Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Departement Politieke Wetenskap onder die beste in SA ​
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 21/09/2020

Die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch is onlangs aangewys as een van die bestes in Suid-Afrika deur die Academic Ranking of World Universities (ARWU), gebaseer op die kwaliteit van die akademiese werk aangebied in hierdie departement in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

“Politieke Wetenskap is 'n instrument wat gebruik word om die wêreld om ons waar te neem, te analiseer en interpreteer. In hierdie vreemde tye help hierdie dissipline ons om sin te maak van die sosio-ekonomiese gevolg van kulturele en politieke optrede. Ons pas die dissipline toe op 'n globale skaal om geopolitieke neigings te analiseer, maar dit is net so toepaslik om plaaslike verwikkelings te verklaar."

“Gevolglik wissel ons graduandi van die vervulling van rolle in plaaslike regering, tot die private sektor en groot internasionale organisasies. Die departement se alumni het 'n skerp begrip van 'n veranderende wêreld en sake wat verband hou met geslag, ras, sosiale ongelykheid en internasionale sake, om maar net 'n paar aspekte te noem," sê dr Derica Lamberchts, Voorsitter van die Departement Politieke Wetenskap.

Ander Suid-Afrikaanse universiteite wat hoog op die lys vir Politieke Wetenskap pronk is die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Kaapstad. Altesame 400 ander universiteite reg oor die wêreld verskyn ook op die lys, waaronder Harvard Universiteit, Stanford Universiteit, die London School of Economics and Political Science, en Yale Universiteit.

Die ARWU ranglys word elke jaar gepubliseer deur die Shanghai Ranking Consultancy, 'n onafhanklike organisasie wat fokus op navorsing oor hoër opvoeding intelligensie en konsultasie.

Vier-en-vyftig (54) vakke binne die Natuurwetenskappe, Sosiale Wetenskappe, Ingenieurswese, Lewenswetenskappe en Mediese Wetenskappe is in 2020 gelys. Die wêreldwyse ranglys van akademiese vakke vir 2020 is bepaal gebaseer op die aantal navorsingspublikasies gepubliseer tussen 2014 en 2018 in 'n spesifieke veld. Universiteite wat op die ranglys verskyn moes 'n sekere hoeveelheid navorsingspublikasies in daardie tyd geproduseer het. Die aantal navorsingspublikasies word bereken deur bibliometriese data wat verkry word via Web of Science en InCites.

'n Totaal van 4 000 universiteite wêreldwyd is vir vakke gelys in 2020.

ARWU is elke jaar ook verantwoordelik vir die algehele ranglys van 1 800 universiteit reg oor die wêreld, waarvan die top 1 000 gepubliseer word. Dit word beskou as een van die leidende ranglys-stelsels ter wêreld en het 'n sterk fokus op navorsing.

“Ons departement het baie hard gewerk oor die laaste aantal jaar om ons nagraadse getalle en navorsingsuitsette te verhoog. Ons het tans ses NRF-gegradeerde navorsers. Ons het ook 'n baie breë omvang van navorsing aangesien personeellede baie diverse navorsing-belangstellings het. Dit, en die handhawing van uitstekende onderrigstandaarde, het grootliks bygedra tot die uitbreiding van die departement se reputasie nasionaal en internasionaal," voeg Lambrechts by.