Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voedselsekerheid: talle revolusies is weens honger begin, sê Madonsela
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/08/2020

“Talle revolusies is nie deur filosofieë begin nie, maar weens honger. "

Hierdie waarskuwing oor die moontlike impak van die Covid-19-pandemie op Suid-Afrika is gerig deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg aan die Universiteit Stellenbosch (US), tydens 'n webinaar wat deur die Southern Africa Food Lab aangebied is. Dié inisiatief word in die US Fakulteit AgriWetenskappe gehuisves, en het oor die afgelope dekade uiteenlopende groeperings en belanghebbendes byeengebring gebring om kreatief te besin oor hoe kwessies rondom hongersnood aangespreek kan word en 'n vooruitstrewende, regverdige en volhoubare voedselsisteem geskep kan word.

Mnr Kevin O'Brien, Groep Volhoubaarheids- en Risikobestuurder van die Spar Groep Bpk, het saam met prof Madonsela besin oor menseregte, ongelykheid en maniere hoe om voedselsisteme te verstewig. Die webinaar is aangebied in samewerking met die US se afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

Albei sprekers het gefokus op hoe belangrik dit is om vertroue te bou en besluitneming te demokratiseer, en die noodsaaklikheid van deursigtige, aanpasbare en samewerkende bestuur om koördinasie op verskillende vlakke tussen verskeie rolspelers in die gemeenskap te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Volgens prof Madonsela word toegang tot voedsel beskerm in die Universele Verklaring van Menseregte, sowel as in die Internasionale Verbond oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte, die Afrika-handves vir Menseregte en die Regte van Volkere, en in die Suid-Afrikaanse Handves van Menseregte.

Sy het gewaarsku dat dit nie impliseer dat genoeg kos aan mense verskaf moet word sodat hulle nie honger ly nie, maar dat dit ook voldoende voedsame kos beteken.

“Baie siektes, soos kwashiorkor, gaan deur meer en meer kinders ervaar word. Hul ouers sorg vir kos net om die maag te vul, maar dit is nie noodwendig voedsame kos nie," het sy gewaarsku.

Suid-Afrika is een van min lande ter wêreld wat 'n spesifieke verbintenis tot maatskaplike geregtigheid uitgespel het. Prof Madonsela sê maatskaplike geregtigheid bestaan wanneer almal regte en vryhede tot dieselfde mate ervaar, geleenthede, voorregte en laste regverdig en billik tesame geniet, en almal se menswaardigheid tot dieselfde mate omarm word.

"Ons moet deeglik besin oor voedselsekerheid, en ons moet die regering smeek om besluitneming te demokratiseer sodat elke moontlike hand wat kan help ingespan kan word," het prof Madonsela gesê. Sy het die behoefte vir “veelvuldige oë" onderstreep om deursigtigheid te verseker as dit kom by die uitreiking van tenders en die verspreiding van kospakkies en moontlike onregmatige praktyke in terme van fakturering.

Volgens prof Madonsela is 'n alliansie genaamd SCOPRA sedert April toe die Covid-19 pandemie Suid-Afrika die eerste keer getref het, op die been gebring. Dit plaas die soeklig op beleid en regulasies wat uitgevaardig word, en wil maatskaplike geregtigheid verseker te midde van die pandemie.

SCOPRA het vroeg reeds die regering daarop gewys dat voedselsekerheid 'n basiese mensereg is, en dat alle beleid en regulasies wat uitgevaardig word dit in ag moet neem sodat die regering se grondwetlike pligte nagekom kan word. SCOPRA het ook met die regering gesprek gevoer oor die noodsaaklikheid dat besluitneming demokraties moet geskied, veral omdat dit ook spesifiek in die Wet op Rampbestuur uiteengesit word.

Hulle wil sien dat die regering tot 'n groter mate data-analise gebruik om te voorspel hoe alle beleid en regulasies 'n invloed op voedselsekerheid kan hê, selfs al gaan dit nie direk oor kos nie.

Besluite om skole te sluit en om skoolvoedingskemas te stop, het aansienlike gevolge gehad vir die voedselsekerheid van baie kinders wat staatmaak op die een maaltyd per dag wat hulle by die skool ontvang.

Die regering het ongelukkig nie 'n samewerkende benadering wat talle belanghebbendes insluit hierin gevolg nie, en daarom moes hulle deur die howe gelas word om die skoolvoedingskemas weer in te stel.

Prof Madonsela sê SCOPRA het verwag dat korrupsie pogings tot voedselsekerheid tydens die pandemie sal belemmer, en dat daar verskille in vaardighede sou wees.

"Weer eens sal 'n multi-belanghebbende benadering leemtes in besluitneming kan aanvul en gebruik maak van gemeenskaplike verantwoordelikheid om seker te maak dat die regte dinge gedoen word."

“Veelvuldige oë help om deursigtigheid te verseker," het sy benadruk. “Dit bied hoop om te weet dat daar wel sulke 'oë' is en dat mense (die regering) hof toe vat."

Sy het benadruk dat voedselsekerheid oor meer as die verskaffing van kos gaan om honger te beveg, maar ook oor die versekering van genoeg voedsame kos. Dit kan in die wiele gery word as voedsel onbekostigbaar raak, en as daar uitdagings is om dit te vervoer na waar die behoefte is.

Volgens prof Madonsela is die grootste probleem in fase 3 van die inperkingsmaatreëls nie die produksie van voedsel per se nie. Dit kan egter in 'n stadium 'n probleem word as mense boerdery opgee omdat dit nie meer vir hulle winsgewend is om te doen nie.

“Ons staan óf saam, óf ons val uitmekaar. As 'n nasie val ons tans uitmekaar. Ons moet praat," het prof Madonsela gesê en gepleit vir 'n Covid-19-beraad wat deur die regering gereël word en waaraan elke besigheid of organisasie kan deelneem.

“Ons moet almal om die tafel kry sodat ons saam kan stem oor die pad vorentoe."

Volgens Kevin O'Brien van SPAR is dit in 'n wêreld waarin krisisgesprekke gevoer word belangriker as ooit om te streef na die bou van proaktiewe vertroue, en om besluitneming in die voedselstelsel te demokratiseer.

Hy sê Covid-19 het fundamenteel verkeerde maatskaplike kwessies na vore gebring waarvan mense lank reeds bewus was, maar wat hulle jare lank verkies het om te ignoreer.

“Nou het dit ons getref soos 'n trein sonder lig in 'n tonnel," het O'Brien verduidelik. “Dit het die diepe broosheid van ons voedselsisteem, ons korporatiewe kultuur, ons samelewingsfoute en regeringswakhede blootgelê. Dit het veral uitgewys hoe swak ons leierskap in die sakewêreld, die gemeenskap en die regering is. "

Hy het gevra waarom lande en samelewings nooit voorheen op dieselfde drastiese manier as wat hulle te midde van Covid-19 reageer opgetree het teen kwessies soos ondervoeding onder kinders nie. Hy neem aan dis omdat Covid-19 vir ons almal naby aan die huis slaan.

Volgens O'Brien moet leierskap, doelmatigheid, vertroue en samewerking ingeweef wees in elke samelewing se volhoubare toekoms. Hy glo dat Suid-Afrika se ingewikkelde en gebroke voedselsisteem die samewerking van alle belanghebbendes nodig het om te verbeter.

'Die mededingende, winsgedrewe etos van tradisionele besighede beteken dat hulle dikwels worstel met die konsep van 'the greater good' en eerder eiebelang as drywer verkies", sê O'Brien, wat erken dat regerings en gemeenskapsgebaseerde organisasies ook met hierdie kwessies worstel.

Hy reken dat sistemiese denke en 'n obsessie met die opbou van vertroue die basis van effektiewe samewerking moet wees.

“Om 'n doel te hê moet die basis vorm van enige verandering wat ons wil aanbring, sodat alle mense in die toekoms goed kan leef. Dit gaan oor die waarom, nie die hoe of die wat nie, " het O'Brien gesê.

“Armoede en die reg van elke persoon tot voedsame kos sal nooit deur korporatiewe sosiale impakprojekte en liefdadigheid opgelos word nie," het hy bygevoeg.

O'Brien meen die kwessie van bekostigbare, voedsame kos kan slegs aangespreek word as organisasies saamwerk met ander belanghebbendes, en soms selfs ook hul mededingers. Hy sien ook geen waarde in die smee van verhoudings met organisasies en mense wat nie soortgelyke doelwitte nastreef nie.

"Die proses sal 'n erkenning van alle belanghebbendes moet insluit dat hul optrede in die verlede die huidige probleme in ons stukkende voedselstelsel veroorsaak het," het hy bygevoeg.

O'Brien sê dat 'n verslag wat in 2018 deur die Southern Africa Food Lab en WWF-SA opgestel is, aandui dat Suid-Afrikaanse ondernemings 'n lus het om saam te werk. Een van die grootste uitdagings waarmee hulle egter te kampe het, is 'n “ontwykende regering" wat huiwer om met private ondernemings saam te werk.

Hy skryf dit toe aan 'n “regverdigbare gebrek aan vertroue" tussen die regering en die sakesektor, weens die nalatenskap van apartheid en die afgelope tien jaar se geskiedenis in Suid-Afrika.

Hy sê dat die verantwoordelikheid van plaaslike ondernemings in die voedselsektor om ideale ter bevordering van die groter gemeenskap na te streef was nog nooit groter nie. Dit verg egter dapper, nuuskierige en aktivistiese leierskap.

“'n Kollektiewe toewyding daartoe om saam te werk om hul impak op die omgewing te verminder, werk te skep en om inklusiewe ekonomieë na te streef moet bestuursbesluite dryf," het hy bygevoeg.

“Dit was 'n uitdaging om my organisasie (SPAR) te laat glo dat dit 'n rol te speel het om die verloop van ons toekoms te verander deur die impak wat dit op die omgewing, die samelewing en die ekonomiese welstand van ons mense het, te verbeter. Egtheid in ons bemarkingsbenadering moet noukeurig geëvalueer word namate ons in 'n meer doelgerigte organisasie ontwikkel. Ons leierskap moet meer vaardig wees in die kuns van samewerking en om effektiewe sisteemdenke te verstaan. Deursigtigheid, bemagtiging en innovasie moet geheimhouding, hiërargiese bestuur, beheer en obsessiewe beplanning vervang. "

Dr Scott Drimie, direkteur van die Southern African Food Lab, het die bespreking afgesluit deur te vra: “Wat het ons tot hier gebring? Die onderbou van 'n gebrekkige voedselsisteem is hiërargieë, beheer, beplanning en uitbuiting deur die staat en die private sektor. Ons het 'n nuwe, doelgerigte, deursigtige en inklusiewe benadering in die toekoms nodig. "

Kyk hier na die opname van die volledige webinaar.​