Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en TU Dresden bou internasionale virtuele sentrum
Outeur: SU International
Gepubliseer: 20/08/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Technische Universität Dresden (TU Dresden), Duitsland, werk saam aan die vestiging van 'n internasionale virtuele sentrum wat akademici en navorsers sal ondersteun en geleenthede bied om gesamentlike virtuele en aanlyn leeraktiwiteite te onderneem.

'n Eerste proeffase van die projek sal 'n toelaag beskikbaar stel om akademici van albei instellings in staat te stel om op grond van hulle ervaring van digitale en hibridiese onderrig gesamentlike onderrig-en-leermodelle te ontwikkel. Verskeie skakelingsopsies word in die vooruitsig gestel, waaronder aanlyn gaslesings; samewerkende, hibridiese of gesamentlike aanlyn kursusse (wat aanlyn leer met kontakonderrig-en-leer of mobiliteitsgeleenthede kombineer), aanlyn navorsingsprojekte, blokseminare en gesamentlike leeraktiwiteite, soos vergelykende of samewerkende aanlyn internasionale en interkulturele leer. 'n Versoek vir aansoeke vir hierdie eerste fase sal in September 2020 uitgereik word en deur fakulteitsdekane en lede van die US se Institusionele Adviesraad oor Internasionalisering versprei word. Suksesvolle aansoekers sal 'n klein toelaag ontvang as aanvangskapitaal om akademici die nodige steun te help bekom (soos die bystand van 'n gemengdeleer- of hibridieseleerkonsultant) om hulle projekte van stapel te stuur.

Die COVID-19-pandemie het die belang van vennootskappe onderstreep om universiteite te help aanpas by en reageer op internasionalisering te midde van beperkte mobiliteit. Hoewel internasionalisering dalk nie gedurende die huidige gesondheidskrisis vir baie 'n prioriteit is nie, bied dit inderwaarheid 'n ideale platform om die verskuiwing na aanlyn leer en onderrig te ondersteun. Hierdie tipe kontak tussen akademici van instellings wêreldwyd – wat almal dieselfde uitdagings ervaar en almal by aanlyn onderrig probeer aanpas – kan toegang bied tot bestaande aanlyn modules en kursusinhoud, gesamentlike onderrigbenaderings, en studentegerigte aanlyn uitruilgeleenthede om kursuswerk en opdragte te voltooi.

Hierdie jongste gesamentlike inisiatief tussen die US en TU Dresden bou voort op 'n sterk grondslag van samewerking, wat aanvanklik met 'n vennootskap tussen die twee instellings se chemiedepartemente begin het. Dit is 'n goeie voorbeeld van 'n “organiese" band wat op die vlak van navorsers/akademici gesmee is en sedertdien in 'n universiteitswye reëling ontwikkel het. Die aanvanklike vennootskap het vroeër vanjaar 'n meer omvattende vorm aangeneem nadat die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper, in Februarie 'n besoekende afvaardiging van die Duitse instelling op Stellenbosch ontvang het. Die besoekers het ingesluit TU Dresden se Rektor, prof Hans Müller-Steinhagen, sowel as proff Gerhard Rödel (Viserektor: Navorsing), Clemens Kirschbaum (hoof van die Skool vir Natuurwetenskappe) en Wolfgang Nagel (hoof van IT en Hoëprestasieberekeninge). Verdere besonderhede is bevestig gedurende 'n opvolgbesoek deur me Katharina Schmitt, TU Dresden se hoof van strategiese internasionalisering, wat met eweknieë in US Internasionaal saamgewerk het om internasionaliseringsprojekte vir die vennootskap te identifiseer. TU Dresden is een van tien Duitse universiteite wat vir die tydperk 2019–2026 met die gesogte titel van “universiteit van uitnemendheid" spog.

Vir verdere inligting oor die internasionale virtuele sentrum en die verbandhoudende finansieringsgeleentheid, kontak Anisa Khan, bestuurder van internasionale vennootskappe en internasionaliseringsteun (anisakhan@sun.ac.za), of Sarah van der Westhuizen, bestuurder van die Global Education Centre (sarahvdw@sun.ac.za).