op, op die kliniese platform. Foto deur Stefan Els.