Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dekaan van die Ingenieurswese, prof Wikus van Niekerk, ontvang buitengewone eer
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 06/08/2020

Die dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, prof Wikus van Niekerk, het die uitstaande eer ontvang om tot 'n Eregenoot van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Meganiese Ingenieurs (SAIMegI) verkies te word. SAIMegI is die hoogste liggaam wat die dissipline van meganiese ingenieurswese in Suid-Afrika verteenwoordig en is in 1892 gestig.

Die president van die SAIMegI, prof Debby Blaine, sê: "Op 4 Augustus 2020 het SAIMegI sy eerste virtuele, 129ste nasionale AJV gehou. As president kon ek met genoeë die verkiesing van ons dekaan, prof Wikus van Niekerk, as erelid van die Instituut aankondig. Die graad erelid van SAIMegI word toegeken aan 'n persoon wat intiem verbonde aan meganiese ingenieurswetenskap of -praktyk is en iemand wat SAIMegI spesiaal wil vereer vir buitengewone belangrike dienste wat aan die Instituut of meganiese ingenieurswese gelewer is. 'n Eregenoot moet deur twee genote van SAIMegI genomineer word. Om verkies te kan word, moet die genomineerde 'n eenparige stem van die Nasionale Raad ontvang. Die Raad mag slegs twee eregenote per jaar verkies. Hierdie jaar, 2020, was dit die SAIMegI se voorreg om prof BobTait, voorheen van die Universiteit van Kaapstad, en ons eie prof Wikus van Niekerk as eregenote te verkies."

Sy gaan voort: "Prof Van Niekerk was 'n jarelange lid van SAIMegI en het vir die termyn 2016-2018 as nasionale president gedien en die termyn 2018-2020 as nasionale tesourier voortgesit. Sy bydrae tot ingenieurswese, en spesifiek meganiese ingenieurswese in Suid-Afrika, is welbekend. Hy het 'n groot bydrae tot die gebied vibrasie en geraas, sowel as hernubare en volhoubare energie, gelewer. Hy het die SASOL-leerstoel vir Voertuigingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria beklee, was die stigter-direkteur van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES) aan die Universiteit Stellenbosch, en was 'n toonaangewende voorstander van hernubare en volhoubare energie in ons land en wêreldwyd. Hy het nog altyd jong ingenieurs en hul loopbaanontwikkeling ondersteun en moedig veral minderheidsgroepe in meganiese ingenieurswese aan om leierskapsposisies op te neem.

"Dit was met groot eer dat oudpresident en eregenoot Stefan de Nagy Koves Hrabar sy benoeming voorgestel het, en wat ek sekondeer het. Ons is verheug dat prof Van Niekerk se harde werk en toewyding aan uitnemendheid en billikheid deur hierdie eer erkenning geniet. Wikus het ons weereens trots gemaak."

Wat sy eregenootskap betref, merk prof Van Niekerk op: "Dit is 'n eer om hierdie toekenning van die Instituut te aanvaar. Ek is oortuig daarvan dat die SAIMegI in die komende jare sal floreer met 'n groep jong en dinamiese leiers wat die leisels oorneem."

Foto:

Prof Wikus van Niekerk.