Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fogarty-toekenning sal lig werp op TB-meningitis in kinders
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Sue Segar
Gepubliseer: 07/08/2020
Dr Karen du Preez, ʼn kliniese navorser by die Desmond Tutu TB-sentrum se Pediatriese TB-navorsingsgroep, het onlangs ʼn toekenning van ongeveer R9 miljoen ($540 000) ontvang van die Nasionale Instellings vir Gesondheid (NIH) in die VSA vir ʼn projek wat lig sal werp op tuberkulose meningitis (TBM) in kinders.

Du Preez, wat tans besig is om haar PhD te voltooi, het gesê dat die toekenning ʼn "ongelooflike geleentheid" is.

"Ten spyte daarvan dat TB ʼn behandelbare- en voorkombare siekte is, is dit een van die top 10 oorsake van dood in jong kinders oor die wêreld heen. TBM is ʼn baie ernstige vorm van TB. Die simptome is dikwels nie spesifiek nie, en kan vertragings in diagnose meebring wat kan lei tot swak uitkomste (dood of lewenslange gestremdheid). Jong kinders, en die met MIV loop die grootste risiko om TBM te onwikkel," het sy gesê.

Die naam van haar projek is: Interdisciplinary and multi-level approach to estimate the disease burden and outcomes of childhood tuberculosis meningitis.

Du Preez was suksesvol in haar aansoek vir ʼn Fogarty Ontluikende Globale Leier-toekenning van die NIH. Die toekenning is daarop gemik om navorsingsondersteuning en beskermde tyd te verleen aan ʼn vroeë-loopbaan wetenskaplike navorsers van lae- of middel-inkomste lande wat in junior posisies is by ʼn akademiese- of navorsingsinstansie.

Sy het gesê dat sy baie opgewonde is oor die toekenning. "Hierdie toekenning bied my nie net die geleentheid om belangrike navorsing te doen nie, maar ook om gespesialiseerde navorsingsvaardighede in ruimtelike wiskundige modellering te ontwikkel. Dit gee my ook die geleentheid om ʼn navorsingsnetwerk op te bou met plaaslike en internasionale wêreldkenners, wat ʼn buitengewone hulpbron sal wees vir toekomstige navorsingsprojekte en befondsingsaansoeke."

Hierdie is ʼn loopbaanontwikkelingstoekenning, en ʼn suksesvolle aansoeker maak staat op gepaste mentors wat bereid is om die aansoeker te ondersteun. "Ek is baie bevoorreg om ʼn span wêreldkenners te hê, beide plaaslik en internasionaal, wat bereid is om my vir die duur van die toekenning te ondersteun en te mentor. Ek werk al sedert 2008 by die Desmond Tutu TB-sentrum in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid, en die mentorskap en ondersteuning wat ek van professor Anneke Hesseling en die departement ontvang het, het bygedra tot my suksesvolle aansoek."

Du Preez het gesê haar navorsing sal oor ʼn tydperk van vyf jaar gedoen word, en het drie doelwitte. "TB-programme hoef nie gereeld verslag te doen oor TBM-data nie, en ons het geen idee hoeveel kinders daardeur geraak word of tot watter mate dit bydra tot die TB-sterftesyfer in kinders nie. Die eerste doelwit is dus om te bereken hoeveel kinders in die wêreld jaarliks TBM ontwikkel, en hoeveel TB-sterftes in kinders daaraan toegeskryf kan word. Ons sal wiskundige modellering hiervoor gebruik.

"Tweedens sal ons roetine TB-data van Suid-Afrika gebruik om te bepaal waar kinders met TBM behandel word en verslag doen op die nasionale vlak. Ons sal ook hierdie data gebruik om voorspellings te maak oor swak TB-uitkomste in kinders met TBM. Dit sal ons help om te identifiseer waar in Suid-Afrika intervensies benodig word om die diagnose en uitkomste te verbeter.

"Laastens sal ons ook nou saamwerk met gesondheidsdienste in Kaapstad en veelvoudige databronne gebruik om alle gediagnoseerde en ongediagnoseerde kinders met TBM oor ʼn tydperk van twee jaar te identifiseer. Alle kinders wat geïdentifiseer word sal in aanmerking kom om by ʼn observasie-kohort studie aan te sluit wat data sal versamel oor diagnostiese sekerheid, erns van siekte, komorbiditeite, uitkomste en gemiste geleenthede vir beide TB-voorkomingsterapie en vroeëre diagnose van TBM. Dit kan ons help om diagnostiese algoritmes te ontwikkel om te help met vroeër diagnose, en om geleenthede te identifiseer vir geteikende intervensies om die voorkoming en sorg van TBM te verbeter."

Sy het gesê dat die toekenning hoofsaaklik personeel en aktiwiteite sal dek wat met die navorsingsprojek verband hou, asook loopbaanontwikkelingsaktiwiteite.​