Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toptoekenning vir SharkSafe Barrier
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 03/08/2020

Drie navorsers van die Universiteit Stellenbosch het met pryse weggestap in die jaarlikse Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NWTF)/South32-toekennings. Dr Richard Walls en proff Christine Lochner en Conrad Matthee is as die wenners in hul onderskeie kategorieë aangewys tydens 'n regstreekse ​​​stroomuitsending-glansgeleentheid wat Donderdag, 30 Julie 2020 gehou is.

​Die gesogte NWTF/South32-toekenningsgeleentheid erken, vier en beloon individue, spanne en organisasies se uitnemende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie in Suid-Afrika.

Die NWTF/Lewis-stigting Groen Ekonomie-toekening is aan Matthee (departement Plant- en Dierkunde) en sy span toegeken vir hul werk om die eerste omgewingsvriendelike haaispesifieke afskrikkingstegnologie, SharkSafeTM, te ontwikkel. Dit kan strandgangers beskerm sonder enige skade aan die seelewe. Hierdie innoverende tegnologie dien as oplossing vir internasionale probleme soos lewensverlies, verlies aan inkomste vir plaaslike sakeondernemings en die verlies van biodiversiteit in ekostelsels in ons oseane wat met haaiaanvalle gepaard gaan. Die SharkSafeTM -versperring dra tot die bewaring van 'n gesonde ekostelsel in ons oseane by terwyl dit ook die volhoubare gebruik van seehulpbronne vir ekonomiese groei bevorder, wat weer die bestaan van plaaslike gemeenskappe verseker. Sedert die plaaslikvervaardigde SharkSafeTM-versperring gepatenteer is, is 'n private maatskappy, SharkSafe (Edms) Bpk, in 2012 gestig. Hierdie uitvindsel het ook internasionale aandag getrek, met belangstelling van sover as La Réunion-eiland, Australië en Saoedi-Arabië.

“Die uitvinders van die SharkSafeTM-versperring, met name Mike Rutzen, dr Sara Andreotti, dr Craig O'Connell en myself, is inderdaad geëerd om hierdie toekenning te ontvang," het Matthee gesê.

“Ons wil krediet gee aan baie rolspelers wat vertroue in ons tegnologie getoon het en ons bygestaan het op 'n lang pad na kommersialisering, spesifiek aan Anita Nel en haar span by Innovus, Marius Ungerer van die US Bestuurskool wat gehelp met strategiese beplanning, en ook Laurie Barwell en Rory Bruins vir eindelose produkontwikkeling en logistieke ondersteuning."

Hopelik sal ons deur middel van die toekenning mense bewus maak dat hierdie tegnologie die potensiaal het om wêreldwye bewaring en sosio-ekonomiese uitdagings wat met konflikte tussen mense en haai verband hou, op te los.​

Walls (die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir brandnavorsing of FireSUN) het die TW Kambule-NWTF-toekenning in die Ontluikende navorser-kategorie ontvang vir die vestiging van FireSUN, 'n dinamiese navorsingsgroep wat ten doel het om metodes te vind om brandveiligheid in informele nedersettings asook strukturele brandontwerp te verbeter – wat albei noodsaaklik is om ons gemeenskappe te beveilig.

As een van die voorste kundiges op die gebied van brandveiligheidsingenieurswese, het Walls 'n belangrike rol in die ontleding van die Knysna-brandramp in 2017, waarin sowat 1 000 huise in puin gelê is, gespeel en het hy ook bygedra tot die Verenigde Nasies se “Wêreldwye assesseringsverslag oor die vermindering van ramprisiko's", wat maniere ondersoek om die uitwerking van rampe op die samelewing te verminder. Hy was ook betrokke by die beskikbaarstelling van rookalarms in informele nedersettings in Suid-Afrika. Meer as 5 000 rookalarms wat hoofsaaklik deur sakeondernemings of die regering geborg is, is in lae-koste-huishoudings geïnstalleer. Walls het ook Afrika se heel eerste kwalifikasie in brandveiligheidsingenieurswese gevestig.

Walls het in reaksie op die toekenning gesê: “Ons word nie net 'n salaris betaal om goed af te brand nie, maar nou ontvang ons span ook erkenning vir die bevordering van wetenskap en ingenieurswese. Ons PhD- en MIng-studente, asook die postdoktorale genote en voorgraadse studente het baie hard gewerk en ons hoop dat ons 'n verskil maak. Ek het waardering daarvoor dat al hul bydraes deur hierdie toekenning erken word."

Lochner (Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Eenheid vir Risiko en Veerkragtigheid in Psigiatriese Siektes en die departement Psigiatrie) is met 'n TW Kambule-NWTF-toekenning in die Navorsingskategorie vereer vir die bewustheid wat sy geskep het oor obsessief-kompulsiewe steurnis, 'n algemene en uitmergelende siekte wat tot lyding vir die individu en die samelewing en reuse-ekonomiese onkostes bydra.  

Lochner het sedert 2001 reeds verskeie bewusmakingsveldtogte van stapel gestuur en het omvattende kliniese en genetiese inligting van byna 1 000 pasiënte wat aan hierdie toestand ly, versamel, asook MRB-inligting van 'n ondergroep, om 'n omvattende databasis te vorm wat samewerking met van die wêreld se voorste wetenskaplikes gefasiliteer het en verskeie publikasies tot gevolg het. Haar navorsing dra by tot die huidige kennis van hierdie aantastende toestande wat akkurater diagnose en beter versorging – vir die individue asook die samelewing – tot gevolg kan hê. Die siektelas wat met hierdie toestande gepaard gaan – op 'n persoonlike/emosionele vlak, asook die finansiële las – word dus uiteindelik deur werk van hierdie aard en skaal verminder.

​Foto: Dr Richard Walls, prof Christine Lochner en prof Conrad Matthee saam met lede van sy span.