Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"Wat is my superkrag? Ek het konversiesteuring. Nie 'konvulsie' nie, KONVERSIE. Die versteekte gestremdheid."
Outeur: Transformation Office | Disability Unit | AfriNEAD
Gepubliseer: 26/08/2020
​“Oe, is dit ʼn groep moontlik hubare jong mans? Nou is die perfekte tyd om chaos te veroorsaak." 

“Is dit die klas wat jy verlede jaar gesak het en wat jy vanjaar desperaat wil slaag? Jy kry nie ʼn meer ideale tyd vir ʼn bietjie chaos nie!"
 
“Jou arme ding, probeer jy om binne 10 minute na ʼn ander gebou toe te loop? Wat ʼn jammerte, ek sien die perfekte geleentheid vir ʼn bietjie chaos." 

Dit is my lyf wat my laat weet dat dit onder druk is. Die chaosreaksie is ʼn volwaardige, stuiptrekkende, kopstampende, tandknersende aanval. Ja, ek het soms grand mal aanvalle wat enigiets tussen ʼn minuut en ʼn halfuur kan duur. 

Wat is my superkrag? Ek het konversiesteuring. Nie “konvulsie" nie, KONVERSIE. Die versteekte gestremdheid. Versteek omdat ek heeltemal gesond lyk tot ek begin vibreer en my oë begin rol. Daar is nie ʼn kuur daarvoor nie, maar dit kan met ʼn paar jaar se terapie weggaan. Maar niemand weet vir hoe lank of met watter spesialisterapeut of hoe lank jy met elke spesialisterapeut moet werk tot iets êrens kliek nie. Alhoewel terapie nie my simptome laat verdwyn het nie, het dit in my geval beslis gehelp om die simptome minder te maak. ʼn Kombinasie van sielkunde, psigiatrie en baie, baie geduld. 

Ek is in 2016, in my matriekjaar, met konversiesteuring gediagnoseer. In 2017 is ek aan ʼn heeltemal nuwe omgewing blootgestel: trappe na my kamer toe, ʼn flink 10-minute stap tussen geboue om lesings by te woon en die helfte van my hoërskool se grootte in een lesingsaal. Dit was opwindend. Ek was mal oor die bedrywigheid – maar my lyf duidelik nie.

My 2017 is gekenmerk deur lesings wat deur die chaos van ʼn aanval tydens ʼn lesing kortgeknip is. Ek is by trappe opgedra, het met die susters by Kampusgesondheid vriende gemaak en was gou bekend in my fakulteit en koshuis as die een met wie jy versigtig moes wees. Nooit te veel opwinding nie. Nooit te veel druk nie. Dit was onwerklik. Dit was vervelig.

Maar toe word ek aan die Universiteit se Eenheid vir Gestremdhede bekendgestel. Die superhelde. Ek het net gevra of my klasse op ʼn manier vir my opgeneem kon word, sodat ek nie al die pad klas toe loop net om ʼn lesing te ontwrig nie. Die Eenheid vir Gestremdhede het my te hulp gesnel: hulle het toerusting van gehalte vir my studie gereël, het gereël dat die opnames gemaak word en het al die kostes gedek. Hulle het al my dosente dadelik gekontak en gereël dat ʼn assistent my na al my dosente vergesel om die situasie aan hulle te verduidelik. Om podsendings by sommige van my dosente te kry, was soos om ʼn tier se tande te trek! 

Daar het die Covid-19-inperking my gered. Met die Eenheid vir Gestremdhede se ondersteuning het aanlyn leer my studie heelwat vergemaklik. Dit het dosente gedwing om al die besonderhede betyds aanlyn te plaas, die assesserings is aanlyn gedoen en as ek ʼn aanval gehad het terwyl ek werk, kon ek rus en werk wanneer dit my pas. 


Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het laat verlede jaar aangekondig dat 2020 die Universiteit se Jaar vir Persone met Gestremdheid sal wees. Die hoogtepunt van die jaar sal die sesde konferensie van African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), 'n hoogaangeskrewe internasionale netwerk, wees wat van 30 November tot 3 Desember 2020 by die US aangebied sal word. Om dit te vier en te eer, sal die Transformasiekantoor en die Eenh​eid vir Gestremdhede, te same met AfriNEAD, maandelikse meningsstukke of artikels deur persone met gestremdhede publiseer. Ons sesde stuk was geskryf deur Lathi Msi, 'n BA ​Geesteswetenskappe student.