Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jeug hét wat dit verg om Afrikadroom weer te laat vlam vat
Outeur: Simòhn Engelbrecht
Gepubliseer: 20/08/2020

Mense sê dikwels die Afrikadroom is 'n vuur wat aan die uitbrand is en vars hout nodig het. Watter stomp(e) het ons in ons hande om dit weer te laat vlam vat?" So het prof Thuli Madonsela, voormalige Suid-Afrikaanse openbare beskermer en uitgelese professor aan die Universiteit Stellenbosch (US), gevra in 'n gespreksreeks om Jeugmaand te gedenk. 

Junie is Jeugmaand in Suid-Afrika, en 'n tyd om te besin oor die opofferings deur jongmense en die sinnelose verlies van jong lewens gedurende apartheid, veral in die Soweto-opstand van 16 Junie 1976, toe die Suid-Afrikaanse polisie losgebrand het op 'n groep skoolkinders wat vreedsaam teen die Bantoe-onderwysstelsel betoog het. As deel van die Jeugmaandvieringe van 2020, het US Internasionaal 'n reeks aanlyn globale jeuggesprekke aangebied. Agente vir verandering op verskillende gebiede is genooi om oor die veerkragtigheid van Afrika se jeug te gesels, met die klem op die geleenthede wat opgesluit lê in die unieke uitdagings waarvoor ons tans as Afrikavasteland staan. 

Ramprisikovermindering

Alberto Francioli, koördineerder van die sekretariaat van die Periperi U-netwerk en 'n lid van die Afrikajeugadviesraad, wat uit die Afrika-unie voortspruit, werk op die terrein van ramprisikovermindering deur die hoër onderwys. Periperi U ondersteun universiteite se rampgereedheid én hulle rol om met gemeenskappe saam te werk om Afrika veerkragtig te maak. Hiervoor volg die netwerk 'n beplanningsbenadering wat op proaktiwiteit eerder as reaktiwiteit konsentreer, die samelewing se kwesbaarheid vir die negatiewe impak van gevare die hoof bied, en in praktyke, stelsels en planne belê wat daardie kwesbaarheid verminder. Dít word op drie maniere gedoen: deur navorsing en kennisskepping, die insluiting van jongmense by risikobestuur, sowel as jeugbemagtiging en -vermoëbou. Vir dié doel word daar met hoëronderwysinstellings sowel as met plaaslike en nasionale staatsagentskappe en -organisasies, waaronder UNESCO, saamgewerk. 

Snelle verstedeliking bied die voordele van groei, stabiliteit en ontwikkeling. Nietemin word hierdie voordele in Afrika deur natuur- en mensgemaakte rampe in gevaar gestel. En omdat 60% van Afrika se bevolking jonger is as 35, is die vasteland se jeug in al hoe groter gevaar, wat die toekoms van Afrika ondermyn en bedreig. Die jongmense van Afrika is veral kwesbaar vir én word buite verhouding swaar getref deur rampe, want hierdie voorvalle ontwrig dikwels hulle onderwys en ontwikkeling, takel bates en hulpbronne af, en vernietig werksgeleenthede en bestaansmiddele. 

Benutting van ons hulpbronne as 'n jong Afrikavas​teland

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel in sosiale geregtigheid in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, het daarop gewys dat jeugwerkloosheid en die wêreldwye mededingendheid van Afrika se jeug veel verder strek as die huidige internasionale pandemie. Sy het onderstreep dat Afrika met oorvloedige natuurlike hulpbronne en biodiversiteit geseën is, en dat jeugwerkloosheid dus na regte nie 'n probleem behoort te wees nie. Nietemin strek die gordel van hongersnood oor die hele streek suid van die Sahara (UNESCO, 2020).

Prof Madonsela het beklemtoon hoe belangrik dit is om ons gesamentlike doel te erken, en te besef hoe baie ons wél beskikbaar het om ons as 'n vasteland vorentoe te neem. Hoewel die Afrika-unie se Agenda 2063 as die “groot visie" vir die vasteland dien, is daar 'n mate van teenstrydigheid tussen hierdie visie en mense se werklikheid op voetsoolvlak, sowel as tussen die potensiaal en die huidige status van die vasteland. Die tekens van hoop by die aanvang van die Suid-Afrikaanse demokrasie is vinnig deur tekens van wanhoop vervang.   

Om die Afrika te skep wat ons graag wil hê is nie meer net Afrikaleiers se verantwoordelikheid nie, het prof Madonsela gesê. “Die Afrikagesegde lui: 'Daar is 'n luiperd wat ons jaag, en jy redekawel oor of dit 'n mannetjie of 'n wyfie is!'" Dit is lankal irrelevant om te vra “wie verantwoordelik is" en “wie se skuif dit is" om die Afrika te ontwikkel wat ons begeer. Sterk en heroïese leierskap word op sowel regerings- as individuele vlak vereis om innoverende denke en 'n eties regeerde, impakgedrewe Afrika te verseker wat daartoe verbind is om die wêreld te dien. 

COVID-19-gevolge en -lesse vir Afrikajeug

Afrika se jeug is aktief en betrokke, selfs gedurende die wêreldwye pandemie, het Farai Mubaiwa in haar hoedanigheid as werknemer van die jeugindiensnemingsdiens YES gesê. Sy het 'n aantal projekte uitgelig wat Afrikajeug in hulle gemeenskappe van stapel gestuur het, wat strek van gemeenskapsimpakprogramme om vaardighede soos sosiale entrepreneurskap, leierskap, loopbaanstrategie en persoonlike groei te ontwikkel, tot deelname aan die hersiening van nasionale jeugbeleide op regeringsvlak. 

COVID-19 het die soeklig gewerp op die potensiaal van werklose jeug, wat ook in dié tyd hulle deel doen om die pandemie in die voorste linie te bestry en hulle gemeenskappe te dien. Mubaiwa reken die jongmense van Afrika kan voortaan verder betrek word by die bou van die vasteland wat ons graag wil hê deur (i) waarde te heg aan hulle deelname aan die prosesse en besluite wat ons lewens raak, (ii) loopbane met moontlike bydraes tot die ontwikkeling van die vasteland te belyn, (iii) entrepreneurskap aan te moedig om jeugwerkloosheid in onmiddellike gemeenskappe te help oplos, (iv) aanhoudend kennis uit te ruil, en (v) met mekaar saam te werk. 

Deelnemers het tot die gevolgtrekking gekom dat die tyd ryp is vir Afrika se jeug om 'n selfs sterker rol te vervul om die vasteland te help herbou, en om hulleself én ander fisies, maatskaplik en geestelik te verbeter om veerkragtige en volhoubare samelewings te skep. 

Vir verdere inligting oor die gespreksreeks, kontak simohn@sun.ac.za.