Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale erkenning vir navorsing oor pikkewynparasiete
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 05/08/2020

​Dr Marcela Espinaze, 'n nadoktorale genoot in biowiskunde by die Universiteit Stellenbosch, is gekies deur Cambridge University Press se vaktydskrif Parasitology vir die 2020 Early Career Researcher award vir die beste navorsingsartikel wat in 2019 in die vaktydskrif gepubliseer is.  

Die artikel getiteld: Parasite diversity associated with African penguins (Spheniscus demersus) and the effect of host and environmental factors, was die eerste in sy soort om die parasiete wat leef in en op Afrika-pikkewyne van vyf verskillende kolonies, aan te teken. Hierdie bevindinge dui daarop dat parasiete hoofsaaklik  kuikens in hoëdigtheid  vastelandkolonies  infesteer gedurende die lente, en het 'n waardevolle bydrae gelewer tot koloniebestuur in die streek.

Die artikel wat deel uitmaak van Dr Espinaze se PhD-projek onder studieleiding van Prof Sonja Matthee van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, Prof Cang Hui van die Departement Wiskundige Wetenskappe, en Dr Lauren Waller, wat op daardie stadium by Cape Nature werksaam was. Die artikel het ook in Maart 2019 die vaktydskrif se toekenning   Paper of the Month verdien.

Dr Espinaze, wat in 2019 haar PhD in bewaringsekologie by die Universiteit Stellenbosch verwerf het, sê sy sal graag  wil aanhou werk op die koppelvlak  van siekte-ekologie en natuurbewaring: “Ek dink dit is uiters belangrik dat ons die oordrag van siektes  in 'n holistiese konteks verstaan, terwyl ons die patogene in ag neem, sowel as die gesondheid van die gasheer en die omgewing. Ek hoop om deur middel van my werk 'n bydrae tot die bewaring van bedreigde wildlewe, asook tot omgewingsopvoeding te maak."

Sy het ook 'n MSc in Bewaringsbiologie van die Universiteit van Kaapstad, en 'n graad in Veeartsenykunde van die Austral Universiteit van Chili.  Voor sy na Suid-Afrika gekom het, het sy as bewaringsprojekkoördineerder in Patagonië gewerk.

Oor die toekenning sê sy dat dit altyd baie bemoedigend is as haar werk erkenning kry: “Dit laat my voel dat ek op die regte pad is, en dat mense al die moeite en liefde wat ons as span in hierdie navorsingsprojek stort, waardeer."

Die prys sluit ook prysgeld van £1 000, drie maande se vrye toegang tot die artikel, en sosiale mediablootstelling van Cambridge University Press in.