Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kan uitnemendheid vernuwe word? 'n Herdink van toekennings vir uitnemende onderrig as ʼn openbare bate
Outeur: Anthea Jacobs
Gepubliseer: 11/08/2020

LEER- EN ONDERRIGVERRYKING-SEMINAAR, 6 AUGUSTUS 2020
virtueel aangebied op MS Teams, 13:00–14:00

Dr Karin Cattell-Holden, senior adviseur by die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Onderrig en Leer, was die aanbieder by die Leer- en Onderrigverryking-seminaar op 6 Augustus 2020. Die onderwerp van haar aanbieding was “Can 'excellence' turn? Rethinking teaching excellence awards for the public good".


In hierdie seminaar het dr Cattell-Holden die individualistiese fokus van die US se toekennings vir uitnemende onderrig bespreek en ʼn hergekontekstualiseerde benadering tot die toekennings voorgestel in reaksie op die vraag na sosiale geregtigheid in Suid-Afrika. Sy het aangevoer dat die konseptualisering van 'uitnemende onderrig' in postkoloniale Suid-Afrika aan 'uitnemende leer' gekoppel moet word en klem moet lê op die ideologiese en ongelyke kontekste waarin onderrig en leer plaasvind. Uitnemende onderrig/leer moet tweeledige samewerking tussen die volgende behels: 1) akademici en studente om die verhouding tussen onderrig, leer en die samelewing te bevorder, en 2) die Universiteitsbestuur, akademici en die samelewing rakende die sosiale verantwoordelikheid om graduandi te lewer wat doeltreffend in ʼn demokratiese samelewing kan funksioneer.

Dr Cattell-Holden het haar praatjie begin met ʼn ontleding van die diskoers van 'uitnemendheid', waarna sy haar verklaring van die idee van 'uitnemende onderrig' gedeel het. Hierna het sy in besonderhede die idee van hoër onderwys tot diens van die mensdom bespreek, en, soos Eshleman (2018),[1] aangevoer dat ons allereers die mensdom dien. Hierna het sy uitnemende onderrig as ʼn vorm van waarde vir openbare voordeel bespreek. Sy het die tema van die toekennings vir uitnemende onderrig bespreek, en aangevoer dat die konseptualisering, erkenning en toekenning van 'uitnemende onderrig' ʼn fokus op 'uitnemende leer' moet insluit, en dat albei diskoerse klem moet lê op die ideologiese en ongelyke kontekste waarin studente en onderwysers funksioneer. Dit is gevolg deur ʼn uiteensetting van die diskoers van 'uitnemendheid' by die US in verskeie institusionele dokumente. Teen hierdie diepgaande agtergrond het sy die US-toekennings vir uitnemende onderrig bespreek, en hoe dit aan die private voordeel gekoppel kan word. Sy het voorgestel dat verskuiwing van die individualistiese fokus van uitnemende onderrig na samewerking nie net die waarde van die onderrigtoekennings sal verhoog nie, maar ook sal bydra tot hervorming van onderrig aan die US tot openbare voordeel. 

Sy het haar praatjie afgesluit deur interessante manier voor te stel waarop die US-toekennings vir uitnemende onderrig opnuut vir openbare voordeel voorgestel kan word. Dit sluit onder andere in die bekendstelling van die studentestem, uitbreiding van die toekennings deur interdissiplinêre spanne en projekte in te sluit en vervanging van die huidige individualistiese perspektief met meer inklusiewe kriteria.

Dr Cattell-Holden se power point en 'n podgooi van die aanbieding is hier​ beskikbaar.

Skakel gerus met die aanbieder by kcattell@sun.ac.za vir meer inligting oor die onderwerp.
Die volgende Leer- en Onderrigverryking-seminaar vind op 9 September 2020 plaas.

[1] Eshleman, K. 2018. Emergent EDU: Complexity and innovation in higher ed. EDUCAUSE Review, 7 Mei.