Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kinders behoort middelpunt van regeringsbeleide en –planne te wees
Outeur: Mark Tomlinson
Gepubliseer: 30/07/2020

Wat sal gebeur indien Suid-Afrika die belange van kinders en adolessente die middelpunt van alle beleide en reaksies maak? Dit is die vraag wat prof Mark Tomlinson van die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing probeer beantwoord het in ʼn artikel vir Daily Maverick (27 Julie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Hoekom is kinders en adolessente nie die middelpunt van alles wat ons doen nie?

Mark Tomlinson*

Die regering moet deur die lens van kinders se welstand kyk ten einde die swaarkry wat deur die pandemie veroorsaak is, aan te spreek – dit geld ook vir die besluite wat ons in die alledaagse lewe neem.

Een ding van 'n pandemie is dat daar skielik 'n eindelose rits kundiges na vore tree om ons in te lig oor die dra van maskers, voeding, infeksie, gedragsverandering, die verskille tussen fisieke en sosiale afstandskepping en hoe om ons geestegesondheid gedurende die staat van inperking te beskerm. Ons het kenners van aansteeklike siektes, opvoedkundiges, openbare gesondheidskenners, handel- en nywerheidskenners – om nie eens van die kundiges op die gebied van sosiale media en kommunikasie te praat nie.

Een ding van kundiges is egter dat hulle meestal die beste daarin vaar om hul eie agendas te bevorder – wat dikwels baie bekrompe is. In openbare gesondheid noem ons dit 'n silo-benadering. Jy is 'n HIV-kundige en jou taak is om soveel as moontlik befondsing vir HIV-navorsing en -behandeling te vind, en vir jou is dit die nommer-een gesondheidsprioriteit waarvoor jy voorspraak maak. Of daar jaarliks net soveel mense aan vetsug of nie-oordraagbare siektes sterf, is vir jou van minder belang. Dit is meestal in orde, want kennis en kundigheid is nuttig en om voorspraak te maak vir iets, het sy plek.

Maar in 'n pandemie is dit van die uiterste belang is om 'n breër uitkyk te hê, en nie net jou eie agenda te wil bevorder nie. 

Dit gesê, om vir iets voorspraak te maak, is normaal en onafwendbaar, en diegene wat dit doen, moet aanhou daarmee. Maar binne die konteks van wat blyk om 'n oneindige rits prioriteite en 'n katastrofiese staat van inperking te wees, is daar een ding waardeur ons dalk in ons reaksie op die pandemie nou, maar ook in die lewe ná COVID-19, gelei kan word? Is daar 'n enkele kwessie, 'n enkele groep wat die middelpunt moet wees en wie se belange as die belangrikste beskou moet word?

As 'n denkoefening, wat sal gebeur indien Suid-Afrika die belange van kinders die middelpunt van alle beleide en reaksies maak?

Ek was vroeër vanjaar deel van 'n Wêreldgesondheidsorganisasie-Unicef-Lancet-kommissie wat as A future for the world's children? bekendgestaan het. In die verslag het ons gewys hoe die gesondheid en regte van kinders en adolessente – veral die mees gemarginaliseerdes en kwesbares – onmiddellik deur klimaatsverandering, die kommersiële bemarking van skadelike produkte en groeiende ongelykhede bedreig word. Ons betoog was dat kinders en adolessente die middelpunt van lande se planne, hul begrotings en hul programme moet wees en het gevra vir 'n wêreldwye beweging vir verandering – een wat kinders en adolessente uitnooi om betekenisvol insette te lewer as sleutelbelanghebbers.

Binne die konteks van die huidige pandemie, sal dit ons nie help om reg te prioritiseer en kortsigtige reaksies op COVID-19 voorkom indien ons op kinders fokus nie? Sal dit nie die regering en die samelewing se reaksie meer rasioneel en redelik maak nie? En die invloed van beide bekrompe groeperinge binne die regering en korporatiewe belange op die huidige COVID-19-reaksie tot 'n minimum beperk nie?

Hoe sal so 'n benadering daar uitsien?

Ses jaar gelede was Michael Komape by sy skool in Limpopo. Die afgeleefde, bouvallige puttoilet was nie sterk genoeg om sy vyfjaaroue liggaamsgewig te dra nie, en hy het in die put vol menslike ontlasting geval en verdrink. Ek het al dikwels nagedink oor hoe uiters afgryslik die laaste minute van sy lewe moes gewees het terwyl hy om hulp geroep het. Wanneer ons Michael die middelpunt maak van alles wat ons doen, sal ons die afgryslike toestand van so baie skole aanspreek en ons sal nie R57 miljard in 'n ondoeltreffende en sterwende lugredery stort nie.

Wanneer 'n provinsiale regering nuwe paaie beplan, maar met kinders en gemeenskappe as die kern daarvan, en indien hulle paaie uitsluitlik as verbindings tussen gemeenskappe en as skakels na werkplekke en gesondheidsfasiliteite sien, wen almal – selfs nywerhede en die vragmotorbedryf. Wanneer ons kinders die middelpunt maak, word doeltreffende beleide en die polisiëring van alkohol, sigaretverkope en dobbeladvertensies 'n onafskeidelike deel van ons daaglikse aktiwiteite – nie net gedurende 'n pandemie nie.  

Wanneer kinders die lens is waardeur ons besluite benader, sou ons onmiddellik begryp het dat 'n algehele inperking sou beteken dat 9,1 miljoen kinders nie meer etes by die skool sou kry nie. Dit sou beteken het dat 'n samehangende gebeurlikheidsplan ontwikkel sou word, of ten minste dat – namate die maande voortgesleep het en ons met die brute afgryslikheid van die uitwerking van die staat van inperking op kinders gekonfronteer is – dit nie 'n hofsaak sou geverg het om die regering te dwing om te verseker dat kinders 'n voedende maaltyd per dag kry nie.

My klaaguitroep aan president Cyril Ramaphosa is die volgende: Die kwesbaarstes in ons samelewing ly en dit word al hoe erger. Ons moet kinders die middelpunt maak van alles wat ons doen. Die heropening van casino's is nie so belangrik soos kindervoeding nie. Onderwysers se beskerming moenie ten koste van kinders wees nie. Onderwysers is noodsaaklik, en ek sê nie hulle moet op die altaar van kinders se opvoeding opgeoffer word nie. Maar tans betaal kinders die prys vir onderwysers se veiligheid.

Dit hoef nie 'n nulsomspel te wees nie.

Die ding oor kinders is (om 'n afgesaagde liedjie aan te haal) dat hulle ons toekoms is. Wanneer ons hulle eerste plaas, dwing dit ons om 'n bietjie verder as net die piek van ons volgende infeksie te dink. Ons word gedwing om na te dink oor die lewenslange uitwerking van groeibelemmering, jare se verlore onderwys, die skooluitvalkoers en bedrywe wat heeltemal uitgewis word en wat ons dalk nooit weer sal terugkry nie. En ons wil per definisie onderwysers teen infeksie beskerm omdat hulle so belangrik is vir ons kinders.

President Ramaphosa, indien u op hierdie manier sou begin dink, mag dit dalk 'n verskuiwing na meer besliste en gesaghebbende leierskap tot gevolg hê waar u bereid is om die groter prentjie raak te sien, om aankondigings te maak wat duideliker en meer logies is en wat dalk minder arbitrêr voorkom, en dit mag selfs aan u die ysere wil gee om die druk van diegene met bekrompe agendas te weerstaan (hetsy korporatiewe belange of unies van buite, of kabinetministers van binne).

Indien u nie in staat is om dit te doen nie, gaan ons kinders (en dus ons almal) die ondraaglikste las oor die volgende geslag moet dra.

*Prof Mark Tomlinson is mededirekteur van die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.