Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Dis eienaarskap, eerder as leierskap,' sê Rassie
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 30/07/2020

Die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge (DAR) het onlangs die eerste van 'n reeks gesprekke met plaaslike en internasionale leiers, getiteld Matie Crest Talks, geloods.

Sowat 1 600 alumni, skenkers en vriende van die Universiteit het op Donderdag, 23 Julie by die eerste Matie Crest Talk aangesluit. Deelnemers was van Nieu-Seeland, die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Ierland, Europa, Asië en natuurlik Suid-Afrika. Rassie Erasmus, die voormalige hoofafrigter van die triomfantelike 2019 Springbok Wêreldbekerspan en huidige direkteur van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), was die spreker. Alison April, self 'n Matie en tans DAR se Alumni- en Fondswerwingsdirekteur in Europa, het die aanlyn gesprek gefasilliteer.

Volgens Karen Bruns, DAR se Senior Direkteur, is die doelwit van hierdie leierskapgesprekkke om huidige en toekomstige leiers te inspireer, bekragtig, te lei en te fassineer.

Erasmus se gesprek het gefokus op hoe om die pad vanaf krisis tot sukses aan te pak. Hy het sy terugkeer vanaf Ierland in November 2017, om die leisels as Springbokbreier oor te neem, as vertrekpunt gebruik.

“Die manier hoe ons die 2019 Wêreldbeker sou aanpak was om uitsluitlik op die foute wat ons in vorige Wêreldbekers gemaak het, te fokus. Ek was 'n speler in '99 by die Wêreldbeker, in 2003 was ek nie daar nie, in 2007 en 2011 was ek deel van die bestuurspan en in 2015 was ek SARU se hoëprestasie-bestuurder. Ek het nog altyd gesê onthou daardie tye toe ons amper gewen en net-net verloor het. Dís waar jy jou planne en opsies vandaan kry."

Hy het gedeel hoe belangrik dit is om die denke van die hele span in lyn te bring. Sukses gaan nie oor leierskap nie, maar eerder oor eienaarskap: elke speler moes volle eienaarskap neem - op die veld sowel as van die veld af. Hy het verder verduidelik dat die spelers hul as 'n span wat saamstaan moes beskou. Dit was toe 'n suksesvolle beginpunt om op voort te bou. Gevolglik, met die fokus op spanwerk en 'n ware Springbokgees, kon hulle aan die werk spring.

Erasmus het ook talle insae or die rol van bestuur en elke speler gedeel en benadruk dat om sukses te behaal moet die regte mense gekies en aangestel word. Sukses beteken ook om 'n diverse span te hê.​ "Ons het vier vroue in die bestuurspan gehad wat 'n baie belangrike rol vir ons spelers gespeel het. Ek kan jou nou vertel, by die Wêreldbeker het ons 'n 100% gelukkige, getransformeerde en uiteenlopende speel- en bestuurspan gehad."

Baie van die punte wat hy gedeel het, was voordelig vir mense in die sakewêreld, sport, onderriginstellings en verskeie ander organisasies.

Bruns is opgewonde oor toekomstige Maties Crest Talks en hoe alumni daaruit voordeel kan trek in hulle professionele lewens. “"Met die Maties Crest Talks skep ons 'n platform vir leiers vanuit verskillende agtergronde, verskillende industrieë en verskillende kontekste om hul siening oor leierskap uitsluitlik met Matie-alumni te deel – so uiteenlopend en oorspronklik as wat hul aanbiedings mag wees. Hou hierdie spasie dop – ons beplan om nóg inspirerende gesprekke in die komende maande aan te bied."