Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MGD bied meer virtuele Mandela-dag geleenthede vir studente
Outeur: ​Matie Community Service
Gepubliseer: 24/07/2020

Matie Gemeenskapsdienste (MGD) bied twee bykomende virtuele geleenthede vir studente aan op 29 en 31 Julie as deel van die maand-lange viering van Mandela-dag. Die gebeure het afgeskop op 17 Julie – 'n dag voor Mandela se verjaarsdag – met die suksesvolle 67-minute virtuele bespreking oor “Personeel-welstand tydens COVID-19 en daarna."

Op 29 Julie sal 'n paneelbespreking oor studente-welstand aangebied word wat sal insluit me Monica du Toit, voormalige Direkteur van die Transformasiekantoor, en huidige Residensiële Opvoedingkoördineerder by die Sentrum vir Studentegemeenskappe sowel as koshuishoof van Harmonie en Monica koshuise; mnr Charl Daivd, Adjunk-Direkteur van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling; mnr Lewis Mboko, Voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad, en me Unopachido Mubaiwa, Huiskomiteelid van die Eendrag manskoshuis en 'n Sielkunde honneursstudent.

Deur hierdie virtuele skakeling wil MGD die ondervinding en kundigheid van die paneellede aanwend om bespreking te genereer oor wat studente ervaar as kritiese kwessies in hierdie tyd, sowel as watter ondersteuning beskikbaar is vir die studentegemeenskap ten einde geestesgesondheid en welstand te prioritiseer. Die paneel sal ook genooi word om hul ondervinding van die lewe tydens 'n pandemie en inperking te deel.

“Baie studente moes vinnig aanpas by aanlyn-onderrig tydens die krisis en leer om opdragte te voltooi en oopboek-eksamens aanlyn te doen terwyl hulle in isolasie werk. Studente moes die koshuis-omgewing verlaat waar hulle vriende en ondersteuning-strukture gehad het, en moes dikwels hul onafhanklikheid opgee en terugtrek huis toe," sê me Renee Hector-Kannemeyer, hoof van MGD en Adjunk-Direkteur van die Afdeling vir Sosiale Impak, waaronder MGD ressorteer.

“Dit kan moeilik wees om aan te pas by aanlyn-onderrig terwyl jy tuis is met jonger sibbe en huishoudelike verantwoordelikhede het. Boonop is studente nie in staat om te sosialiseer met vriende en klasmaats nie of om aktiwiteite soos bioskoop toe gaan, partytjies en saamkuier te geniet nie."

“Baie studente moes ook moeilike besluite neem, soos of hulle huis toe moes gaan na hul geliefdes tydens inperking, of om in die koshuis te bly. Hierdie onsekerheid is vererger deur die vrees dat hulle dalk glad nie sal kan terugkeer na die universiteit om hul studies te voltooi nie."

Mboko stem saam.

“Hierdie was 'n moeilike tyd vir ons studente. Almal het die kampus verlaat met die hoop dat hulle binne drie weke sou kon terugkeer. Sommige studente wat agtergebly het tydens die inperking het ook gedink dit sou net 'n kwessie van weke wees. Baie studente is in 'n toestand van skok oor hoe dit uitgedraai het. Sommiges het geliefdes verloor en ander vrees dat COVID-19 hul gesinne kan bereik. Die meeste studente het goed aangepas by aanlyn-onderrig, maar ons kan nie die stryd van studente wat nog steeds probeer aanpas by die nuwe stelsel ignoreer nie. Dit is 'n moeilike tyd en ons studente benodig ondersteuning, nou nog meer as ooit," sê Mboko.

Die angs wat studente ervaar, sê Hector-Kannemeyer, is 'n aanduiding van die wêreldwye angs wat mense ervaar tydens hierdie pandemie.

“Ons nuus-opskrifte is gevul met berigte oor die toename in infeksies en sterftes wêreldwyd en in ons eie land. Hierdie werklikhede is belig deur ons Rektor, prof Wim de Villiers, wat erken het dat die Universiteit Stellenbosch 'soos ander akademiese instelling in die land en wêreldwyd, homself bevind in 'n vinnig veranderende en onthutsende omgewing' saam met die bestaande onsekerheid, angs en kommer wat bestaan op 'n institusionele en persoonlike vlak."

Die krisis is egter vererger deur ander faktore in Suid-Afrika en in die wêreld, sê sy.

“Daar is 'n voortdurende toename in buitensporige en wrede geweld teen vroue en kinders en 'n groeiende aantal moorde op vroue in Suid-Afrika, waarna ons President verwys as die tweede pandemie. Ons het ook die gedwonge hervestiging van sowat 2 000 hawelose Suid-Afrikaners ervaar, in wat uiteindelik geblyk het 'n onbewoonbare kamp te wees, in 'n poging om infeksies te verhoed, 'n globale ekonomiese afswaai wat reeds gelei het tot werkverliese, insidente van polisie-wreedheid in ons gemeenskappe, en die voortsetting van strukturele rassisme in alle sfere van die gemeenskap wat weer eens belig is deur die #BlackLivesMatter beweging."

Op 31 Julie sal MGD 'n virtuele Viering van ons Kreatiwiteit aanbied om die veerkragtigheid getoon deur studente te vier en 67 minute van kuns, musiek en poësie aangebied deur studente te geniet. Die program sal ook 'n vraag-en-antwoord-sessie insluit.

“Hierdie virtuele betrokkenheid het ten doel om ons te help en aan mekaar ruimte te bied tydens hierdie krisis terwyl ons krag put uit ons waardes van uitnemendheid, deernis, aanspreeklikheid, respek en gelykheid. Ons wil sinvolle kontak met ander in ons universiteit-gemeenskap bevorder deur ondervindings, raad, wysheid en ondersteuning te deel ten einde studente-welstand en geestesgesondheid te prioritiseer by ons Mandela-dag vierings."

Kliek hier om te RSVP vir hierdie geleenthede.

Sprekers op 29 Julie sluit in:

Me Monica du Toit

Me Monica du Toit het 'n MA in Kliniese Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal. Sy het gewerk in die NRO sektor en 'n kantoor vir MIV-voorkoming, berading en ondersteuning gestig by US. Sy het 'n transformasie-strategie vir US gekoördineer en gedien as hoof van die Transformasie-kantoor en het ook 'n Menslike Hulpbron Transformasie Vaardigheidsontwikkelingprogram vir personeel aan die universiteit ontwikkel. Tans werk sy as Residensiële Opvoedingkoördineerder en koshuishoof van Harmonie en Monica koshuise by die Divisie vir Studentesake.

 

Mr Charl Davis

Mnr Charl Davids is 'n geregistreerde sielkundige by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika. Hy is 'n voormalige Jeugprogram-bestuurder by Selfhelp Manenberg; was 'n bestuurder by die Opleidingsafdeling van die Traumasentrum vir Oorlewendes van Geweld en Marteling in Kaapstad, en 'n hoof-sielkundige van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Kaapstad. Hy het 'n private praktyk begin in 2003. Hy het aangesluit by die Departement Sielkunde  by die Universiteit van die Wes-Kaap in 2006, waar hy klas gegee het op voorgraadse en nagraadse vlak. Hy was ook adjunk-hoof van die Departement van 2013-2015. Hy is tans die Adjunk-Direkteur van die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch. Sedert 2018 dien hy ook as die SADC Streekkkoördineerder van die Internasionale Konsortium van Universiteite vir die Vermindering van Dwelmaanvraag (ICUDDR)

Mnr Lewis Mboko

Mnr Lewis Mboko is die Studenteraadsvoorsitter van die Universiteit Stellenbosch. Hy is besig met nagraadse studies in Ekonomie aan US. Mboko is passievol daaroor om die stem te wees van jong mense en werk in verskillende areas om minderbevoorregte jong mense te help om hul volle potensiaal te bereik.

Me Unopachido Mubaiwa

Me Unopachido Mubaiwa wil 'n beroep volg in geestesgesondheid met die doel om by te dra tot die prioritisering van die geestesgesondheid van die Suid-Afrikaanse student op sekondêre en tersiêre vlak. Sy voltooi tans 'n honneursgraad in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Mubaiwa het haar universiteitsloopbaan toegewy om betrokke te wees by studenteleierskap in 'n poging om die diepgaande transformasie te prioritiseer wat benodig word om te verseker dat alle US studente gedy. Sy was die Prim van Sonop koshuis in 2018/2019, 'n Prim mentor vir 2019/2020 en is tans 'n Huiskomiteelid van die Eendrag manskoshuis waar sy hoof is van die welstand-portefeulje. Mubaiwa is 'n innoverende, dinamiese en passievolle individu wat glo in die vermoëns en krag van die Suid-Afrikaanse jeug. Sy is 'n aktiewe burger en vasbeslote om steeds haar lewe toe te wy tot die verandering wat sy in die wêreld wil sien.

 

Woensdag  (29  Julie 2020 )

Geleentheid:  Webinaar & Toonvenster van video's deur studente

Program opening: Me Thandi Gamedze

Amptelike verwelkoming: Me Wamahlubi Ngoma (Vise-Voorsitter: SR)

Raamwerk van webinaar: Dr Gillian Arendse (begin met vertoning van video's)

Paneelbespreking:  Me Monica Du Toit, mnr Lewis Mboko, me Unopachido Mubaiwa & mnr Charl Davids

V & A

Slotopmerkings: Prof Nico Koopman (Vise-Rektor: Sosiale Impak,
Transformasie & Personeel)

Slotvideo


Video Toonvenster: Vrae

 


Watter gesprekke is tans op die voorgrond in ons studentegemeenskap in hierdie tyd?

Wat is van die uitdagendste aanpassings wat studente moes maak (en steeds maak) om die nuwe manier van leer en leef te hanteer?

 

Wat is Universiteit Stellenbosch se institusionele reaksie en ondersteuning gebied aan studente tydens COVID-19 en daarna?

Hoe kan ons Mandela se nalatenskap eer tydens hierdie wêreldwye krisis?

         
Alle paneellede

 

  • Me Monica Du Toit


  • Mnr  Charl Davids & Mnr Lewis Mboko & Me Unopachido Mubaiwa

 

  • Alle paneellede

 

 

Vrydag (31 Julie 2020 )

Geleentheid: Viering van ons Kreatiwiteit 



12h30 – 12h35   Opening

12:35-12H40      Verwelkoming

 

 12:45-12h50     Gedig (Social Justice)

12h40- 12h55   Africa-musiekuitvoering

12h55-13h05    Danie du Toit

13h10- 13h20   Slotopmerkings


13h20 – 13h30 Jazz-orkes

 


Dr Gillian Arendse

Me Tonia Overmeyer, Direkteur: Sentrum vir Studenteleierskap en Strukture en Studente-dekaan
Me Ernestine Meyer-Adams, Direkteur: Afdeling vir Sosiale Impak

Me Thandi Gamedze

Mnr Themba Lonzi 

Uitvoering deur orkesleier van Spoegwolf 

Me Renee Hector Kannemeyer, Hoof: MGD en Adjunk-Direkteur: Afdeling vir Sosiale Impak

Newvoice Sextet