Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Korrupsie belemmer groei en ontwikkeling in Afrika
Outeur: Pregala Pillay and Chris Jones
Gepubliseer: 14/07/2020

Die aard, omvang en kompleksiteit van korrupsie is 'n groot uitdaging wat in die weg van inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling in Afrika staan, skryf prof Pregala Pillay (Ekonomiese en Bestuursweteskappe) en dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) in ʼn meningsartikel vir News24 (13 Julie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Pregala Pillay en Chris Jones*

Die Afrika Teen-korrupsiedag, wat jaarliks op 11 Julie herdenk word, wil die stryd teen korrupsie op die vasteland beklemtoon, en is 'n belangrike stap in die strewe na die Afrika wat ons wil hê.

Dit sal glad nie vergesog wees om aan te neem dat ons almal 'n welvarende Afrika, gegrond op inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling, wil hê nie. In hierdie verband dink ons aan Agenda 2063: The Africa We Want, die bloudruk en meesterplan vir Afrika om homself in 'n toekomstige wêreldmag te omskep.

Ongelukkig is die aard, omvang en kompleksiteit van korrupsie 'n groot uitdaging wat in die weg van inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling op ons vasteland staan, soos ons in ons onlangse boek, A Multidimensional Perspective on Corruption in Africa (2019), skryf.

Korrupsie is egter nie 'n unieke Afrika-verskynsel nie, dit kom wêreldwyd voor. Geen vasteland, regering of samelewing is vry van korrupsie nie. Waar daar mense is, is daar ook korrupsie. En tog, te midde van die voorkoms van korrupsie en ongestraftheid, is daar baie lande op ander vastelande wat voortbeur en nog steeds maniere vind om ekonomies, polities, wetenskaplik en maatskaplik te floreer. Hulle kry dit steeds reg om hul beskawings, tegnologieë, wetenskappe en ekonomieë tot voordeel van hul burgers te ontwikkel.

Ongelukkig het Afrika ietwat van 'n uitsondering geword. Hoekom en hoe verskil ons vasteland? En wat moet gedoen word sodat Afrika sy volle potensiaal kan laat bereik?

Sonder om Afrikalande noodwendig met ander lande te vergelyk, dui 'n aantal hoofstukke in ons boek daarop dat die plaag van korrupsie in Afrika endemies is, en dat dit in die aard, uitvoering en etos van sy leierskap gewortel is.

Die kwaadwillige diefstal van openbare hulpbronne in Afrikastate is sonder twyfel 'n simptoom van 'n polities-morele krisis. Wanneer die demokratiese staatstruktuur in Afrikalande noukeurig ondersoek word, lei dit tot die gevolgtrekking dat hoewel die argitektuur van die neo-koloniale toestand in Afrika onvolmaak en gebrekkig is, die werklike struikelblok in die selfdienende, roofsugtige politieke en burokratiese leierskap lê.

Hoewel verskeie Afrikastate in die rigting van demokratiese bestuur beweeg, is dit in baie gevalle bloot in vorm en nie in wese nie. Daar is deur die jare opgemerk dat opeenvolgende politieke leiers die primêre oorsaak van mislukte regering is en dus die vonk vir wydverspreide, endemiese en sistemiese korrupsie is. Soos in soveel Afrikalande gesien word, verontagsaam die presidente en hul makkers die wette.

Een van die belangrike perspektiewe in ons boek – soos spesifiek deur die Ugandese Anglikaanse biskop, Zac Niringiye, aangevoer word – fokus op die samehang tussen korrupsie en kolonialisme en toon dat die nalatenskap van kolonialisme die modus operandi van demokratiese mag in Afrika geword het.

Maar wat bedoel hy hiermee? Sy redenasie is dat koloniale administrateurs (oorspronklik) staatswerktuie ontwerp en gevestig het wat beheer sou verseker – om die gehoorsaamheid van alle mense te verseker en om hulpbronne te ontgin – ten einde vir die bestuur van die land te betaal en ook winsgewend vir die Britse regering te wees.

Hierdie nuutgevestigde lande het onder die beheer van die koloniste hul “eiendom" geword en die inwoners is deur 'n stelsel onderdruk waarvolgens openbare beamptes nie hul mag in openbare belang nie, maar vir eerder vir eie gewin aangewend het, sonder dat die inheemse bevolking enige regte tot die hulpbronne van die land gekry het.

Niringiye versterk sy argument deur na die akademikus Paul Gifford te verwys wat in sy boek, African Christianity: It Public Role in Uganda and other African countries (1999), dit soos volg opsom: “Koloniale administrasies was gesentraliseerd en outoritêr. Net so belangrik is dat die regeerders 'n sin van superioriteit oor die mense onder hulle gemanifesteer het en mag is as iets ervaar wat van bo af kom, eerder as iets van onder af vloei."

Die Ghanese ekonoom en skrywer George Ayittey verduidelik Niringiye se siening baie doeltreffend en deeglik in sy boek, Africa in Chaos (1998): “Ná onafhanklikheid, het nasionalistiese leiers in Afrika nie die outoritêre koloniale staat afgebreek nie. Hulle het dit eerder versterk en daarop uitgebrei. Gevolglik het hulle die mag van die staat misbruik en wangebruik om hul eie selfsugtige doel te bereik. Geleidelik het n 'mafia'-staat ontvou – 'n land wat deur die bloedsuiende elites, bedrieërs en rampokkers gekaap is wat volgens hul eie berugte etiese kode van selfsugtige selfverheffing en self verewiging die mag beheer het. Die regeringinstellings was uitspattig, die land het die persoonlike eiendom van die regerende elites geword en die betekenis van woorde soos 'ontwikkeling' is verdraai."

Volgens Niringiye en Gifford, word saatsmag in baie Afrikalande persoonlik gemaak, eerder as om geïnstitusionaliseer te word. Geen onderskeid word tussen die amp en die persoon wat daardie amp beklee nie, of tussen wat polities, ekonomies of maatskaplik is nie, getref nie in die sin dat die soeke na staatsmag en die soeke na rykdom een en dieselfde is. Staatsmag het die enigste manier geword om rykdom te bekom. Daarom het ons twee diepliggende probleme: 'n “verpersoonlikte" staat, en leiers wat die “persoonlike" staat op sulke maniere verskans het dat hulle slegs perifere of geen belangstelling in die algemene belang meer het nie.

Dit is waarom baie kenners meen die probleem van korrupsie is moreel-eties. Dit weerspieël die manifestasie van 'n fundamentele politieke krisis. Daarom beteken die polities-morele krisis, wat deel uitmaak van én die gevolg van die aard van die neo-patrimoniale staat is, die dood van burgerskap. Omdat gewone mense nie meer ware burgers is nie, maar eerder klante van magtige beskermhere is – wat self kliënte van kragtiger beskermhere is. Dit is die samekoms van die dubbele krisis van 'n roofstaat en leierskap.

Ons glo dit gaan intense selfondersoek, selfrefleksie en selfkritiek van politici oor hul rol in die vestiging van hierdie neo-oorgeërfde state en patronaat-klandisie-politiek verg. Dit is uiters belangrik dat hulle hierdie selfkritiek in diep polities-morele besinning vestig, met die oog op 'n etos om  menswaardigheid te verbeter en vir algemene belang.

Godsdiens kan 'n belangrike rol speel om dit te bereik, maar ongelukkig het baie godsdienstige leiers hulself voorwaardelik aan korrupte politieke leierskap oorgegee, eerder as om die waarheid aan diegene met mag te verkondig, aldus Niringiye.

​Ons haal heel gepas die briljante aanhaling uit Kwame Nkrumah aan: “Ons is Afrikane, nie omdat ons in Afrika gebore is nie, maar omdat Afrika in ons gebore is!"

*Prof Pregala Pillay is visedekaan vir sosiale impak en transformasie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuursweteskappe. Dr Chris Jones is die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap. Hulle was saam met Sunday Bobai Agang mederedakteurs van A Multidimensional Perspective on Corruption in Africa.