Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waardeer en bewaar natuurlewe gedurende inperking
Outeur: Dr Tony Rebelo & Dr Alanna Rebelo
Gepubliseer: 28/07/2020

Op Dinsdag (28 Julie) vier ons Wêreld Natuurbewaringsdag. In n meningsartikel vir News24, skryf Drr Tony Rebelo (Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut) en Alanna Rebelo (Departement Bewaringsekologie en Entomologie)  dat ons moet voortgaan om die natuurlewe om ons gedurende die inperkingstyd te waardeer en te bewaar.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Tony Rebelo & Alanna Rebelo *

Vanjaar het die hoogtepunt van die Covid-19-inperking in April saamgeval met die vyfde iNaturalist City Nature Challenge. In hierdie jaarlikse wêreldwye natuurjag word die publiek aangemoedig om as burgerlike wetenskaplikes hul stede te gaan verken en verslag te doen oor die diere en plante wat die wêreld met ons deel.

Met almal wat tot hul huise beperk is in baie groot stede regoor die wêreld, en met net sommige wat gelukkig genoeg is om tuine of balkonne te hê, was dit 'n groot uitdaging vir 'n natuurjag.

Hoewel daar net enkele maande verloop het, is dit moeilik om te onthou dat ons in Suid-Afrika slegs toegelaat is om ons huise vir mediese noodgevalle en kos verlaat. Dit het beteken dat die interaksie met die natuur tot n mens se huis beperk was.

Die inperking was egter geen verskoning vir passiwiteit in 'n diverse land soos Suid-Afrika nie. Baie Kapenaars het die wonders van 'n nektarvoerder ontdek, of die invloed van 'n halwe appel en 'n handvol sade wat buite gelaat is. Baie voëls en ander klein diertjies kon verlei word om besoek af te lê, toe menslike besoekers dit nie kon doen nie.

Die inperking het 'n tyd geword vir mense om betrokke te raak by die natuurlewe in hul huise en tuine. Jy vra miskien hoe jy met die natuur kan omgaan? As jy tuine het, kan jy byvoorbeeld die ontwykende dwergverkleurmannetjie opsoek en opteken, of 'n tuinpartytjie hou en al die klein diertjies wat die blomme, plante en jou piekniek besoek opteken.

As jy 'n naguil is, waarom nie 'n nagekspedisie hou nie, en soek na spinnekoppe en insekte by hul oogsnoer, en die ligte verkleurmannetjies en ander nagdiere, soos bidsprinkane, krieke en paddas?

Geen tuin is geen verskoning om nie met die natuur te omgaan nie. Jy kan voëlopnames vanaf jou vensters doen, of motvalle opstel (lakens wat snags helder verlig word) of insekhotelle of nesbokse. Binne ons huise kan die geitjies, muskiete en ander goggas ons vermaak en vererg.

As jy eensaam, geïsoleer en sosiaal-gedistansieerd voel, hoef jy net in die hoeke en onder die beddens te loer om miere, huisvlieë, of selfs kakkerlakke en weeluise te vind. Maar behalwe hierdie ooglopende plae, is daar ook 'n groot verskeidenheid ongelooflike motte, vismotte, spinnekoppe en kewers.

Ter viering van Wêreld Natuurbewaringsdag op 28 Julie, moet ons die waarde van alle lewe insien veral as 'n mens dink dat elkeen om 'n baie goeie rede ons wonings besoek, en baie van hulle is eintlik besig om op te ruim, of help om plaaggetalle te beperk.

City Nature Challenge: Die inperkingsronde

Einde April 2020 het ses stede in suidelike Afrika (uit die 244 wêreldwyd) aan die City Nature Challenge 2020-inperkingsronde deelgeneem: Kaapstad, die Tuinroete, Durban, Nelson Mandelabaai, Tswane en Gaberone.

Kaapstad het weer  ̶  vir die tweede agtereenvolgende jaar  ̶  die beste plek in die wêreld behaal vir die aantal natuurwaarnemings (34 254). Interessant genoeg is byna 'n kwart van alle waarnemings in Kaapstad deur verkenners versamel. Hoewel die Tuinroete slegs die 10de posisie beklee het, het dit die tweede plek vir stede buite die Verenigde State losgeslaan.

Dr Eleanor Yeld Hutchings van die biodiversiteitsbestuurstak van die Stad Kaapstad was verras oor die resultate en het gesê: “Vir 'n land [wat in] 'n harde inperking was, dink ek dit is ongelooflik hoeveel ons reggekry het."

Kaapstad se beste waarnemer was die graad 11-leerder, Jeremy Gilmore, wat 834 waarnemings gedoen het. Etlike honderde waarnemings uit 'n tuin is nogal 'n prestasie. Hy is een van Kaapstad se jongmense wat 'n passie het om oor inheemse plante te leer, sowel as om dit wat ons oor het te beskerm. In sy vrye tyd sluit hy by die Friends of Tokai-park aan om uitheemse bome in die Tokai-park te verwyder om die fynbos te beskerm.

Ons sukses met die City Nature Challenge is miskien nie verbasend in 'n land soos Suid-Afrika nie, waar daar na raming 67 000 diersoorte en meer as 20 400 plantspesies opgeteken is. Ons het ongeveer 7% van die wêreld se vaatplantspesies, 5% soogdiere, 7% voëls, 4% reptiele, 2% amfibieë, 1% varswatervis en 16% haai-, skaats- en straalspesies. En nie net dit nie, ongeveer die helfte tot twee-derdes van die spesies in elk van hierdie groepe word slegs in Suid-Afrika aangetref.

ʼn Verhaal van ses stede in inperking

En so gaan die verhaal van die ses stede voort. Die City Nature Challenge was nie net 'n eenmalige gebeurtenis nie, maar die begin van die ontdekking en waardering van die natuur in en om ons huise tydens die harde inperking. Baie inwoners het by een van die ses stadsinperkingsprojekte op iNaturalist aangesluit en die lewe rondom hul huise opgeteken.

Ons kan baie leer uit wat mense gevind en gedeel het. In die fynbos is voëls natuurlik baie rondom mense se huise, maar Kaapstad se topposisie gaan aan die dwergverkleurmannetjie, marmer blaartoongeitjie, die heuningby en die bruin tuinslak ('n indringerspesie: jy ken die een), met die rooi-oog duif in die vyfde plek.

In die Tuinroete, waar Fynbos en woude ontmoet, gaan al die eer voëls: die Kaapse wewer, Greater, Grootrooibandsuikerbekkie, Rooi-oog duif, Fiskale (Jannie) en die Gevlekte Muisvoël. By die koppelvlak van fynbos en die digte biome bied Nelson Mandelabaai die gewone dwerggeitjie, die tropiese huisgeitjie, die heuningby, sitrus-swaelstertskoenlapper en gewone blouskoenlapper in sy top vyf.

Sou jy kon raai dat die vier mees opgetekende diere in Durban skoenlappers is?  ̶  met die gewone Bosbruintjies, Natal Viooltjie, Donkerblou Viooltjie en sitrus-swaelstertskoenlapper aan die voorpunt, en 'n naaldekoker, die Julia Skimmer, in die vyfde plek. Die stad Tswane het die heuningby, stekelrige suikermier, laggende duif, Hadeda en gewone dwerggeitjie opgeteken as die spesies wat die meeste in tuine voorkom.

En Gaborone doen buitensporig goed. Van die top vyf diere het slegs een mot  ̶  die Vestal  ̶  'n algemene naam: die ander mierleeus, motte, goggas en kewers moet nog beter bekend word voordat hulle met inheemse name gedoop word.

Wie sou kon dink dat die verhaal van ses stede so anders, so ryk en so opwindend sou wees? Ons moet ag slaan op die diere en plante wat ons huise en tuine deel (byvoorbeeld met behulp van die gratis iNaturalist-app). Bewaring en omgewingsbewustheid is lekker, en dit is gratis om by 'n globale gemeenskap aan te sluit, en jy kan tuis begin.

*Dr Tony Rebelo is verbonde aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut en dr Alanna Rebelo is 'n postdoktorale navorser in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch.