Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-span wen datawetenskapafdeling van US-hackathon
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 03/08/2020

Die derde jaarlikse hackathon van die Universiteit Stellenbosch is die afgelope naweek (31 Julie tot 2 Augustus 2020) gehou. Dit is deur Entersekt, Capitec en Explore geborg en deur die Universiteit in samewerking met Innovus aangebied.

Die US-hackathon is daarop gemik om begaafde studenteprogrammeerders, -ontwerpers, -skeppers, -statistici, -wetenskaplikes en -ingenieurs bymekaar te bring om te leer, te skep en hul kreatiewe idees met mekaar te deel terwyl hulle innoverende oplossings vir bedryfsprobleme vind.

Alle voor- en nagraadse US-studente kan inskryf. Deelnemers kan kies om óf aan die fintech-koderingsuitdaging óf aan die datawetenskapuitdaging deel te neem. 

Nagraadse studente van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het vanjaar die datawetenskapsafdeling van die kompetisie gewen. Die wenspan het bestaan uit: Ulrick Kotze (MCom in Statistiek), Niel van Zyl (MCom in Statistiek), Claudia di Santolo (MCom in Statistiek) en Thamu Mnyulwa (MSc in Toegepaste Wiskunde). Nog 'n EBW-span onder leiding van David Rodwell (MCom in Finansiële Risikobestuur) het eervolle vermelding ontvang.

Die span wat tweede gekom het, was van die Fakulteit Ingenieurswese.

​“Ons is geweldig trots op ons nagraadse studente!" het prof Paul Mostert, voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, gesê.