Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US medeleier van baanbreker TB-navorsing projek
Outeur: Susan Erasmus
Gepubliseer: 21/07/2020

Professor Samantha Sampson, ʼn seniornavorser van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Universiteit Stellenbosch, is een van drie vooraanstaande navorsers wat ʼn toekenning van die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstituut (NIH) ontvang het vir navorsing oor terapieë wat op die uitwissing van tuberkulose gerig is.

Die navorsing sal by drie verskillende persele gedoen word, waarvan twee in Suid-Afrika is, en twee in die VSA. Daar sal ook mede-werkers op die projek wees wat werksaam is by die Universiteit van Zimbabwe.

"Hierdie projek bied 'n uitstekende geleentheid om innoverende en multi-dissiplinêre navorsing te doen met die oog daarop om die enorme openbare gesondheidsprobleem aan te vat wat tuberkulose inhou," het Sampson gesê. "Op 'n meer persoonlik noot het ek dit baie geniet om sedert 2016 met professor Admire Dube [van die Universiteit van die Wes-Kaap] saam te werk, dus is dit 'n riem onder die hart dat daar erkenning gegee is deur die NIH aan die basis en die potensiaal van hierdie navorsing."

Maar, volgens Sampson, is die toekenning die resultaat van 'n spanpoging: “Ek sal ook graag die geleentheid wil gebruik om vir professor Helena Kuivaniemi (ook werksaam in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika) te bedank, wat my met grasie en kundigheid bygestaan het in die skryf van die toekenningsvoorlegging."

TB bly steeds 'n globale openbare gesondheidsprobleem

Tuberkulose hou steeds 'n globale bedreiging in op die vlak van openbare gesondheid, en die Wêreld Gesondheidsorganisasie beraam dat ongeveer 301 000 mense net in Suid-Afrika in 2018 tuberkulose opgedoen het. In dieselfde jaar het ongeveer 63 000 Suid-Afrikaners aan die siekte gesterf – bykans twee-derdes van hulle was MIV-positief. TB is die hoofoorsaak van dood as gevolg van aansteeklike siektes in die land.

Alhoewel bestaande behandeling meestal effektief is, is die voorkoms van middelweerstandige vorms van latente TB en bakteriële hardnekkigheid steeds 'n probleem.

Navorsing oor die uitwissing van alle vorms van TB

Die navorsing waarvoor die NIH hierdie toekenning gegee het, fokus op die gebruik van ontwikkelde nanopartikels om die respons van witbloedselle te moduleer. Hierdie selle se werking word negatief beïnvloed deur die TB-bakterium wanneer die immuunstelsel probeer om hierdie bakteriële infeksie te beveg. Hierdie nanopartikels aap die voorkoms van die bakterieë na, en blyk om die proses aan die gang te kry waarin virulente Mycobacterium tuberculosis doodgemaak word. Navorsers is van mening dat dit dalk effektief mag wees in die uitwissing van alle vorms van tuberkulose, insluitende die vorms wat middelweerstandig en hardnekkig is.

Die toekenning, wat oor 'n vyf-jaar periode strek, is net minder as R30 miljoen werd ($1,632, 268), en die Universiteit Stellenbosch is een van die persele waar die navorsing gedoen sal word.

Hoofnavorsers en medewerkers

Die ander twee ontvangers van die toekenning, wat tesame met Sampson, die hoofnavorsers op hierdie projek sal wees, is professor Admire Dube en professor Joshua Reineke (South Dakota Staats-universiteit in die VSA) en hierdie universiteite sal ook navorsingspersele wees. Dit beteken dat hierdie 'n inter-institusionele projek sal wees.

Mede-werkers op hierdie projek sluit ook die volgende persone in:

  • Dr Nelita du Plessis, senior wetenskaplike, Universiteit Stellenbosch (rol: mede-navorser)
  • Prof Charles Maponga, Universiteit van Zimbabwe (rol: mentor en toesighouer)
  • Me Faithful Makita, PhD-kandidaat, Universiteit van Zimbabwe (rol: in opleiding)
  • Professor Gene Morse, Universiteit van Buffalo (rol: mentor)
Dr Christian Serre, van die Centre National de la Recherche Scientifique (CNRS) in Frankryk, sal die aanvanklike metaal organiese raamwerk verskaf, en sal ook kundigheid deel oor hulle modifikasie en eksperimentele gebruik.

"Ons is baie opgewonde om te begin werk aan hierdie projek," volgens Sampson.


Foto-erkenning: Stefan Els