Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WWF-verslag: twee-derde afname in wildlewe populasies sedert 1970
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 10/09/2020

Prof Guy Midgley van die Universiteit Stellenbosch is een van 125 spesialiste vanoor die wêreld wat bygedra het tot die Wêreld Wildlewe Fonds (WWF) se Living Planet 2020 verslag wat vandag gepubliseer is.

Prof Midgley, 'n internasionaal erkende leier op die gebied van biodiversiteit en klimaatsverandering, is verbonde aan die Departement Plant- en Dierkunde aan die US.

Die Living Planet Report 2020 verskaf 'n omvattende oorsig van die toestand van ons natuurlike wêreld deur middel van die Lewende Planeet-indeks. Hierdie indeks, wat deur die Soölogiese Vereniging van London verskaf word, volg al sedert 1970 globale tendense in die voorkoms van wildlewe.

Volgens 'n mediaverklaring wat deur die WWF uitgereik is, wys die Lewende Planeet-indeks dat daar tussen 1970 en 2016 'n afname van 68% in die globale voorkoms van gewerwelde diere was. Dié afname word hoofsaaklik toegeskryf aan die vernieting van natuurlike habitat en die gebruik van en handel in wildlewe.

In die afdeling “Deep dive into biodiversity in a warming world", skryf Prof Midgley dat een-vyfde van wilde spesies binne hierdie eeu die risiko van uitsterwing in die gesig staar, net as gevolg van klimaatsverandering en selfs ten spyte van daadwerklike pogings om die impak daarvan te verminder. Selfs meer kommerwekkend is die feit dat onlangs modelle toon dat veranderde klimaatstoestande daartoe gaan lei dat verskeie spesies binne 'n ekosisteem bykans gelykertyd hul toleransievlakke gaan bereik – dit kan tot skielike verliese in biodiversiteit lei. Wêreldwyd is veral biodiversiteitsbrandpunte, soos die Kaapse Fynbos en die Sukkulente Karoo, veral vatbaar vir sulke impakte.

Volgens Midgley kan hierdie risiko's net vermy word indien ons ons gebruik van fossielbrandstowwe verminder: “Indien ons voortgaan soos nou, sal tropiese oseane binne 'n dekade oor die drumpel gestoot word, en tropiese woude binne 'n halfeeu.

Indien globale temperature globaal met meer as 4° C vermeerder, sal 15% van ekologiese gemeenskappe oor die drumpel gestoot word. Indien ons globale verwarming onder 2°C hou, verminder die impak na minder as 2%, verduidelik hy.

Prof Midgley is ook betrokke by die SPARC-program, waarvan die doel is om modelle te ontwikkel om die vatbaarheid van Afrika se biodiversiteit op klimaatsverandering te verstaan. Hul werk het getoon dat indien meer grond vir bewaring beskikbaar gestel word, dit aansienlik die impakte van klimaatsverandering op beide die regionale en globale vlak verminder.

Volgens die Living Planet Report 2020 is daar grootskaalse en ambisieuse bewaringspogings nodig om die situasie om te keer, asook 'n transformasie in hoe ons kos produseer en gebruik. In hierdie opsig doen die WWF 'n dringende beroep vir optrede om die die vernietiging van natuurlike habitatte te beëindig en ons voedselsisteem te hervorm.

In die Voorwoord tot die verslag skryf Marco Lambertini, direkteur-generaal van WWF Internasionaal, dat “'n diep en kulturele verskuiwing dringend nodig is, een wat ons samelewing tot dusver nog nie kon vermag het nie: die oorgang na 'n samelewing en ekonomiese sisteem wat waarde aan die natuur heg, ophou om dit as vanselfsprekend te aanvaar, en te erken dat ons meer van die natuur afhanklik is as andersom."