Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nominasie vir Wilcocks-gebou se nuwe naam sluit Woensdag
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 21/08/2020

Studente wat 'n nuwe naam vir die Wilcocks-gebou wil voorstel, word herinner aan die sluitingsdatum vir nominasies eerskomende Woensdag 26 Augustus 2020.

Personeel van die Universiteit Stellenbosch (US), studente en lede van die gemeenskap (soos verteenwoordig in die strukture wat lidmaatskap het in die US se Institusionele Forum – IF) het die geleentheid om 'n nuwe naam vir die huidige RW Wilcocks-gebou voor te stel.

Die Universiteit gee toe dat visuele simbole verskillende emosies en ervarings by mense ontlok, veral in 'n diverse en histories verdeelde land soos Suid-Afrika. Ons hoop dat die langverwagte hernoemingsproses van hierdie prominente gebou, wat ook die ingang na die Stellenbosch-kampus op die hoek van Ryneveld- en Victoriastraat is, voorsiening sal maak vir breë deelname ten einde hierdie instelling en die omliggende gemeenskap se reis te weerspieël.

Riglyne vir die nominasie- en hernoemingproses, asook die nominasievorm is op die US se webblad beskikbaar. Voltooide nominasievorms moet tarien@sun.ac.za nie later nie as Woensdag 26 Augustus bereik.