Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Anton Lubowski 'die verpersoonliking van maatskaplike geregtigheid'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 17/09/2020

Die tweede Anton Lubowski-gedenklesing wat hulde gebring het aan die anti-apartheidsaktivis en advokaat onder die tema Social Justice, Quo Vadis - Is Social Justice happening?, is op Saterdag 12 September 2020 aanlyn gehou.

Dié geleentheid is aangebied deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge in vennootskap met die Fakulteit Regsgeleerdheid en Simonsberg-manskoshuis.

Lubowski was in die sewentigerjare 'n student in Stellenbosch en 'n inwoner van Simonsberg-koshuis. Hy het aanvanklik in 1972 vir 'n BCom-graad aan die US ingeskryf, maar het in 1973 sy studierigting na 'n BA-regsgraad verander. Hy het in Maart 1976 gegradueer. 

Die sprekers by die geleentheid was regsgeleerde, akademikus en mediapersoonlikheid, regter Dennis Davis; sielkundige en houer van die navorsingsleerstoel in Historiese Trauma- en Transformasiestudies aan die US, prof Pumla Gobodo-Madikizela; en dr Ismail Lagardien, 'n vooraanstaande skrywer en kommentator. Max du Preez, skrywer, kommentator en redakteur van Vrye Weekblad, was die moderator.

Du Preez, 'n goeie vriend van Lubowski, het gesê hoewel Anton 'n passievolle Namibiese patriot was, het hy tog baie jong Suid-Afrikaners geïnspireer.

“Die dryfveer agter Anton se passievolle verbintenis tot die stryd in Namibië was sy fundamentele sin vir regverdigheid. Hy was bereid om sy lewe op die spel te plaas in die strewe na sosiale, ekonomiese en politieke geregtigheid en die menswaardigheid van gewone Namibiërs."

Du Preez het hom vergelyk met 'n ander bekende advokaat en aktivis George Bizos wat op 9 September 2020 oorlede is.

“Hulle is albei gemotiveer deur geregtigheid eerder as ideologie. Hulle het bewys dat witmense inderdaad volbloedige Afrikane kan wees."

Hy het die feit betreur dat die strafregstelsels van Namibië en Suid-Afrika, 31 jaar na Anton se moord, nog steeds nie die Lubowski-familie kan sê waarom Anton vermoor is en deur wie nie.

Davis, wat in 1977 Lubowski se dosent aan die Universiteit van Kaapstad was, het gesê hy ervaar gemengde emosies as hy oor die lewe van dié dapper held besin.

 “Ek is baie trots daarop dat ek Anton in my eerste jaar as regsonderwyser as een van my studente raakgeloop het. Dit is ook waar dat ek 'n groot bewondering vir hom het. Hy was charismaties, hy het uitgestaan."

“Maar daar is ook 'n gevoel van frustrasie. Ons sukkel in Suid-Afrika om 'n nuwe opvatting van identiteit te ontwikkel om die verdeeldheid van ras, geslag en seksuele oriëntasie te oorskry. As ons maatskaplike geregtigheid wil nastreef, moet ons die lesse uit Anton se lewe ter harte neem. Hy het verstaan dat geregtigheid nie grense van kleur of geslag het nie."

Gobodo-Madikizela het gesê die voorbeelde van Lubowski en ander soos hy is die verpersoonliking van die soort stryd vir maatskaplike geregtigheid wat verantwoordelike burgerskap inspireer.

“Maar steeds vandag, terwyl die land onder COVID-19 ly, ervaar ons die voortdurende onreg van 'n ANC-regering se gebrek aan aanspreeklikheid. Ons land gaan gebuk onder verkragting, moord en onmenslike dade wat ontelbare lyding veroorsaak en nog steeds kyk die regering die ander pad."

Sy het gesê dat 'n toewyding tot liefde en solidariteit, waarvan Lubowski se lewe kan getuig, nou nodiger as ooit is.

“Liefde het alles te doen met maatskaplike geregtigheid. Dit is die afwesigheid van liefde en omgee vir ander mense wat hul ontmensliking tot gevolg het. Die skitterende nalatenskap van Anton is sy liefde vir die mensdom. Dit is die kenmerk van mense soos hy."

Lagardien het uigebrei oor die definisies van maatskaplike geregtigheid ­en voer aan dat waardigheid en respek by die lys gevoeg moet word.

“Ons het groter gelykheid aan goedere en dienste nodig, gelyke en effektiewe industriële en politieke regte en die kennis en taal om jouself in 'n geregshof te verdedig. Dan moet jy waardigheid en respek daarin insluit."

Hy het bygevoeg dat meer gedoen moet word om die masjinerie van maatskaplike ongeregtigheid te ontspoor.

“Die instellings wat ons in die samelewing skep, het die mag om ongelykheid te herproduseer. Ons moet kyk na dié instellings en sorg dat dit nie gebeur nie. Soveel van die swaarkry van die armste mense, is die gevolg van doelbewuste beleid. "​