Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorser ontvang gesogte internasionale navorsingsbeurs
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking[ Alec Basson]
Gepubliseer: 24/08/2020

Prof Nuraan Davids, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement Opvoedingsbeleidstudie in die Fakulteit Opvoedkunde, is die ontvanger van 'n gesogte navorsingsbeurs van die Sentrum vir Gevorderde Studie in Gedragswetenskappe (CASBS) by die Stanford-universiteit in die VSA.

Sy het die navorsingsbeurs vir haar uitnemende werk oor demokratiese burgerskapopvoeding en Islamitiese opvoedingsfilosofie ontvang, veral vir haar pogings om hierdie twee onderwerpe in gesprek met mekaar te plaas. Deur haar verskeie publikasies het sy daarop aangedring om 'n ander soort oorweging na vore te bring – een wat wegbeweeg van digotomiese begrippe wat as 'Westerse liberalisme' en 'Islamitiese filosofie' vertolk word.

Davids sê sy voel uiters nederig oor haar insluiting, maar ook trots en opgewonde om met 'n ongelooflike groep medenavorsers uit ander wêrelddele in gesprek te tree.

“Ek beskou hierdie geleentheid as 'n reuse voorreg en ook 'n geweldige verantwoordelikheid – nie net om aan te hou om myself voort te dryf nie, maar ook om terug te gee aan my studente deur my onderrig, supervisie en mentorskap.

“Hierdie navorsingsgenootskap sal my in staat stel om binne en met baie verskillende ruimtes, stemme en sienings interaksie te hê. Ek verwag dat my eie begrippe uitgedaag en omvergegooi gaan word.

“Ek is doodseker dat nie net my eie vakkundigheid by hierdie geleentheid sal baat nie, maar dat dit ook my studente in hul eie denke en ontleding sal help. Die onderliggende uitdaging is beslis hoe ek my vakkundigheid ter bevordering van sosiaalgeregtigde samelewings en omgang aanwend, voeg Davids by.

Sy beplan om gedurende haar studiejaar aan 'n boekprojek, getiteld The Subaltern Revisited: Interrogating Notions of (Re)-representation, te werk. Sy sal onder meer op kwessies rakende ras, gender, godsdiens, kultuur, etnisiteit, klas, seksualiteit en migrasie fokus. Die projek sal Moslem-vroue spesifiek ondersoek, aangesien hierdie vroue weens baie onbekende redes terreine van subjektifikasie en objektifikasie inneem deurdat hulle sonder verteenwoordiging verteenwoordig word.

Davids sê dat hoewel die projek op die verteenwoordiging van Moslem-vroue in liberale demokrasieë fokus, sy ook ander aspekte wil ondersoek soos die rol en verantwoordelikheid van 'n universiteit in 'n demokrasie, debatte en twispunte rondom gemarginaliseerde groepe, identiteitskonstruksie, die ontleding van begrippe van die 'ondergeskikte', verteenwoordigheid en teenwoordigheid; en die implikasies vir demokratiese burgerskaponderrig asook kosmopolitiese onderrig.

Die navorsingsgenootskap sal op 1 September virtueel 'n aanvang neem, en genote sal hopelik teen Januarie 2021 met hul inwonende opleidingstydperk kan begin. Hulle het reeds 'n paar inleidende sessies gehad.