Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Multi-nasionale studie evalueer nuwe TB toetse vir diagnose en behandeling
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Michelle Galloway
Gepubliseer: 07/09/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n toekenning van R128 miljoen ontvang van die Amerikaanse Nasionale Institute vir Gesondheid (National Institutes of Health, NIH) om navorsing te doen oor nuwe tuberkulose diagnostiese en genetiese toetse in 'n multi-nasionale navorsingstudie. Dié toekenning is bo en behalwe die R65 miljoen wat ontvang is van die Europese Unie (EU) se Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe Vennootskap (European and Developing Countries Clinical Trials Partnership, EDCTP) om ook die nuwe diagnostiese toetse te ondersoek.

“Ons doel is om 'n globale kliniese projek te onderneem om reg langs mekaar die mees belowende nuwe TB toetse te vergelyk vir gebruik in 'n verskeidenheid gesondheidsopsette. Ons het ervare kliniese versorgingspunte ingesluit in Afrika (Suid-Afrika, die Republiek van Gambië en Oeganda) en Viëtnam, asook laboratoriums in die VSA en Europa, om die effektiwiteit van gevorderde nuwe TB toetse van naderby te beskou in kohorte wat volwassenes, kinders en mense wat saamleef met MIV en tipe-2 diabetes insluit," het prof Gerhard Walzl gesê. Hy is die hoofnavorser en Uitvoerende Hoof van die Departement van Biomediese Wetenskappe by die US se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Die studie sal vyf jaar lank duur, sal byna 4000 deelnemers hê, en sal ondersoek instel na sewe nuwe toetse, met die doel om hulle te evalueer op grond van hoe hulle aktiewe TB diagnoseer; hoe hulle die uitkomste van behandelingsresponse weergee; en om diegene te identifiseer wat 'n risiko het om aktiewe TB te ontwikkel. Evaluasies sal by versorgingspunte gedoen word, asook by distriks- en sentrale laboratoriums.

Alhoewel sterftes as gevolg van TB wêreldwyd afneem, sal die voldoening aan die Wêreld Gesondheidsorganisasie se END TB doelstellings beteken dat daar 'n behoefte bestaan vir dramaties verbeterde diagnose en behandeling. Die meeste sterftes as gevolg van TB is voorkombaar, maar miljoene pasiënte word nooit gediagnoseer of behandel nie, as gevolg van ontoereikende toetse wat óf nie sensitief genoeg is nie, óf wat 'n gesofistikeerde laboratorium-infrastruktuur vereis. Variërende diagnostiese kapasiteit kan binne een land bestaan, daarom word 'n omvattende reeks van diagnostiese toetse benodig wat gepas is vir spesifieke opsette.

“Die meeste van ons nuwe toetse is veeldoelig en werk deur middel van die identifikasie van genetiese- of inflammasie merker patrone in monsters wat maklik verkrygbaar is, soos bloed afkomstig van 'n vingerprik-toets," het Walzl gesê.

“TB is 'n spesifieke probleem in hierdie lande," het hy bygevoeg. “Versorgingspunt-toetse wat die dringendheid van behandeling aandui word in die besonder benodig. Baie mense moet vir TB getoets word, maar dit kan op 'n logistieke vlak 'n uitdaging wees. As jy byvoorbeeld na 'n landelike gebied gaan en jy doen 'n speekseltoets op iemand wat simptome toon, en die monster word na 'n stedelike laboratorium vir toetsing geneem, moet jy wanneer die uitslae terugkom daardie persoon opspoor om die uitslag aan hulle te gee. Met hierdie tradisionele benadering is daar baie gevalle wat eenvoudig nie opgevolg kan word nie. Met 'n vingerprik-toets kan jy onmiddellik vasstel wie duurder en tegnies meer gevorderde toetsing benodig, en skaars hulpbronne kan aangewend word om diegene te help wat die meeste baat daarby sal vind."

Die bestuur van behandeling is ook 'n uitdaging.

“Tans genees ons slegs sowat 80% van gevalle, meestal as gevolg van onderbrekings in die behandeling en nie as gevolge van middelweerstandigheid nie," het Walzl gesê.

Die standaard aangesig-tot-aangesig ses-maandelange behandeling is dikwels problematies vir mense wat voltyds werk, of wat nie vervoer het om daagliks hulle medikasie by te klinieke te gaan haal nie. Kliniese proewe het daarop gedui dat 80-85% van pasiënte met middelvatbare TB na vier maande heeltemal genees is. 'n Diagnostiese toets wat aandui wanneer steriliseer genesing behaal is, sou 'n groot deurbraak wees. Korter behandelingsgperiodes sou koste bespaar, kan moontlik meer pasiënte die korrekte behandelingsregime laat volg, en sou beslis op 'n logistieke vlak minder van 'n uitdaging wees.

“Hierdie studie sal dus toets om te sien watter pasiënte na vier maande van behandeling wel aanduidings toon van genesing," het Walzl gesê.

Die studie sal ook ondersoek instel na die effek van diabetes en MIV op die TB toetse. Beide diabetes en MIV het 'n invloed op immuunresponse en dit is moontlik dat hulle die pasiënt se patrone kan verander.

“Dit sal belangrik wees om 'n patroon te hê wat robuust genoeg is om nie nadelig geaffekteer word deur MIV en diabetes nie," het Walzl verduidelik. “Omtrent 'n derde van diegene wat ons vir TB ondersoek is ook MIV-positief. En, in sommige areas, het 25% van die bevolking diabetes."

Daar word ook beplan om ondersoek in te stel na die vermoë van toetse om te kan onderskei tussen TB en Covid-19 infeksie.

“Dit is die kulminasie van 15 jaar se werk wat gedoen is deur die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad en ons kollegas in Oeganda en in die Republiek van Gambië," het Walzl gesê. “Ons het die studies gedoen en die data gegenereer waaruit van die bloed patrone in die toetse ontwikkel is. Baie van hierdie werk is in Suid-Afrika gedoen. So, op 'n manier is dit 'n oplossing uit eie bodem vir 'n Afrika-probleem."

 

Navorsingsmedewerkers:

  • Die Departement of Biomediese Wetenskappe, Stellenbosch Universiteit
  • SA Tuberculosis Vaccine Initiative, UCT
  • MRC TB Research Unit, Republiek van Gambië
  • Vietnam Wellcome Africa Asia Programme/Oxford University Clinical Research Unit
  • Colorado State University
  • Linq Management, Duitsland

Leiden Universiteit Mediese Sentrum, Nederland

Fotos

BANNIER: Mycobacterium tuberculosis onder die mikroskoop. Deur dr Marisa Klopper (SU)

INSETSEL: Prof Gerhard Walzl. Deur Stefan Els