Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers ontvang gesogte internasionale studiebeurs
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 13/07/2020

Twee navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs gekies om deel te wees van die gesogte Radcliff-instituut vir Gevorderde Studies-genootskap by die Harvard-universiteit in die Verenigde State (VSA).

Dr Debra Shepherd, 'n dosent in die departement Ekonomie, en prof Pumla Gobodo-Madikizela, die houer van die navorsingsleerstoel in Sosiale Verandering en Transformasie aan die US, sal deel wees van 42 genote uit ses lande wat by die 2020–2021-groep ingesluit is.  

Die Radcliffe is die Harvard-university se instituut vir gevorderde studie se beroemde genootskapprogram speel elke jaar gasheer vir van die wêreld se voorste vakkundiges, wetenskaplikes, kunstenaars en praktisyns. Hulle het vanjaar nagenoeg 1 400 aansoeke vir die studiebeurs ontvang.

Volgens Shepherd voel sy “ongelooflik gelukkig" om hierdie geleentheid by Harvard gegun te word. “Ek glo hierdie studiebeurs sal aan my nog 'n lens verskaf waardeur ek met uiteenlopende kennisgemeenskappe kan skakel en ook op die netwerk van my departement en die US kan voortbou en uitbrei," sê Shepard.

Dit sal Madikizela se tweede keer as genoot by Harvard wees. Terwyl sy in die laat negentigerjare haar PhD aan die Universiteit Kaapstad gewerk het, het sy 'n jaar by Harvard-universiteit se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe spandeer as deel van 'n dissertasieskryf-studiebeurs. Nadat sy genooi is om by die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) aan te sluit en sy as hoof van die Menseregteskendingskomitee van die WVK in die Wes-Kaap aangestel is, moes sy haar PhD-studies opskort.

“Nadat ek die WVK in April 1998 verlaat het, het ek na Harvard-universiteit teruggekeer om 'n genootskap by die Radcliffe-instituut te aanvaar, waar ek my doktorale dissertasie voltooi het. Ek het ná voltooiing van my PhD vir nog vier jaar by Harvard aangebly, waar ek deeltyds klasgegee het by Radcliffe en ander kolleges op Cambridge. My tyd by Harvard was die produktiefste tydperk in my akademiese loopbaan. Hierdie studiebeurs is 'n belangrike geleentheid om my idees binne die konteks van 'n internasionale groep vakkundiges wat leiers op verskillende gebied is, te toets," sê Madikizela.

Shepherd is ook die houer van 'n Iso Lomso Vroeë Loopbaan Afrika-navorsingstudiebeurs (2018–2020) by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) en sê sy kan nie wag om haar navorsing met haar medenavorsers te deel nie.

“Radcliffe verwys na dit self as 'n as ''n laboratorium van idees wat oor verskillende dissiplines strek', so ek is opgewonde om te sien hoe ander akademici die grense van hul eie vakgebiede oorsteek. Ek sien ook uit na die geleentheid om nie net 'n ambassadeur vir die Universiteit Stellenbosch te wees nie, maar ook vir Afrika en die Globale Suide."

Vir eers beplan Radcliffe 'n virtuele genootskap, met die moontlikheid van 'n inwonende komponent later, afhangende van die besluite wat universiteitsleiers vir die hele Harvard neem na aanleiding van epidemiologiese modelle oor die verspreiding van COVID-19 in die VSA.

Vir verdere inligting oor die Radcliffe-studiebeurs, klik hier. ​