Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beskerming van pasgeborenes en hul moeders teen COVID-19 uiters belangrik
Outeur: Angela Dramowski & Adrie Bekker
Gepubliseer: 29/07/2020

Pasgeborenes, hul moeders en die hospitaalpersoneel wat na hulle omsien is uiters kwetsbaar vir Covid-19 en daarom moet beleide en sisteme in plek gestel word om hulle te beskerm, skryf proff Angela Dramowski and Adrie Bekker van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (28 Julie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Die beskerming van pasgeborenes en hul moeders gedurende die COVID-19-pandemie

Angela Dramowski and Adrie Bekker*

Daar bestaan verskeie uitdagings om infeksie onder een van ons kwetsbaarste bevolkingsgroepe te voorkom, maar Tygerberg-hospitaal is besig om die uitdaging die hoof te bied met die implementering van beleide en stelsels wat nie net die verspreiding van die koronavirus kan bekamp nie, maar ook breër infeksiebeheer kan aanspreek.

Terwyl die versorging van pasiënte tydens COVID-19 hoofsaaklik op volwassenes gefokus is, is dit ook 'n kommerwekkende tyd vir 'n baie kwetsbare deel van ons bevolking - ons pasgebore babas, sowel as hul moeders en die hospitaalpersoneel wat hulle in neonatale- en geboorte-eenhede regoor Suid-Afrika versorg.

Pasgeborenes (babas jonger as 28 dae) en veral vroegebore babas (jonger as 37 weke) en diegene wat minder as 2,5 kg weeg, is veral kwetsbaar omdat hul onderontwikkelde immuunstelsels sukkel om infeksies te beveg. Pasgeborenes wat in die hospitaal opgeneem word, loop 'n groter risiko vir infeksies, insluitend COVID-19, aangesien hulle dikwels baie tyd in die hospitaal moet spandeer vir voeding en groei, waar hulle aan verskeie versorgers blootgestel word. Die meeste van ons hospitale in die openbare sektor het nie isolasiegeriewe nie. Dit verhoog die risiko dat die virus onder babas, moeders en hospitaalpersoneel versprei.

Een van die probleme met die beskerming van gehospitaliseerde babas teen COVID-19 is dat baie volwassenes asimptomatiese infeksies het of die virus kan oordra voordat hul eerste simptome ontwikkel. Jong moeders kan ook onbewustelik die virus versprei, aangesien tot 45% van alle COVID-19 infeksies by volwassenes asimptomaties is. In een Amerikaanse studie het een uit sewe swanger moeders positief getoets vir COVID-19 - 88% van hulle asimptomaties - gedurende die hoogtepunt van die New York-pandemie.

Ons leer nog steeds baie oor oordrag- en siektepatrone van COVID-19 uit kleiner gevallestudies en verslae. Met die beskikbare inligting kan die koronavirus op drie maniere aan pasgeborenes oorgedra word. Moeders kan die virus ná geboorte aan babas oordra. Dit is waarskynlik die belangrikste manier waardeur die virus aan pasgeborenes versprei word, via druppeltjies uit die moeder se mond en neus en deur direkte en indirekte kontak met besmette oppervlaktes en voorwerpe. Die tweede wyse van oordrag is deur ander volwassenes wat ná die geboorte met die baba in aanraking kom. Dit kan in die gemeenskap of in die hospitaal voorkom as babas blootgestel word aan COVID-besmette mense of besmette oppervlaktes en voorwerpe. Die derde roete is wanneer die virus oor die plasenta na die fetus versprei. Dit is baie skaars en moeilik om te bewys, met baie min gevalle wat tot dusver wêreldwyd gerapporteer is.

Hoewel gerapporteerde gevalle van babas wat positief vir COVID-19 toets wêreldwyd laag was, is COVID-19 steeds 'n risiko vir pasgeborenes, en ons kan dit nie bekostig om op enige manier ons toesig te verslap nie.

By Tygerberg-hospitaal in Kaapstad doen ons alles in ons vermoë om ons babas, moeders en personeel te beskerm. In teorie, as mediese personeel toepaslike persoonlike beskermende toerusting (PPE) dra, behoort geen hoë risiko blootstelling aan COVID-19 te wees nie. Ondanks ons beste maatreëls vir infeksievoorkoming en –beheer (IPC), word mediese personeel steeds siek, aangesien hulle die virus op enige plek kan opdoen, van die huis en in die hospitaal tot openbare vervoer. Personeel moet dan huis toe gaan en hulself isoleer totdat hul toetsuitslae bekend is. Hulle moet dan langer tyd neem om te herstel as hul toetsuitslae positief is.

Afwesigheid tref ook hard, aangesien personeel tydens die pandemie onder geweldige fisieke en geestelike druk verkeer, en baie vrees vir hul eie sowel as hul gesin se veiligheid. Dit maak dit uiters moeilik om normale pasgebore versorging uit te voer in baie besige eenhede wat gereeld oorvol en onderbeman is. Dit kan ook ontstellend wees vir moeders wat siek word en positief toets vir die koronavirus. As hul babas voortydig gebore of baie siek is, kan moeders nie in die neonatale afdeling inkom nie en moet hulle hulself tuis of in kwarantyn- of isoleringsfasiliteite afsonder totdat hulle nie meer aansteeklik is nie.

Daar is egter belangrike stappe wat ons kon neem om die verspreiding van COVID-19 in ons neonatale afdelings en onder ons gesondheidsorgwerkers te bekamp. Een van hierdie strategieë is om alle besoekende moeders daagliks vir simptome te ondersoek en aan te dring dat hulle gesigmaskers dra. As toetsing algemeen beskikbaar is, moet die hospitale dit oorweeg om swanger vroue te toets as hulle in die hospitaal opgeneem word, terwyl simptomatiese moeders en personeel dringend toegang tot vinnige COVID-19-toetsing moet hê. Ons moet ook toesien dat babas nie onnodig in die hospitaal opgeneem word nie en dat babas nie langer as wat nodig is in die hospitaal gehou word nie, sodat ons die risiko vir blootstelling aan COVID-19 verminder.

Die COVID-19-pandemie was 'n intense leerkurwe vir mediese personeel in ons neonatale afdelings by die Tygerberg-hospitaal. Ons het gebruik gemaak van 'n kombinasie van aangesig-tot-aangesig onderrig van alle kaders van personeel, sowel as kort video's, geskrewe begeleiding en plakkate in die kliniese areas. Ons het ons kommunikasie met personeel versterk deur middel van riglyne en opleiding oor hoe om stigma te verminder, PPE korrek te gebruik en hoe om oppervlaktes en toerusting skoon te maak. Ons het webgebaseerde toepassings gebruik om bygewerkte riglyne vir maklike toegang te stoor, veral omdat riglyne gereeld bygewerk word namate nuwe bewyse beskikbaar word.

Ons het ook 'n stelsel in elke afdeling ingestel waar verpleegkundiges IPC-kwessies en bekommernisse aan die IPC-praktisyns rapporteer en die frekwensie van oudits verhoog het om vas te stel of daar kontroles in plek is.

In neonatale afdelings is uitgedrukte borsmelk uiters belangrik vir die versorging van babas wat voor of ná 37 weke van swangerskap gebore is. Ons het beleid ingestel oor hoe om glasbottels met uitgedrukte borsmelk skoon te maak, en hoe om bottels te ontsmet om enige oordrag van die koronavirus te voorkom.

Dit is duidelik 'n spanpoging. Jy kan al die toepaslike beleide hê, maar die implementering is wat tel. Die bestuur van hospitale speel 'n sleutelrol deur duidelike kommunikasie met personeel, die bestuur van vrees en vals inligting en die verkryging van meer personeel en PPE.

Ons verwag dat lesse wat uit COVID-19 geleer is, ons ook sal help in ons samewerking met die Nasionale Neonatale Sepsis-taakspan, wat in September op die been gebring is. Die taakspan bestaan uit kundiges van hospitale regoor Suid-Afrika. Dit bied tegniese advies en voorligting oor toesig oor neonatale sepsis wat deur bakteriële infeksies veroorsaak word en 'n belangrike oorsaak van dood by pasgebore babas is. Die taakgroep werk ook aan maniere om infeksies, soos longontsteking wat in hospitale opgedoen word, urienweg- en bloedstroominfeksies, sowel as uitbrake in neonatale eenhede, beter te voorkom.

Die pyplyn van nuwe middels om anti-mikrobiese weerstandige infeksies te behandel, is baie beperk, so deur goeie IPC te doen, kan ons die verspreiding van organismes wat hierdie infeksies veroorsaak beperk en die behoefte aan baie breëspektrum antibiotiese terapie verminder.

COVID-19 het uitdagings gestel wat ons ons dieselfdetyd verlede jaar nooit kon voorstel nie. Dit was 'n moeilike reis tot dusver, maar ons leer en groei deur die ervaring. Die belangrikheid van basiese konsepte soos die skoonmaak van oppervlakte en die was van hande in die tyd van die koronavirus het praktyke in ons eenhede verbeter en het ook in die gemeenskap oorgespoel.

Ons is optimisties dat die goeie gewoontes wat mense tydens COVID-19 aangeleer het, kan help om op die langtermyn bakteriële infeksies, asook die oordrag van ander respiratoriese virus- en diarree-siektes, te verminder.

Ons is hoopvol dat ten spyte van die somberheid van die pandemie, ons beter toegerus aan die anderkant sal uitkom om babas en hul moeders te beskerm en beter gesondheid en higiëne in ons hospitale, huise en gemeenskappe te bevorder.

*Professor Adrie Bekker is 'n neonatoloog by die Tygerberg-kinderhospitaal in Kaapstad en medeprofessor in die departement pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch. Professor Angela Dramowski is 'n spesialis in pediatriese aansteeklike siektes en 'n navorser in die departement pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch. Albei skrywers is deel van die Nasionalel Neonatale Sepsis-taakspan.