Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties rekenaarwetenskapstudente wen Investec hackathon
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 30/07/2020

Vyf rekenaarwetenskapstudente van die Universiteit Stellenbosch het die eerste plek behaal in Investec se programmeerbare banktoep-uitdaging, wat van 23 tot 24 Julie plaasgevind het.

Die span BScHons-studente, bestaande uit Jaco Swart, Hendrik van Heerden, Marie-Louise Steenkamp, Annika Nel en Aidan Elias, het teen vier ander spanne meegeding. Die uitdaging was om nuwe toepassings vir 'n bestaande bankkaart en bankplatform te ontwikkel.

“Ons benadering was om te probeer om Investec se bestaande versekeringsdiens by hul aanlyn betalings te inkorporeer. Met ander woorde, wanneer iemand byvoorbeeld 'n vliegkaartjie koop, dan verskyn daar outomaties 'n boodskap oor reisversekering," verduidelik Jaco Swart.

Elke span moes hul oplossing aan die ander spanne en aan 'n paneel van Investec se personeel voorlê.

Mnr. Leonard Mahlangu, van Investec se afdeling vir mense, organisasie en beroepe, sê die paneel was beïndruk met die US span se vasbyt-vermoë en hul begrip van die maatskappy: “Hierdie was ons eerste virtuele hackathon, derhalwe was daar heelwat tegniese probleme wat die uitdaging net nog moeiliker gemaak het. Hierdie span het egter nie dat die tegniese terugslae hulle onderkry nie. Hulle wenresep, behalwe vir hul uithouvermoë, was egter die feit dat hulle moeite gedoen het om die maatskappy en die produkte wat ons aanbied, te verstaan, sowel as die tegnologie-landskap waarbinne hulle moes werk. Dit het die grondslag vir hul wen-oplossing gevorm, om tegnologie te gebruik om die besigheidsaanbod uit te brei en terselfdertyd die kliënt se ervaring daarvan te verbeter."

Hy sê Investec bestuur die hackathons onder die “IT explore" vaandel: “Dit is 'n geleentheid vir studente om die werklike wêreld te ervaar deur 'n werksituasie te simuleer. Vir ons as 'n organisasie bied dit 'n geleentheid om 'n verhouding met die studente op te bou, veral indien hulle later deel sou word van ons tegnologie-graadprogram , of later selfs sou besluit om vir 'n posisie by die maatskappy aansoek te doen."

​Prof Bernd Fischer, hoof van die US se Afdeling Rekenaarwetenskap, sê sulke hackathons bied studente waardevolle blootlstelling aan die industrie: “Ons waardeer dit wanneer maatskappye soos Investec hierdie geleenthede bied, aangesien dit ons akademiese aanbieding komplementeer. Dit wys ook dat ons studente goed voorbereid is vir die werkplek."

Vir hul moeite het die wenspan elk 'n paar Beoplay H9 Generation 3 oorfone ontvang, sowel as 'n pakkie met versnaperinge vir hul deelname.