Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oorsig van die US se aanlyn geleenthede vir April–Julie 2020
Outeur: SU International
Gepubliseer: 20/08/2020

​Vasbeslote om bedryfsvoortsetting te verseker, het die Universiteit Stellenbosch (US) die historiese eikelanings en unieke atmosfeer van die universiteitsdorp en sy kampus tydelik vir aanlyn platforms verruil om die verspreiding van COVID-19 te help stuit. Dít het 'n oorgang na aanlyn onderrig en leer, aanlyn vennootskapsontwikkeling én aanlyn geleenthede soos podsendings, webinare en gespreksreekse ingesluit.  

Indien u enige van hierdie geleenthede in die kuberruim misgeloop het, kan u steeds op die US-podsendingsreeks inskakel op die Universiteit se eie podsendingskanaal, SU Talk (https://anchor.fm/stellenbosch-university). Opnames van gesprekke is ook steeds op US Internasionaal se YouTube-kanaal beskikbaar. 

Hier volg 'n paar hoogtepunte van ons aanlyn geleenthede van April tot Julie 2020: 

Vereniging van Statebondsuniversite​ite 

Die US het in Junie 'n internasionale konferensie met die tema “Kuns in vrede en versoening: 'n Transnasionale perspektief" in samewerking met die Vereniging van Statebondsuniversiteite (ACU) aangebied. Die doel was om vas te stel hoe die kunste, in al sy diversiteit, 'n ruimte vir genesing, gesprekvoering, versoening en oorgangsgeregtigheid deur die hele Statebond kan skep. Die geleentheid het deel uitgemaak van die werk van die Statebondsnetwerk vir Vrede en Versoening, waarvan die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, die voorsitter is.

ACU is 'n internasionale organisasie wat daarna streef om 'n beter wêreld deur die hoër onderwys te bou. Die gratis aanlyn geleentheid het toonaangewende akademici, navorsers, kunstenaars en professionele personeel van meer as 40 universiteite oor die hele Statebond vir 'n reeks interaktiewe paneelgesprekke byeengebring.

Volgens prof De Villiers kom die konferensie op die perfekte tyd noudat die hele wêreld teen rassisme, geweld en onreg begin opstaan. “Hierdie konferensie gaan nie net oor hoe plekke wat in 'n wisselende mate deur onenigheid uitmekaargeskeur is, soos Suid-Afrika, Noord-Ierland, Libanon en Sirië, hulle konflik te bowe kom nie. Dit vind óók plaas teen die agtergrond van die Black Lives Matter-optogte teen die gruwelike moord op George Floyd in Minnesota in die Verenigde State." Die Rektor het die US opnuut verbind tot skakeling en samewerking met belanghebbendes en vennote op 'n plaaslike, streeks-, vastelands- en internasionale vlak. 

Die hoofsessie van die konferensie het 'n formidabele groep sprekers ingesluit. Klik hier vir 'n vollediger berig oor die geleentheid. Vir nóg inligting oor ACU, gaan na die vereniging se webtuiste. 

Universiteitsdorpnetw​​erk

Die Engelse term “town and gown" verwys na die twee elemente van 'n universiteitsdorp, naamlik die nie-akademiese gemeenskap en die universiteitsgemeenskap. Hoewel die term 'n sterk historiese band het met oeroue plekke van leer, soos Oxford en Cambridge, word dit ook gebruik om moderne universiteitsdorpe te beskryf, veral dié waar belangrike openbare universiteite geleë is. 

As deel van die US Eeufees in 2018, het Rektor en Visekanselier prof Wim de Villiers 'n simposium aangebied wat 'n groep universiteite van klein stede en dorpe soos Stellenbosch van oor die hele wêreld byeengebring het. Deelnemers het kwessies met betrekking tot sinvolle kampus–stadsvennootskappe bespreek, en 'n US-universiteitsdorpnetwerk is ook formeel op die been gebring. 

Om opnuut rigting te probeer vind te midde van die wêreldwye onstuimigheid weens die koronavirus, het die US-universiteitsdorpnetwerk teen die einde van Julie 2020 sy tweede vergadering gehou, dié keer aanlyn, om oor huidige ervarings en belangrike projekte by die verskillende instellings te gesels. Deelnemers het die waarde van kleiner netwerke onderstreep, sowel as die belang daarvan om vir 'n oomblik terug te staan en na te dink oor hoe die universiteitsdorpnetwerk die meeste waarde vir vennote kan skep. Daar is besluit dat elke instelling hulle onderskeie internasionaliseringstrategieë sal hersien en die netwerk as 'n klankbord sal gebruik om hulle ervarings te kommunikeer namate almal opnuut hulle voete in die nuwe landskap ná die pandemie vind. 

Global Education Centre se Eerste Internasionale Stud​ente-Oriëntering

US Internasionaal se Global Education Centre (GEC) het twee aanlyn steuninisiatiewe van stapel gestuur. Die eerste is 'n oriënteringsprogram vir semesteruitruilstudente wat in die tydperk Julie tot November 2020 met aanlyn US-kursusse begin. Die tweede is Study Abroad 102 – 'n kortkursus in globale leer vir US-studente wat 'n mobiliteitsgeleentheid ontvang het en gereed maak vir hulle Study Abroad-ervaring.

Die kortkursus word tans deur kamma-aanbiedings op die proef gestel om die aanbod verder te verbeter. Die doel is om globale leer te ondersteun en studente die kompleksiteite van die lewe en studie in 'n vreemde land te help hanteer. Die ontwikkeling van die kennis, vaardighede, bevoegdhede en ingesteldhede wat die US se globale leeruitkomste vereis, maak deel uit van elke US-student se reis om die Universiteit se graduandi-eienskappe te verwerf. Die kursus handel oor 'n aantal onderwerpe, waaronder interkulturele kommunikasie, sosiale geregtigheid, en persoonlike en emosioneel intelligente leierskap. Hierdie proefondervindelike program dek die ganse Study Abroad-lewensiklus van voor die student se vertrek tot en met herinskakeling op Stellenbosch. Studente sal in die loop van tien sessies die teorie met hulle persoonlike ervarings kan verbind om nuwe kennis te skep.

Benewens hierdie hoogtepunte is 'n aantal ander aanlyn US-aktiwiteite ook gehou om onderrig en leer aan te vul. Dít sluit in 'n uiteenlopende klomp webinare, aanlyn opleidingsessies, paneelgesprekke, sessies oor personeelwelstand, Mandeladagvieringe, sowel as alumnigeleenthede. 

Vir 'n volledige opsomming van aanlyn geleenthede, kontak simohn@sun.ac.za.