Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kenner oor ervaringgerigte opvoeding spreker by US-konferensie
Outeur: Student Affairs / Studentesake
Gepubliseer: 22/09/2020

​'n Wêreldbekende vakkenner en kennisskepper op die gebied van ervaringgerigte opvoeding is onder die uitgelese hoofsprekers op die program van die Universiteit Stellenbosch se Konferensie oor Ervaringgerigte Opvoeding (SUEEC), wat in November 2020 plaasvind.

Prof George Kuh, stigtersdirekteur van die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Leeruitkomsassessering (NILOA) en emeritus kanseliersprofessor aan die Universiteit van Indiana, sal as een van die hoofsprekers in die konferensiestroom Navorsing en innovasie in ervaringgerigte opvoeding met SUEEC-deelnemers in gesprek tree. Prof Kuh, aan wie van die belangrikste instrumente en raamwerke in hedendaagse hoër onderwys toegeskryf word, het al meer as 400 publikasies die lig laat sien en etlike honderde aanbiedings oor onderwerpe soos institusionele verbetering, studentebetrokkenheid, assesseringstrategieë en kampuskultuur gelewer. Sy onlangse boeke sluit in Using Evidence of Student Learning to Improve Higher Education (2015), Ensuring Quality and Taking High-Impact Practices to Scale (2013), High Impact Practices (2008), Piecing Together the Student Success Puzzle (2007) en Student Success in College: Creating Conditions That Matter (2005, 2010).

Kuh is boonop die stigter van die Universiteit van Indiana se Sentrum vir Postsekondêre Navorsing, en die skepper van die Amerikaanse nasionale opname oor studentebetrokkenheid sowel as verbandhoudende instrumente vir regstudente, nuwelingstudente en akademiese personeel. In sy hoedanigheid as NILOA-stigtersdirekteur en aanvoorder van die Strategiese Nasionale Kunste-alumniprojek (SNAAP) was hy die eerste om 'n dieptestudie te onderneem oor die faktore wat die loopbane van die gegradueerdes van kunsintensiewe hoërskole en postsekondêre instellings bevorder of bemoeilik.

By die SUEEC sal prof Kuh 'n meesterklas oor Navorsing en innovasie in ervaringgerigte opvoeding aanbied. Die SUEEC is 'n aanlyn konferensie oor ervaringgerigte opvoeding wat die Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringgerigte Opvoeding en Burgerskap (SSLEOB) van die Afdeling Studentesake op 10 en 11 November 2020 sal aanbied. Die konferensiestroom Navorsing en innovasie in ervaringgerigte opvoeding verken ervaringgerigte onderrig en leer as 'n nuwe terrein in hoëronderwysnavorsing en -innovasie om op dringende humanitêre behoeftes en kwessies van maatskaplike geregtigheid te reageer. Die integrasie van ervaringgerigte opvoeding by die kurrikulum bied opwindende nuwe moontlikhede vir akademieskap en navorsing. 'n Nougesette en goed ontwikkelde agenda vir akademieskap op die gebied van ervaringgerigte opvoeding kan innovasie tot gevolg hê wat instellings hulle huidige beperkinge kan help te bowe kom.

“Dit is 'n besondere voorreg en eer om prof Kuh as 'n hoofspreker en meesterklasaanbieder by die SUEEC te verwelkom. Sy werk gaan voort om ons teoretiese benadering en ervaringsleermetodologie te beïnvloed," sê Ruth Andrews, voorsitter van die SUEEC-beheerkomitee en bestuurder van die US se Ko-kurrikulumkantoor in die SSLEOB. Ander hoofsprekers by die SUEEC sluit in proff Alice Kolb, Thuli Madonsela, Jonathan Jansen, Arnold Schoonwinkel, Hester Klopper, dr Choice Makhetha en mnr Mustafa Erdogan.

  • Vroeë registrasie vir die SUEEC was tot 20 September 2020 oop. Gewone registrasie is vanaf 21 September oop en sluit op 27 Oktober. Skakel gerus op 10 en 11 November in vir hierdie opwindende aanlyn geleentheid.

    Gaan vandag na www.sueec.com en registreer om aan die wêreldwye gesprekke by die SUEEC 2020 deel te neem.