Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties se #Train4Fees-veldtog kry ekstra tyd
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 31/07/2020

Die Universiteit Stellenbosch se # Train4Fees-veldtog, wat daarop gemik is om studente-atlete te help wat finansiële steun verloor het weens die impak van COVID-19, gaan oor in ekstra tyd.

Die veldtog, wat op 1 Junie 2020 deur Maties Sport en die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge van stapel gestuur is en op 31 Julie sou eindig, het nou 'n einddatum van 31 Augustus 2020 en 'n nuwe fondswerwingsdoelwit van R2 miljoen.

Tot dusver is daar reeds R732,137 ingesamel, die getal geregistreerde fondswerwers staan op 102 en dit sal 23 studente 'n finansiële hulplyn gee, danksy hierdie fondse wat deur afrigters, spelers, sportsterre en Maties ingesamel is.

Vir Hans Scriba, fondswerwingsbestuurder, is die wenstreep egter nog nie in sig nie. In werklikheid wil hy die fondse wat reeds ingesamel is, verdubbel ... Alles te danke aan 'n vrygewige skenker wat daartoe verbind is om alle fondse wat ingesamel word op 'n rand-vir-rand basis te verdubbel.

"Ons het tans meer as 300 studente-atlete wat om finansiële hulp aansoek gedoen het, en ons wil hulle almal graag help. COVID-19 gee vir talle van ons studente 'n harde tyd. Hulle probeer die balans van hul klasgelde betaal, maar die inperkingstydperk, die virus en die ekonomie maak dit vir hulle uiters moeilik. En hier by die Universiteit Stellenbosch gaan ons nie ons studente-atlete in die steek laat na al die tyd en die moeite wat hulle insit – en steeds doen nie, sê Scriba.

"Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons atlete tot dusver ontvang het, en doen 'n ernstige beroep op ander om ook die uitdaging aan te pak. Die afgelope twee maande het ondersteuners gehardloop, fietsgery en gestap om fondse in te samel. Baie van ons getroue Maties-alumni het verder ook groot bydraes tot hierdie veldtog gemaak. Ons het selfs 'n 5-jarige wat 'n 50km staptog aanpak," sê Karen Bruns, Senior Direkteur van die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

Hoe kan JY betrokke raak?

Jy kan enige van die fondswerwers op die Maties GivenGain-platform in jou gekose sportsoort borg – rugby, sokker, krieket, netbal en hokkie – of ander sportkodes op die Maties-sportbladsy ondersteun – of jy kan 'n fondswerwer vir #Train4Fees word – deur te hardloop, fiets te ry, op 'n skaatsplank te klim of op 'n drafstappie te gaan … watter oefening jy ookal geniet om fiks te bly.