Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingseenheid onder leiding van vroue bemagtig vroue en hul gemeenskappe
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 31/08/2020

Die kwessie van geslagsgebaseerde geweld (GGG) het sinoniem met ons lewe in Suid-Afrika geword. Een navorsingseenheid by die Universiteit Stellenbosch (US) het ten doel om hierdie geweld teen vroue te help verstaan en te voorkom.

Die Eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing (EGON) is 'n kruisdissiplinêre navorsingsgroep wat onder leiding van vroue daarop fokus om die grondoorsake en veelvuldige dimensies van geweld teen vroue en kinders na vore te bring en aan te spreek ten einde nuwe en herhaalde geweld te voorkom.

Volgens dr Elisabet le Roux, EGON se navorsingsdirekteur, help hul navorsing nie net om te verstaan waarom en hoe hierdie geweld gebeur nie; dit word ook gebruik om praktisyns en beleidsformuleerders te help om ingrypings, beleide, protokols en wette te skep wat werklik kan help om geweld te voorkom en slagoffers by te staan.

“Ons doen empiriese navorsing op voetsoolvlak – ons gaan in die gemeenskap in en gebruik verskeie kreatiewe, deelnemende metodologieë om uit te vind wat mense regtig dink, voel en ervaar. Deur ons uitsette – verslae, artikels, webinare, konferensies en gesprekke – bied ons aan hierdie gemeenskappe die geleentheid om werklik die ontwikkelingsagenda te beïnvloed," sê Le Roux.

EGON was egter nie uit die staanspoor onder vroue se leiding nie. Toe die navorsingseenheid in 2002 tot stand gekom het, het slegs mans in die eenheid gewerk. Dit het egter geleidelik 'n feministiese navorsingseenheid geword toe dit in die rigting van Le Roux en die ander vrouenavorsers se navorsingsbelangstelling begin beweeg het.

“Toe ek tien jaar gelede by EGON aangesluit het, het ons al hoe meer werk op die gebied van godsdiens en geweld, veral geslagsgebaseerde en seksuele geweld, begin doen. Deur meer werk oor hierdie kwessie te doen, het ons meer vrouenavorsers gelok wat ook in die kwessiea belanggestel het. Dit was 'n organiese proses en ons het geleidelik 'n feministiese eenheid geword wat deelnemende, samewerkende en nie-ekstraktiewe metodes voorstaan wat rondom vroue se ervarings gesentreer is," sê Le Roux. Sy is saam met dr Selina Palm die dryfkrag agter die navorsingsagenda en aktiwiteite van EGON.

EGON bied 'n unieke navorsingsruimte wat binne die veelvoudige wêrelde van uiteenlopende godsdienste en kulture geposisioneer is. Dit fokus ook op volhoubare ontwikkeling wat niemand agterlaat nie.

Die eenheid het die afgelope twee dekades 'n kritieke, dog konstruktiewe lens op godsdiens en kultuur ontwikkel. Dit bied 'n reeks pasgemaakte dienste soos navorsingstudies, impak- en proses-evaluasies, lewensgehalte-opnames en die ontwikkeling van databasisse en innoverende instrumente aan vir kliënte regoor die wêreld.

Terwyl die COVID-19-pandemie baie navorsingsprojekte by hoëronderwysinrigtings onderbreek of selfs tot stilstand gedwing het, het EGON daarin geslaag om sy werk aan verskillende projekte voort te sit. 

Een van hierdie navorsingsprojekte is in samewerking met die Europese Kommissie se Direkteurgeneraal vir Internasionale Samewerking en Ontwikkeling. EGON help personeel by die Europese Unie (EU) (hul hoofkantoor en op EU-afvaardigingsvlak) met 'n verskeidenheid gevallestudies oor hoe om met godsdienstige rolspelers oor gendergelykheid en/of geslagsgebaseerde geweld in gesprek te tree, asook die uitwerking daarvan op gendergelykheid in projekte en programme wat met ontwikkelingsmedewerking verband hou. EGON werk saam met House of Sarah (Fidji), ABAAD (Libanon), Episcopal Relief & Development (Liberië), SAfAIDS (Suider-Afrika) en Prevention+ (Indonesië) om hierdie gevallestudies te ontwikkel.

Le Roux glo godsdienstige leiers en instellings wêreldwyd is invloedryk en kan 'n uitwerking op mense se oortuigings en gedrag hê om positiewe verandering teweeg te bring. “Mense wil inderwaarheid hê hulle moet dit doen. Ongelukkig word hierdie potensiaal nie altyd benut nie, of dit word vir die bevordering van sosiale en geslagsnorme wat veral vir vroue en kinders skadelik is, aangewend. Ons lê sterk klem op die kruising tussen godsdiens en geweld en ons kyk met 'n kritiese lens na godsdiens en kultuur ten einde positiewe verandering teweeg te bring."

Vir verdere inligting oor EGON en hul navorsingsprojekte, klik hier. ​