Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19 stuit nie internasionalisering by SU
Outeur: Hester Klopper
Gepubliseer: 14/09/2020

Te midde van 'n reisverbod en sosiale afstandskepping weens die COVID-19-pandemie, moes universiteite innoverende maniere vind om deel van die wêreldwye kennisekonomie te bly en hul pogings in internasionalisering – 'n belangrike aspek van hoër onderwys in die 21ste eeu – voort te sit, skryf PROF HESTER KLOPPER, Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch, in n artikel vir University World News (10 September).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Ons hoor en sê dikwels dat globalisasie die wêreld soveel kleiner gemaak het. Jy kan binne 'n dag reg rondom die wêreld reis, verskillende kulture beleef net wanneer jy wil en 'n wêreldburger wees wat in uiteenlopende kontekste werk. Tegnologie het baie daartoe bygedra om hierdie ervarings te verseker en te verryk.

Net so het hoëronderwysinrigtings wêreldwyd die afgelope paar dekades 'n fokus op internasionalisering by hul strategie, navorsing, onderrig en leer ingesluit en gee hulle voorrang aan die bou van omvattende vennootskappe met instellings in ander lande. Om aan studente en personeel 'n internasionale ervaring te gee en die sluit van samewerkingsooreenkomste in navorsing is die pilare waarop universiteite se internasionaliseringspogings rus.

Internasionalisering bied aan studente die geleentheid om vaardighede te ontwikkel wat met globale bevoegdhede verband hou sodat hulle globaal-betrokke burgers van die 21ste eeu kan wees. Uitruilprogramme is rondom interkulturele leeruitkomste ontwikkel en met die verloop van tyd is 'n meer strategiese benadering toegepas om vennootskappe (navorsing en ander soorte) met instellings en netwerke in die buiteland te bevorder.

Universiteite is self ook wêreldburgers in hoër onderwys en neem op verskillende vlakke in 'n internasionale gemeenskap van eendersdenkende instellings deel. Een van hierdie vlakke is universiteitsranglyste, met verskillende ranglyste wat sekere data vereis om 'n instelling se prestasie te beoordeel. Ranglyste, gekoppel aan duidelike kommunikasie- en bemarkingstrategieë, het 'n instrument geword om openbare menings oor hoëronderwysinrigtings wêreldwyd te beïnvloed.

Ten einde vandag doeltreffend in die hoëronderwyssektor te funksioneer, moet instellings daarna strewe om hul internasionale reputasie uit te bou en bande wêreldwyd te smee. Die Universiteit Stellenbosch (US) is geen uitsondering nie. Ons bou reeds sedert 1993 aan ons internasionale verhoudinge en in 1997 is die eerste Internasionale Kantoor by die US op die been gebring om vennootskappe te bou en geleenthede vir personeel- en studentemobiliteit tussen instellings te skep. Gedurende die eerste twee dekades van internasionalisering by die US is daar op kurrikulumontwikkeling, internasionale studentemobiliteit en samewerking tussen navorsingsgroepe gefokus.

Maar in 2019 is 'n nuwe strategie vir internasionalisering in plek gestel wat ons toelaat om verder as hierdie aspekte te beweeg en wat groter klem op navorsing en innovasie plaas. In wese het hierdie fokusgebiede besoeke aan die buiteland en vergaderings in persoon met ons universiteitsvennote en netwerke vereis.

Terwyl die COVID-19-pandemie voortgaan om ons wêreld op sy kop te keer, het ons gewone internasionaliseringspraktyke en -metodes skielik uitgedien geraak. Huidige projeksies dui daarop dat die verbod op internasionale reis tot aan die einde van 2020 of selfs tot vroeg 2021 sal geld. In 'n wêreld waar dit nou vir alle praktiese doeleindes verbode is om grense oor te steek om ander kulture, onderwysstelsels en maniere van leer en die deel van kennis te ervaar, moes universiteite innoverende maniere vind om internasionalisering voort te sit.

Selfs al sou internasionale reis vroeër toegelaat word, het die huidige situasie ons nie net nuwe praktyke laat gebruik nie; dit het ons ook opnuut laat nadink oor hoe ons internasionalisering in hoër onderwys beoefen sonder om grense oor te steek. Gedurende hierdie tyd het universiteite alternatiewe en nuwe maniere verken om hul doelwitte vir internasionalisering te bereik. Dit het beteken dat internasionale beweeglikheid tussen universiteite en netwerke na die virtuele ruimte verskuif het.

By die US het interaksie byvoorbeeld na digitale platforms verskuif waar deelnemers steeds idees en kennis met mekaar kan deel. Die verwelkomings- en oriëntasieprogramme van nuweling-internasionale studente het aanlyn verskuif, ons het die eerste webinaar aangebied om semesterstudente in die buiteland te ondersteun met 'n fokus op studente-welstand, en webinaars is ook aangebied om met akademici van universiteitsvennote oor verskeie onderwerpe en in konferensies in gesprek te tree.

Om aanlyn te verskuif het 'n noodsaaklike dog simplistiese taktiek geword met aanlyn-vergaderings en geleenthede wat per regstreekse stroomuitsendings aangebied word wat aan die orde van die dag is. Maar binne die konteks van internasionalisering het dit ons in staat gestel om met 'n lewensbelangrike deel van hoër onderwys voort te gaan wat die relevansie en volhoubaarheid van universiteite in die toekoms sal verseker. Ons moet aanhou om interkulturele en wêrelddimensies by ons aanbieding aan studente en by die impak wat ons deur ons navorsing op die samelewing het, te integreer.

Deur deel van 'n internasionale gemeenskap van hoëronderwysinrigtings te wees, kan universiteite hul doel, funksies en programme uitbrei. Dit stel studente en personeel in staat om 'n betekenisvolle bydrae wêreldwyd te maak deur leer en onderrig, navorsing en innovasie en werk wat met die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte verband hou. En dit verskaf aan universiteite 'n derdestroominkomste deur navorsingskontrakte en programme wat vir internasionale studente aangebied word. Dit maak dit moontlik om mobiliteitsgeleenthede vir ons eie studente en personeel uit te brei.

Die waarde van internasionalisering strek egter verder. Die COVID-19-pandemie dien as voorbeeld, met talle navorsers wat wêreldwyd saamwerk om die verskillende uitdagings aan te spreek wat die wêreld tans in die gesig staar – van die ontwikkeling van 'n entstof teen die virus tot ondersoeke oor die uitwerking op ekonomieë en samelewings. Om die denke van verskeie wetenskaplikes byeen te bring het baie goeie vrugte afgewerp ten opsigte van die vordering wat in navorsing oor COVID-19 gemaak is.

Daar is groot gewag gemaak van ons voorbereidings vir die “volgende normaal" en ons gaan die samewerkende denke van akademici nodig hê om samelewings voor te berei op dít wat voorlê nadat die gesondheidskwessies rondom COVID-19 aangespreek is. 'n Mens kan self sê dat alle aspekte van die lewe soos ons dit geken het, gaan nou heringestel word, maar daar is nog nie duidelikheid oor wat dit presies beteken nie. Hiervoor het ons die interdissiplinêre denke van rolspelers wêreldwyd nodig.

Dit is in tye soos hierdie dat ons die waarde van internasionalisering in hoër onderwys in die oplossing van wêreldkwessies sien wat die mensdom nou en in die toekoms in die gesig sal staar. Die waarde lê nie net daarin om kundiges van regoor die wêreld met mekaar in aanraking te bring en om samewerkende navorsing moontlik te maak nie; internasionalisering verskaf aan studente en akademici die nodige vaardighede vir interkulturele vennootskappe om globale oplossings vir globale uitdagings te vind.

Internasionalisering het beslis vir altyd 'n mag in hoër onderwys geword, ongeag die grootte of reputasie van 'n instelling – en dit sal en moet voortgaan om 'n mag te wees in 'n ongewone tyd en in die toekomstige “volgende normaal". Namate universiteite die manier waarop hulle in leer, onderrig en navorsing funksioneer, aanpas en innoveer, moet hulle ook voortgaan om met internasionale vennote en netwerke saam te werk om innoverende, nuwe praktyke te ontwikkel ten einde internasionalisering in hoër onderwys verder te ondersteun.