Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrikaners moet gesonder wees vir universele gesondheidsorg om te slaag
Outeur: Jane Simmonds, Charles Parry & Melvyn Freeman
Gepubliseer: 13/07/2020

Suid-Afrikaners sal ʼn gesonder leefstyl moet handhaaf vir die Nasionale Gesondheidsversekering om ʼn sukses te wees, skryf Jane Simmonds, dr Charles Parry (beide van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad) en prof Melvyn Freeman (Departement Sielkunde) in ʼn onlangse artikel (7 Julie) vir The Conversation.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Jane Simmonds, Charles Parry en Melvyn Freeman*

Dit is vir geen land – hetsy ryk of arm – maklik om 'n gesonde bevolking te bewerkstellig nie. Een van die benaderings wat die afgelope twee dekades al hoe gewilder geword het, is voorkomende sorg deur die bevordering van gesondheid. Eenvoudig gestel beteken gesondheidsbevordering om mense gesond te hou. Die word veral in ontwikkelende lande as baie nuttig beskou waar daar 'n hoë voorkoms van nieoordraagbare siektes, 'n gebrek aan hulpbronne is om siektes te behandel en dit dikwels baie duurder is om siek mense te behandel as wat programme om mense gesond te hou, is.

Die benadering van gesondheidsbevordering fokus op twee gebiede. Een is die voorkoming van siektes deur aktiwiteite soos gesondheidsopvoedingboodskappe, sifting en toetsing vir toestande. Die ander een is deur aandrywers hoër op in die ketting en oorsake van swak gesondheid aan te spreek. Dit sluit maatskaplike en ekonomiese faktore soos armoede en werkloosheid in, asook rook, oormatige gebruik van alkohol, te min oefening, swak dieet, slegte lewensomstandighede, geslagsgebaseerde geweld en geestesiektes.

Die gesondheidsbevorderingbenadering is daarop gemik om mense se gedrag en keuse te verander. Maar dit is nie genoeg om net vir iemand te sê hoe om gesond te leef nie; mense het ondersteuning en sosiale strukture nodig om gesonde keuses te bevorder, vol te hou en te handhaaf.

'n Hele aantal lande het sukses behaal met die toepassing van hierdie benadering deur die gebruik van stigtings wat op die bevordering van gesondheid fokus. Thai Health is een voorbeeld. Soortgelyke stigtings is ook in Switserland, Oostenryk, die Filippyne en Maleisië gevestig.

Ons voer in 'n onlangse verslag aan dat Suid-Afrika ook 'n stigting vir die bevordering en ontwikkeling van gesondheid benodig indien die land wil hê sy voorgestelde universele gesondheidsorgprogram, die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), moet slaag.

Die NGV sal noodsaaklike gesondheidsorg aan Suid-Afrikaners (en wettige langtermyn-landsbewoners) verskaf, ongeag of hulle tot die HGV bydra of nie.

Maar Suid-Afrika het met die hoë voorkoms van siektes, veral nieoordraagbare siektes soos diabetes, hoë bloeddruk, kanker en vetsug, te kampe. Baie nieoordraagbare siektes kan voorkom word. Die NGV sal waarskynlik sukkel om die groot aantal siek mense te behandel, maar baie van hierdie behandeling kan voorkom word deur die bevordering van gesondheid en die vermindering van siektes.

In ons verslag verskaf ons 'n uiteensetting oor hoe hierdie radikale verandering in benadering bewerkstellig kan word en hoekom gesondheidsbevordering 'n doeltreffende manier kan wees om die beperkte geld aan te wend.

Leef gesonder

Nieoordraagbare siektes, waarvan baie voorkom kan word, het 'n beduidende uitwerking op Suid-Afrikaners se gesondheid en die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel.

Die toename in die risikofaktore vir nieoordraagbare siektes sal waarskynlik tot 'n styging in die koste van gesondheidsorg lei.

Die openbare gesondheidsektor het byvoorbeeld in 2018 na raming R2,7 miljard ($198 miljoen) op pasiënte wat met diabetes gediagnoseer is, gespandeer. Die skattings het tot R21,8 miljard gestyg toe ongediagnoseerde pasiënte ook ingesluit is. Die totale koste verbonde aan diabetes sal waarskynlik teen 2030 tot R35,1 miljard ($2,5 miljard) styg.

Nog 'n algemene toestand, hoë bloeddruk, is 'n belangrike risikofaktor vir hartsiektes en chroniese nierkwale. Dit kom dikwels saam met diabetes voor. In Suid-Afrika het 46% van die land se vroue en 44% oor 15 in 2016 aan hoë bloeddruk gely. Dit is omtrent dubbeld die wêreldgemiddeld en het sedert 1998 feitlik verdubbel.

Die Suid-Afrikaanse Demografiese en Gesondheidsopname van 2016 dui die hoë voorkoms van vetsug, wat gesondheid- en koste-implikasies het. Een-en-veertig persent van alle vroue ly aan vetsug – 'n toestand wat die koste van gesondheidsorg met 11% verhoog.

Wat gedoen moet word

Gesondheidsgedrag in Suid-Afrika moet 'n denkskuif van “wag om siek te word en kry dan toegang tot gesondheidsorg" maak na voorkoming van siekte en 'n gesonde leefstyl.

Om dit aan te moedig, stel ons die vestiging van 'n multisektorale Nasionale Gesondheidskommissie of 'n onafhanklike stigting ter bevordering van gesondheid voor wat direk aan die NGV gekoppel is. Verskeie staatsdepartemente, burgerlike verenigings, akademici en navorsers moet daarby betrek word.

Programme om gesondheid te bevorder, moet op meer as gesondheidskennis gegrond word. Individue kan byvoorbeeld nie goeie handhigiëne beoefen as daar nie water beskikbaar is nie, of hulle kan nie gesonde voedsel eet as dit nie bekostigbaar is nie. Suid-Afrika se eiesoortige werklikhede en behoeftes, insluitende armoede en die gepaardgaande uitwerking op gedrag en gesondheidsgevolge, moet in ag geneem word. Dit is hoekom samewerking tussen staatsdepartemente en belanghebbers nodig is.

Ons weet nie presies hoe groot die verligting van die las wat deur veroorsaak nieoordraagbare siektes veroorsaak word, sal wees indien risikofaktore aangepas word nie. Maar volgens 'n skatting deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is 80% van alle hartsiektes, beroerte en tipe 2-diabetes mellitus en meer as 40% van kanker voorkombaar deur multisektorale aksiestappe.

Sommige van die veranderinge wat 'n verandering aan gesondheid kan maak, is redelik indirek. Dit is byvoorbeeld nie veilig om in die straat te oefen nie, dus benodig gemeenskappe aktiewer en sigbaarder polisiëring en toeganklik openbare ruimtes sonder verkeer en ander mededingende aktiwiteite om meer oefening 'n realistiese moontlikheid te maak. Gesonde kos moet gesubsidieer word en meer vryelik beskikbaar wees, en plekke wat alkohol en tabak verkoop, moet voorgeskrewe afstande van skole af geleë wees.

Presies hoeveel geld is nodig om gesondheid te bevorder? Kenners op die gebied van gesondheidsbevordering vra dat 2% van die NGV spesifiek aan die bevordering van gesondheid en siektevoorkoming gewy word.

Die WHO se wêreldwye sakeplan vir nieoordraagbare siektes toon dat indien lande met 'n lae en lae-tot-middel-inkomste die mees kostedoeltreffende intervensies in werking stel, hulle teen 2030 'n opbrengs van $7 per persoon vir elke dollar wat belê is, sal sien. Dit is beslis 'n rede om meer geld aan gesondheidsbevordering in Suid-Afrika te bestee. Ons kan nie bekostig om langer te wag nie.

*Jane Simmonds werk saam met die Navorsingseenheid vir Alkohol-, Tabak- en ander Dwelms by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad; Charles Parry is die direkteur van die Navorsingseenheid vir Alkohol-, Tabak- en ander Dwelms by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad; en Melvyn Freeman is 'n buitengewone professor by die Universiteit Stellenbosch.