Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eenheid vir Gelykwaardigheid se video’s oor sosiale ongeregtigede kry goeie aftrek
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Sandra Mulder]r
Gepubliseer: 21/08/2020

​Die Eenheid vir Gelykwaardigheid (EqU) aan die Universiteit Stellenbosch (US) se visuele kunste-projek is vuur en vlam besig om met video's op sosiale media onregverdige diskriminasie en teistering, HIV-Vigs en ander sosiale ongeregtighede aan te spreek. Hierdie interaktiewe en inklusiewe projek wat tot die middel van September sal duur, bestaan uit ses video's – almal tussen 2–4 minute lank – wat sensitiewe en aktuele kwessies aanspreek wat tans hoog op die nasionale agenda is.

Die video's verskyn elke Dinsdae en lig onderwerpe uit soos definiëring van ras, hoekom dit belangrik is om jou voornaamwoorde te kies, om met jou seksuele maat oor voorbehoedmiddels te praat, manlike verkragting en seksuele geweld, manlikheid en seksuele uitfluitery.

'n Regstreekse Instagram-bespreking oor die week se video vind op die daaropvolgende Woensdagaand (19:00) plaas. Verskeie projekvennote en medewerkers soos die Womxn and Queer Empowerment (WAQE) van die US se Studenteraad (SR), QueerUS, Spectrum, Rape Crisis, Gender Justice, die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, die Ahmed Kathrada-stigting, aktivis Guiseppi Guerandi en Alexis Petersen, 'n Suid-Afrikaanse akteur en sanger, is by die besprekings betrokke.

Petersen vertolk verskillende rolle in die video's. Instagram-volgers kan ook kommentaar lewer en vrae oor die video's vra. Hierdie opmerkings en vrae word deel van die regstreekse besprekings.

Die gepubliseerde video's oor voorbehoedmiddels, seksuele uitfluitery en manlikheid, en daaropvolgende besprekings het ʼn gesamentlike kykerstal  van meer as 600 gehad.

Die video oor manlike verkragting sal op 25 Augustus opgelaai word en die bespreking sal Woensdagaand, 26 Augustus, volg. Mense word aangemoedig om aan die besprekings deel te neem.

Mnr Jaco Greeff Brink, hoof: EqU, sê studente, personeel, die jeug en die gemeenskap kan gedagtes en idees uitruil en hul menings lig oor die onderwerpe. Die video's verskyn op die eenheid se Instagram-bladsy.

“Universiteite en die samelewing oor die algemeen het met ongelooflik ingewikkelde en uitdagende kwessies rondom onder meer geslagsgebaseerde geweld, seksuele gesondheid, begrip van seksualiteite, rassisme, toksiese manlikheid, patriargie en talle ander te doen. Hierdie uitdagings is in die video's beklemtoon en robuuste gesprekke is aan die gang gesit wat belangrike kwessies oopgebreek het," sê Brink.

Die video's is te siene by @EqualityUnitSU op Instagram.

  • Die EqU bied 'n verskeidenheid ondersteuningsdienste aan personeel en studente van die US aan soos die fasilitering van die indiening van formele en informele klagtes oor onregverdige diskriminasie, teistering, viktimisasie en mishandeling, asook hulp met HIV-voorkoming, -toetsing en -berading en deur lesbiese, gay-, biseksuele, transgender-, queer-, interseksuele, aseksuele en panseksuele (LGBTQIA+) ondersteuningsdienste te lewer. 

Om 'n klagte oor onregverdige diskriminasie, teistering of seksuele geweld aan te meld en in te dien, stuur 'n e-pos aan unfair@sun.ac.za. Vir HIV-Vigs en seksualiteit-verwante ondersteuning, stuur 'n e-pos aan hiv@sun.ac.za.