Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie vra vir verlenging van moratorium op hoogtebeperkings in vervoerbedryf
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 14/07/2020

Baie Suid-Afrikaanse bedrywe, veral die vrugtebedryf, kan groot finansiële verliese ly indien hulle nie meer hul produkte in hoë kubusvraghouers kan vervoer nie indien die moratorium nie verleng word nie. Die regering se aanvanklike sewe jaar lange moratorium (2011–2018 en verleng tot 2019) wat voertuie toelaat om sulke houers te vervoer, het verval. Die moratorium kan moontlike tot Junie 2021 verleng word, maar dit moet nog deur die regering bevestig word.

“Indien die moratorium nie verleng word nie kan die finansiële uitwerking wat daarop volg, 'n verlammende uitwerking op ons ekonomie hê. Baie nasionale en internasionale kliënte sal nie hul produkte ontvang indien dit onwettig word om goedere in hoë kubusvraghouers te vervoer nie," sê Tiffany Adams, 'n oplossingsontleder in Johannesburg. Sy het onlangs haar meestersgraad in logistieke bestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Adams het spesifiek op die vrugtebedryf gefokus en sê 90% van vrugte wat verbou word, word met behulp van verkoelde vraghouers na internasionale markte uitgevoer. “Volgens Vrugte Suid-Afrika, sal die bedryf 'n prysverhoging in vervoerkoste beleef indien die wetgewing nie aangepas word, veral weens die geweldige seisoenale produksie en die vloei van uitvoervolumes."

As deel van haar navorsingstudie het Adams probeer bepaal wat die finansiële en bedryfsuitwerking op die vrugtebedryf sou wees indien die moratorium verstryk en die regulasies wat die beperkings in voertuighoogte reguleer, nie aangepas word om die gebruik van hoë kubusvraghouers op gewone sleepwaens met 'n hoogte van 4,6 meter toe te laat nie.

Sy wys daarop dat Regulasie 224(b) van die Nasionale Padverkeerswet, 1996 (Wet 93 van 1996) bepaal dat die maksimum wettige hoogtebeperking vir voertuie sonder 'n permit vir ʼn abnormale vrag 4,3 meter is.

“Die probleem is egter dat 'n vraghouer met 'n hoogte van 2,9 meter op 'n platbak-sleepwa wat op 'n dekhoogte van 1,6 meter staan, 4,5 meter hoog is en dus die wettige perk van 4,3 meter oorskry.

“Omdat hoë kubusvraghouers wat op gewone sleepwaens vervoer word, die wettige perk oorskry het, is 'n moratorium in 2011 uitgereik om motorvoertuie wat sulke vraghouers vervoer, vry te stel van die voldoening aan die voorwaarde van die regulasie."

Finansiële uitwerking

Adams het gesprekke met verskeie staatsamptename en belanghebbers in die vrugte-, verskepings-, padvervoer- en spoorvervoerbedrywe gevoer en hulle ook gevra om 'n opname oor hul idees en oplossings oor die regulering van hoë kubusvraghouers te voltooi.

Sy sê die meeste respondente het 'n hoogte van tussen 4,3 en 4,6 meter verkies, en het bygevoeg dat hulle bekommerd was oor die finansiële uitwerking op die vrugtebedryf en die land se ekonomie indien die wetgewing op 4,3 meter sou bly.

“Die rede is dat vervoermaatskappye hul sleepwaens sal moet vervang om aan die nuwe wetgewing te voldoen, met een sleepwa wat sowat R300 000 kos. Indien die wetgewing op 4,3 meter sou bly, sal talle laai- en aflaaistasies teen 'n koste van R30 000 per stasie na 1,4 meter verlaag moet word vir toegang tot sleepwaens en vraghouers.

“Die vrugtebedryf sal die las van R27 miljoen moet dra om die vraghouerstasies na die hoogte van 1,4 meter te verlaag. Die vrugtebedryf se produktiwiteit, doeltreffendheid, produkvloei en winsgewendheid sal merkbaar daal."

Adams sê die respondente het ook aangedui dat daar nog geen ongelukke of voorvalle in die vervoer van hoë kubusvraghouers aangeteken is nie.

“Vraghouers het omgeval omdat hulle verkeerd gelaai is of omdat die vrag in die vervoerproses geskuif het. Die hoogte van 4,6 meter word al vir 30 jaar lank in die vervoer van hoë kubusvraghouers gebruik en het nog nooit enige spesifieke bedreiging of risiko vir ander padgebruikers ingehou nie."

Volgens Adams is hoë kubusvraghouers wêreldwyd die norm en baie lande het hul wetgewing aangepas om die vervoer van hierdie vraghouers moontlik te maak.

Tien jaar

Sy vra dat die moratorium vir 'n verdere tien jaar verleng moet word sodat die departement van Vervoer 'n studie oor die veiligheid van die vervoer van hoë kubusvraghouers kan doen, ondersoek na die huidige wetgewing en verrigtinggebaseerde standaarde-ontwerpprojekte (PBS) kan instel en die PBS-beleid kan definieer en implementeer.

“Die verlenging van die moratorium sal in hierdie periode tyd toelaat vir 'n geleidelike infasering van enige nuwe toerusting en infrastruktuur wat aan die PBS-standaarde moet voldoen.

“Dit sal bedrywe in staat stel om vir eers doeltreffend te kan funksioneer en om die nuwe toerusting wat benodig word, geleidelik te bekom om aan die huidige wetgewing te voldoen indien dit sou bly soos dit is nadat die moratorium verstryk het."

Adams sê vervoermaatskappye moet toegelaat word om sleepwaens met ʼn dekhoogte van 1,4 meter te gebruik om aan die hoogte van 4,3 meter te voldoen soos deur die wet bepaal. Permitte vir abnormale vragte moet ook aan hulle uitgereik word totdat hulle hul vloot aangepas het om aan die regulasie te voldoen.

Sy sê die regering moet alle insette van die verskillende bedrywe oorweeg om te bepaal wat die beste roete vir die hele ekonomie sal wees.

  • Foto krediet: Wikimedia Commons

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Tiffany Adams

Unitrans Supply Chain Solutions

E-pos: tiffany0696@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenma@sun.ac.za