Beide die regering en die privaatsektor behoort landbou te gebruik om plattelandse gebiede te help ontwikkel en só die negatiewe gevolge van stygende werkloosheid en ʼn krimpende ekonomie teen te werk, skryf Wandile Sihlobo (Suid-Afrikaanse landbousakekamer) & prof Johann Kirsten (Buro vir Ekonomiese Ondersoek) in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (19 Julie).
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Wandile Sihlobo & Johann Kirsten*
Ons moet die infrastruktuur- en bestuursbeperkings wat landbougroei die afgelope twee dekades verhinder het, die hoof bied.
Die landelike ekonomie moenie agterweë bly in Suid-Afrika se planne vir herstel ná COVID-19 nie. Dit bly 'n belangrike segment van die samelewing en die ekonomie, hoewel 68% van die bevolking nou in stedelike gebiede woon. Benewens sy afhanklikheid van geldsendings en maatskaplike toelaes, word die landelike ekonomie ook geken aan sy afhanklikheid van 'n paar hulpbrongebaseerde kernbedrywe, waaronder die landbou, mynbou, vissery, toerisme en bosbou.
Weens stygende werkloosheid en lae ekonomiese aktiwiteit is beleidvormers op soek na gebiede van groei en werkskepping. In baie landelike gebiede is die landbou en toerisme die enigste bedrywe wat nog die potensiaal het om bestaansmiddele en werk te voorsien. Hoewel dit nog 'n ruk kan duur voordat toerisme weer ten volle tot die ekonomie sal bydra, kan landbou op kort termyn 'n belangrike rol vervul. Dít vereis egter dat ons verskeie infrastruktuur- en bestuursbeperkings die hoof bied wat die afgelope twee dekades landbou-ontwikkeling en -groei verhinder het.
Hierdie beperkings sluit in:
- marktekorte (hoë transaksiekoste, afgeleëndheid);
- regeringstekorte (ondoeltreffendhede, swak dienslewering en korrupsie);
- gemeenskapstekorte (swak plaaslike instellings, gevestigde belange van tradisionele leiers); en
- swak grondbestuur (gebrek aan sekerheid van behoud).
As gevolg van hierdie beperkings word baie landelike gemeenskappe in 'n strik van armoede vasgevang waaruit hulle nie kan loskom nie. Boonop het landelike gebiede minder toegang tot openbare dienste en infrastruktuur as stedelike gebiede, deels weens die hoër eenheidskoste van infrastruktuurbelegging en dienslewering in landelike omgewings. Dit sluit “sagte" infrastruktuur (soos gesondheidsorgsentrums) sowel as “harde" infrastruktuur (soos padnetwerke, spoorvervoer, silo's, besproeiingstelsels, water en elektrisiteit) in en lei tot lae landbouproduktiwiteit en swak markdeelname deur boere.
Wat behoort ons dus anders te doen om hierdie uitdagings die hoof te bied sodat ekonomiese aktiwiteit en werkskepping in landelike gebiede ná COVID kan gedy? Die ANC se komitee oor ekonomiese transformasie en Business for SA (B4SA) het verlede week hulle onderskeie strategiedokumente vir inklusiewe ekonomiese herstel ná Covid-19 vrygestel.
Albei prioritiseer die landbousektor weens sy transformasiepotensiaal. Albei grond ook hulle strategieë op die inhoud van hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat van sowel die regering as die privaat sektor se toewyding aan die groter Suid-Afrikaanse ontwikkelingsagenda getuig.
Die NOP-denke oor hoe om die landbousektor te versterk is reeds sedert 2012 deel van die beleidsdomein. Nogtans is daar die afgelope agt jaar weinig gedoen om die beginsels te implementeer en die nodige koördinering met die privaat sektor te bewerkstellig.
Die gebrek aan implementering van landboustaatsbeleid, en die traagheid om infrastruktuurverwante beperkings die hoof te bied, kan aan die volgende toegeskryf word:
- Swak koördinering en belyning van funksies en prioriteite in verskillende regeringsdepartemente en regeringsfere
- Wanaanwending van die begroting deur sowel die nasionale as provinsiale regerings
- 'n Gebrek aan koördinering tussen die regering en die privaat sektor, wat tot gefragmenteerde en swak beplande transformasieprogramme, aansporings en, in sommige gevalle, visie lei
Dit is tyd vir besliste optrede om die potensiaal van hierdie sektor te ontsluit. Beperkings op toegang tot grond, finansiering, markte en water moet uit die weg geruim word, en veiligheid sowel as provinsiale en plaaslike regerings se dienslewering in ons landelike gebiede moet verbeter.
Dít is 'n uitdaging wat die regering en die privaat sektor gesamentlik moet hanteer. Die regering kan as fasiliteerder en instaatsteller optree deur die volgende te oorweeg:
- Die skrapping van die streng vereistes vir kleiner boere en entrepreneurs in afgeleë landelike gebiede en tradisionele gemeenskappe om staatsinstellings, waaronder hospitale, gevangenisse en skoolvoedingsprogramme, van kos te voorsien. Ons moet die moontlikheid ondersoek van 'n staatsverkrygingsprogram (depots) waar vars produkte van hierdie boere aangekoop, gestoor en na staatsinstellings versprei kan word.
- Die vereenvoudiging van die grondadministrasieproses om titelaktes of huurkontrakte vinniger te registreer en die grondonderverdelingsproses te hervorm om titelaktes vir plaaswerkershuise en grondskenkings aan boere moontlik te maak
- Uitvoering van die regering se hoofondersteuningstaak in die landbousektor, naamlik om alle reëls en regulasies toe te pas en die regering en ander belanghebbendes se pogings te koördineer sodat finansiering, insette, adviesdienste en dies meer betyds gelewer word. Deur te doen wat van hulle verwag word, kan die nasionale én provinsiale regerings alle boere in staat stel om meer doeltreffend tot werkskepping en voedselsekerheid in die sektor by te dra.
Een belangrike element van die regering se rol is 'n behoorlike, gestroomlynde staatsteunstelsel. Goed gekoördineerde en doeltreffende ondersteuningsmaatreëls is noodsaaklik vir die suksesvolle vestiging van nuwe boere en die versekering van volhoubare grondhervorming. Om 'n boerderysaak van nuuts af op die been te bring is moeilik as 'n mens die enorme grond- en kapitaalkoste in ag neem, en sal waarskynlik nie suksesvol wees sonder staatsteun nie.
Om konkrete intervensies akkuraat te verwoord, moet ons die woord “steun" behoorlik verstaan. Dit sluit in adviesdienste, toegang tot seisoensfinansiering, billike en regverdige toegang tot markte en verskaffingskettings, doeltreffende staatsregulering en -bestuur van standaarde, die beskikbaarstelling van boerderyinsette en die voorsiening van infrastruktuur op én weg van die plaas. Steun kan ook verskillende vorme van regeringswaarborge insluit om die voorsiening van landboufinansiering, -infrastruktuur, -insette en -masjinerie teen voorkeurtariewe moontlik te maak.
Sulke subsidies is noodsaaklik vir boere om hulle plase te vestig en te verbeter, en moet behoorlik bestuur word. Dit sal slegs die nodige impak hê indien dit gepaardgaan met die een of ander vorm van aanspreeklikheid, verantwoordelikheid, vaardigheidsontwikkeling en aanvaarding onder begunstigdes. Ons moet ligloop vir die afhanklikheidsindroom en morele gevaar. Daar moet altyd 'n persoonlike onderneming van die begunstigde wees om 'n suksesverhaal te verseker en die geleentheid met staatsteun te benut.
Die omvattende landbousteunprogram toon dat die aankoop en verspreiding van insette en toerusting deur staatsverkrygingskemas dikwels te duur, stadig en burokraties is. Die beginsel van medefinansiering van beleggings en aankope deur die begunstigde is meer behoeftegegrond én in baie gevalle ook vinniger.
Groot kommersiële boere en agrisake kan die landboutransformasieproses ondersteun. Wol- en graanboere in die Oos-Kaap, beesboere in die Vrystaat en suikerboere in Mpumalanga het reeds gewys wat gedoen kan word.
Hoewel die privaat sektor oor die vermoë beskik om transformasie te fasiliteer, word dit deur verdeeldheid gekniehalter. Dit is vreemd dat die sektor steeds met rassegebaseerde boere- en kommoditeitsorganisasies te kampe het. Hierdie fragmentasie moet dringend uit die weg geruim word, want daar is groot potensiaal om op die vele suksesverhale van openbare-privaat vennootskappe (OPV's) voort te bou. Die drie temas wat soos 'n silwerdraad deur hierdie suksesverhale loop, is:
- OPV-gestruktureerde finansiering om ontwikkelingsdoelwitte te help bereik;
- steun vir beter markdeelname sodat landbou sy deel kan doen om 'n meer inklusiewe Suid-Afrika te help skep; en
- vaardigheidsontwikkeling en tegnologieoordrag deur boerderyopleiding, en die ontwikkeling en aanvaarding van gepaste tegnologie in produksie- en hanteringspraktyke.
Die taak van landelike ontwikkeling deur die landbou vereis 'n daadwerklike poging van sowel die regering as die privaat sektor. Die Suid-Afrikaanse landbou het die potensiaal en ruimte om beduidend tot werkskepping en ekonomiese aktiwiteit by te dra en die uitvoervoetspoor van die landbou uit te brei. Hiervoor het ons egter praktiese en beproefde benaderings nodig.
*Wandile Sihlobo is hoofekonoom van die Suid-Afrikaanse landbousakekamer, en Johann Kirsten is professor in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en direkteur van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek.