Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US sluit aan by globale soektog vir behandeling van neuromuskulêre siektes
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 03/08/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal vir die eerste keer in sy geskiedenis ʼn student hê wat ʼn PhD in neuromuskulêre siektes doen, danksy ʼn toekenning van £105 000 (R2.2 miljoen) van die Guarantors of Brain, ʼn organisasie in die Verenigde Koninkryk wat neurologie-navorsing befonds.

Dr Kireshnee Naidu, wat verlede jaar haar neurologie-graad van die US ontvang het, sal binnekort met haar PhD begin onder die leierskap van dr Franclo Henning, ʼn senior-dosent in neurologie.

In ʼn onderhoud het Henning gesê dat hulle die toekenning ontvang het nadat die universiteit genader is deur die Universiteit Kollege Londen (UCL), wat verlede jaar ʼn internasionale samewerking van stapel gestuur het, genaamd die Internasionale Sentrum vir Genomiese Geneeskunde in Neuromuskulêre Steurnisse (ICGMND).

Die sentrum – wat deur professor Michael Hanna, die direkteur van UCL se Queen Square Instituut vir Neurologie gelei word – bring vaardighede en hulpbronne van vyf lande byeen met die doel om genetiese diagnose van pasiënte met neuromuskulêre steurnisse te bevorder. Dit sluit in motorneuronsiekte, oorerflike neuropatieë en spierdistrofie.

Die sentrum werk saam met verskeie Suid-Afrikaanse universiteite, en, buiten die US, sluit dit ook die Universiteite van Kaapstad en Pretoria, en die Noordwes Universiteit in, asook sentrums in ander lae-middel-inkomste lande, insluitend Brasilië, Turkye en Indië.

Die navorsing sal die fenotipering en genotipering van oorerflike neuromuskulêre steurnisse bekyk in lae-middel-inkomste lande, waar genotipering tot nou toe nog nie beskikbaar was nie.

"Genetiese diagnose word meer algemeen beskikbaar danksy tegnologie, maar tans is daar geen behandeling vir die meeste oorerflike siektes nie. Slegs dié wat verband hou met oorerflike ensiemtekorte kan behandel word.

"Ons het geen idee hoe die genetiese landskap in Suid-Afrika lyk in terme van oorerflike siektes nie – waarvan neuromuskulêre steurnisse slegs een voorbeeld is – want ons kon nooit tevore genetiese ondersoek buiten met navorsing en op ʼn klein skaal doen in die land nie.

"Deur middel van hierdie projek gaan ons al ons pasiënte met oorerflike neuromuskulêre steurnisse kan genotipeer, en sal ons ʼn beter idee kry van die tipes neuromuskulêre siektes wat ons hier sien. Dit is natuurlik moontlik dat die mutasies wat hierdie steurnisse in ons bevolking veroorsaak sal verskil van dié in hoë-inkomste lande aangesien ons bevolking anders is. Deur die deel van data kan ons ook bydra tot die globale navorsingsgemeenskap se soektog vir behandeling vir hierdie siektes," het Henning gesê.

"ʼn Gedeelte van die projek sluit die opleiding van ʼn PhD-vennoot in, en dit is die posisie wat Naidu nou opneem."

"Dit is ʼn ongelooflike geleentheid en ons sou nie ʼn PhD-vennoot kon oplei sonder hierdie befondsing nie, aangesien dit ʼn salaris asook studiegelde vir drie jaar dek," het Henning gesê. "In die verlede was dit nie moontlik nie. Ons is opgewonde aangesien dit ons eerste PhD in neuromuskulêre siektes by die universiteit sal wees.

"Dit is werklik ʼn uitstekende geleentheid vir ons om na te volg."


Foto-erkenning: PIXABAY